Skip to main content

Die vyfmalige wenner Novak Djokovic het sy plek onder die laaste vier van die ATP-eindstryd gewaarborg ná ‘n indrukwekkende oorwinning teen die Russiese mededinger Andrey Rublev in hul rondomtalie-wedstryd gister.

Nadat hy Stefanos Tsitsipas Maandag in sy openingswedstryd van die seisoenale eindtoernooi in Turyn geklop het, het Djokovic nog ‘n maklike oorwinning behaal met ‘n sege van 6-4 6-1 teen Rublev in ‘n wedstryd wat 68 minute geduur het.

Djokovic het sterk geëindig teen ‘n teenstander wat sy openingswedstryd teen sy landgenoot Daniil Medvedef gewen het in ‘n titaniese driestelstryd vroeër die week.

“Ek het baie, baie goed gespeel. Een van die beste wedstryde van die jaar, sonder twyfel,” het Djokovic gesê nadat hy sy gelykop-rekord teen Rublev tot 2-1 verbeter het.

“Hy is ’n taai teenstander. ‘n Groot mededinger. Hy beskik oor baie sterk punte in sy spel. Ek het daarin geslaag om die regte houding en die regte spel te vind.”

Rublev het nie daarin geslaag om ‘n enkele breekpunt teen Djokovic op die harde bane van die Pala Alpitour te maak nie, terwyl die Serwiër drie van die vier breekgeleenthede wat hy verdien het, in sy eie guns gedraai het.

Djokovic (35) het die gesogte ATP-eindstryd vyf keer tevore gewen – maar die laaste van daardie titels was in 2015.

Die Serwiër jaag Roger Federer se algehele rekord van ses oorwinnings by dié toernooi.

Intussen mik die 25-jarige Rublev steeds om die halfeindronde in Turyn te haal, wat ‘n eerste verskyning in die uitklopfase van die ATP-eindstryd by die derde poging sou wees.

Rublev speel Vrydag teen die Griekse mededinger Tsitsipas in hul laaste ‘Rooi Groep’ rondomtalie-wedstryd, wanneer die reeds gekwalifiseerde Djokovic Rusland se Medvedef sal pak.

Leave a Reply

error: Content is protected !!