Skip to main content

Jy het seker al gehoor dat iemand ‘n pak piesangs oopmaak, en skielik steek daar ‘n lelike, agressiewe ding kop uit.

Daardie lelike ding het ‘n naam: die Brasiliaanse dwaalspinnekop, oftewel piesangspinnekop vanweë sy neiging om tussen piesangvingers skuiling te soek.

Hierdie onooglike agtpotige ondier is een van die giftigste spinnekoppe te wêreld, en boonop lelik ook. Twee ellelange tand-agtige strukture is sigbaar langs die mannetjies se bekke.

Sy gif is vinnigwerkend, en mense kan na ‘n byt deur só ‘n spinnekop duiseligheid, intense pyn, naarheid, hartkloppings, hoë of lae bloeddruk, kwaai swelling óm die bytplek, erge sweet of hipotermie, maagkrampe, stuiptrekkings, versteurde visie en selfs verlamming ervaar. Indien ‘n slagoffer nie vinnig behandeling ontvang nie, kan hy/sy sterf.

Sommige mans sal ook ‘n ereksie kry na só ‘n spinnekop se byt, wat vir ‘n paar ure sal duur.

Die (ander) goeie nuus omtrent hierdie spinnekoppe is dat hulle nie sommer in ons land aangetref sal word nie, maar wees eerder versigtig wanneer jy volgende keer ‘n pak ingevoerde piesangs oopmaak…

Leave a Reply