Natuurlik was ons almal opgewonde toe ons ‘n paar maande gelede verneem het Louis Liebenberg se Forever Diamonds and Gold het die mynregtebestuur op 144 000 hektaar se grond in Namakwaland oorgeneem. Maar mens het geen benul hoe ‘n geweldige stuk aarde 144 000 hektaar is en hoe ‘n ontsagwekkende taak dit is om 24 myne daarop te bedryf nie, skryf Dirk Lotriet.
Stof. Dis die eerste en heel grootste gewaarwording as jy die dorre, byna verlate Namakwaland vir twee dae deurkruis en nie die helfte van Louis Liebenberg se mynboubedrywighede onder oë kry nie. Dis lang ente op grondpaaie in ‘n bakkie. Van die een plek met ‘n skilderagtige naam na die volgende. Buffelsbank. Langhoogte. Nuttaboy. Kleinzee…
En die wit woestynstof kom oral in. Maar daar’s ‘n ander soort stof wat selfs swaarder op ‘n besoeker aan hierdie ongenaakbare wêreld weeg – die stof tot nadenke.
Namakwaland is diamantwêreld en met die oorname by die legendariese De Beers Namakwaland het Liebenberg die grootste rolspeler in die streek geword.
Dit het alles by Buffelsbank, ‘n entjie buite Springbok begin. Dit was Liebenberg se eerste van die 24 myne. Buffelsbank is ‘n diamantryke stuk aarde waar Liebenberg mynregte op 146 ha het. Die grootste diamant wat nog ooit hier gekry is, het die skaal op 42 karaat laat kreun, maar daar is al heelparty dertien- en vyftienkaraters gekry.
“Kyk waar daardie twee manne die bolaag met die stofsuier van die gruisryke rif verwyder. Dis waar ons ‘n paar weke gelede ‘n knewel van 9,5 karaat gekry het,” sê Buks Potgieter, die man aan die spits van Liebenberg se Namakwalandse bedrywighede.
Die gewoel lyk nie na veel nie. Totdat jy om die draai ry, waar tamaaie bandgevoerde sorteermasjiene kort mette maak van tonne gruis voordat ‘n diamantontgunningsmasjien met behulp van elektroniese oë en x-strale die diamante finaal van die gruis skei sonder dat ‘n mensehand daaraan raak.
Die mynopset werk twintig uur per dag en verwerk 1 500 ton gruis in daardie tyd voordat dit die diamante in ‘n voorafverseëlde kluis spoeg. Byna geen diamant ontglip die toestel se elektroniese blik nie – dit spog met ‘n akkuraatheid van meer as 95%.
Eers as jy verder begin kyk, kom jy agter die personeel op Buffelsbank is uit die plaaslike gemeenskappe aangestel – ‘n tema wat hom gedurig herhaal hoe meer jy met Liebenberg se mynboubedrywighede te doen kry.
Soos by Nuttaboy waar sowat 2 500 bestaanmyners in haglike en lewensgevaarlike toestande delf om kos op hulle gesinne se tafels te sit. Baie van die delwers kom uit ander provinsies of selfs ander lande, maar heelparty van hulle is mense uit Namakwaland wat deur nood na die delwerye gedwing word.
In die verlede is die bestaansdelwers dikwels onderdruk, vervolg en daar is selfs deur sekuriteitsmaatskappye op hulle geskiet, maar Liebenberg het ‘n ander aanslag.
Sy beleid, dat die minerale regte van die grond aan die land se mense moet behoort en dat veral diamantregulasies onmenslik is, is welbekend. Namakwaland is ‘n ryk streek, maar die feit dat die minerale rykdom van die area deur ‘n handjievol mense beheer word, veroorsaak dat werkloosheid hemelhoog is en die oorgrote meerderheid van die mense in die gebied in armoede leef.
Woensdag het hy in ‘n toespraak aan die myners gesê dat hy in ‘n vennootskap met die delwers wil gaan. Sy voorstel was dat groot masjienerie in belang van die delwers ingebring word om die diamantdraende gruis oop te maak, dat die bestaansdelwery wettig gemaak word om botsings met die gereg ten einde te bring en dat na hulle veiligheid omgesien word.
“Ons wil nie geld op Nuttaboy maak nie, net ons onkoste dek. Die wins sal alles aan julle gaan,” het hy gesê.
“Ons moet gaan sit en die reëls onderhandel,” het hy gesê. “Hierdie is nie ‘n geval van ons wat vir julle sê wat julle moet doen soos wat so dikwels in die verlede gebeur het nie.”
Donderdag het hy in ‘n onderhoud met Brunhild Strauss van Namakwa FM sy olyftak nog verder na die gemeenskap uitgesteek. Hy soek ‘n vennootskap tussen die wat het – die mense met die groot, geel masjienerie – en die wat nie het nie, het hy verduidelik.
“ ‘n Delwer het baie risiko’s, maar dan word hy nie eers beskerm nie. Ons moet hande vat as vennote en die wêreld wys ons kan ‘n gemeenskapprojek laat werk.”
Die benadering om innoverend te dink, wys ook duidelik in die manier waarop die maatskappy sy mynbou aanpak.
“In die binneland is die diamante groot. Die diamante hier aan die kus is weliswaar kleiner, maar dit is meer volop. En 99% van hulle is juweelkwaliteit,” sê Potgieter.
Nader aan die see is die diamante ook vlakker, en dit verg dus minder arbeid om dit te ontgun, voeg hy by.
En dit is hier waar nuwe moontlikhede ontsluit word. Die sand wat op die diamantgruisvlak lê, is propvol swaar minerale soos zirkon, yster, granate en titanium. Die swaar minerale in die bolaag is selfs waardevoller as diamante en die ontgunning daarvan kan die stroping van die bolaag tot op die gruislaag subsidieër.
Intussen lyk dit of Namakwalanders vir Liebenberg aangegryp het as ‘n redder.
“Daar is deesdae slegte berigte oor hom, maar ons glo nie alles wat ons lees nie,” vertel ‘n winkeleienaar in Kommagas. “Hy skep werk, hy verbeter mense se lewens.”