Skip to main content

Sonnette Lombaard

Internasionale politiek het oornag opnuut warm geword nadat die Amerikaanse oudpresident Donald Trump sy veldtog om weer die Withuis te betrek, amptelik en oudergewoonte bekkig-vurig afgeskop het.

Diė omstrede politikus het gister soos te wagte sy kandidatuur vir die presidentsverkiesing in 2024 aangekondig. Trump (76) is in 2016 as president gekies terwyl konserwatiewe sentimente wêreldwyd begin inwaai het en ‘n tyd van ingrypende verandering ingelui het. Hy moes egter die Withuis in wolke van omstredenheid verlaat ná net een onstuimige termyn in die presidentstoel. Sy beweringe dat die presidentsverkiesing in 2020 deur die Demokratiese Party bekook is, het tot dusver misluk.

Die flambojante Trump se vroeë aankondiging vir die presidentstryd oor twee jaar volg kort op die hakke van laas week se middeltermynverkiesings in die VSA om die Amerikaanse Kongres vir die volgende vier jaar te kies. Die Republikeinse Party het daarin onderpresteer en kon nie daarin slaag om die Demokrate in die belangrike Senaat-stryd te troef nie. Die Demokratiese Party het die Kongres se opperhuis naelskraap ingepalm. Die Republikeine is egter wel reeds op die punt om die laer Huis van Verteenwoordiging terug te wen waar hulle tans 217 setels het teenoor die 207 van die Dems. Hoewel stemme steeds getel word, kort die Republikeine nog net een setel om die meerderheid in dié huis amptelik te beklink.

‘n Opdraande stryd wag vir Trump in sy opmars na Pennsylvanialaan 1600 in Washington, DC, want nie net kan hy sterk teenstand van die Demokrate en liberale landgenote verwag nie, maar ook vanuit sy eie party en selfs binnekringe. Hy word al meer beskou as ‘n leier wat nie net die Republikeinse Party en sy ondersteuners verwar nie, maar ook eindelik ook sy landgenote verdeel.

Dit was opvallend dat Trump se aankondiging gister louwarm in die Republikeinse Party ontvang is. Boonop het sy ondersteuners in die party wat in die middeltermynverkiesings gestaan het, swak gevaar en meestal verloor.

Trump het tydens sy aankondiging weer gefokus op sy nou bekende frase van “I’ll make America great again”. Hy het die Demokrate onder leiding van pres. Joe Biden die skuld gegee dat Amerikaaanse stede in ‘n misdaadnes verval het en beloof om die Amerikaanse ekonomie reg te ruk.

Indien Trump wel die laaste lag en in 2024 weer sy volk en die Westerse wêreld kan lei, sal hy die eerste Yankpresident in honderd jaar wees om die Withuis vir twee termyne, wat nie agtereenvolgend is nie, te betrek.

Leave a Reply