Skip to main content

George April

Bewoners op ‘n plaas van ‘n sakeman van Hopefield beweer hy ignoreer ‘n hofbevel dat hy hulle water- en kragtoevoer moet aansit.

Christina Ntintelo en haar gesin van sewe woon op Schaafplaas van Francois Turner, ‘n sakeman wat landbou-implimente vervaardig. Turner het die water- en kragtoevoer na die gesin se huis op 4 November 2020 afgesny.   “Danksy eienaars van buurplase, het ons darem  water om te oorleef,” het Christina vertel.

“Toe Turner die plaas gekoop het, het ek en my gesin al 15 jaar op die plaas gewoon. Maar nadat ons amper ses jaar vir hom gewerk het,  besluit hy dat hy ons nie meer nodig het nie. Toe begin hy ons treiter, dat ons moet  %$#^%# van sy plaas af.

“Hy  het ons water- en kragtoevoer afgesny. Hy het ook verskeie sake teen my gesin gemaak, asook ‘n beskermingsbevel teen my dogter verkry. Hy het selfs hofbevele gekry om ons te laat uitsit. Ons is deesdae meer in die hof as by die huis, en Turner treiter ons behoorlik”.

Donderdag 3 November is ‘n hofbevel in die Hopefield Hof uitgereik dat Turner die water- en kragtoevoer moet aansit.  Na bewering weier Turner egter, en ignoreer selfs die polisie se versoeke dat hy die aansluitings moet doen.

Die polisie het Dinsdag saam met Christine en vroue wat haar ondersteun, die nodige dokumente by die hof gekry.  Danie Du Preez, ‘n sersant by Hopefield polisie, het in Die Waarheid se teenwoordigheid belowe dat hy so gou moontlik die proses sal laat afhandel.

Die moontlikheid dat Turner weer voor die hof gedaag sal word om aansluiting te doen, is egter nie uitgesluit nie.

Johan van der Merwe, Christine se prokureur, het Dinsdag in ‘n WhatsApp boodskap vir Christine die volgende laat weet: As Turner nie dié week antwoord oor die aansluiting nie, sal hy volgende week begin werk om die  water- en kragaansluiting af te dwing.

In nog ‘n boodskap het Van der Merwe vir Christine laat weet dat daar nog nie ‘n uitsetting is nie, maar net ‘n aansoek vir ‘n uitsetting. Volgens Van der Merwe wag hy nog om van die hof te hoor oor die uitsettingsaansoek.

By navraag het Turner se vrou, Wilmary, gesê: “Dis nie so eenvoudig (soos blote aansluiting) nie, daar moet nou aansluitingsarbeid gedoen word, en hulle wag vir kwotasies van mense.”

Leave a Reply