Skip to main content

Sonja Brown

Die mense in ons bussie raak stil wanneer ons die sandpad, wat soos iewers tussen niks en nêrens voel, aandurf.
Dit is die aanloop tot wat mense as ‘n ‘onwettige miernes van ewe onwettige myners’ beskryf; Nuttaboy-myn, ongeveer 70km suidoos van Port Nolloth.
Dit is opvallend hoe vuil die plek is. Rommel lê oral rond, en so ver as die oog kan sien, lê plastiese sakke wat deur die wind aangedryf is. ‘n Eensame, brandmaer donkie snuffel tussen die rommel op soek na iets om te eet.
Dan draai ons regs en die bussiegangers snak na hul asems. Informele huisies, sommige net stokke wat in die bar grond gesteek is, met stukke plastiek vir beskerming teen die natuur se elemente is oral opgerig. Meestal staan hulle teen mekaar, maar hier en daar is daar ‘n huis wat ver van die ander opgerig is. Die uiterste armoede wat oop en bloot lê vir almal om te sien, is skokkend, tartend. Die geveg om oorlewing hier is tasbaar.
Die inwoners wat tuis is sit eers versteen, en wanneer hulle die konvooi van ses voertuie opmerk, spat sommige van hulle in alle rigtings, onseker oor wie op hulle toesak. Dié wat versteen staan met neergeslane oë is duidelik verlig dat ons net verbyry.
Nuttaboy-myn is die plek wat al die meeste ‘onwettige delwers’ ingesluk het. Dit is onduidelik hoeveel delwers vanjaar deur die woestynagtige grond toegeval is, want daar is geen rekord van wié daar delf, en waar hulle vandaan kom nie.

Dìt is wat Louis Liebenberg wil verander. Hy wil die ‘onwettige myners’ wettig laat myn. Hulle laat aanteken sodat hy kan weet wie is daar – al kom hulle van ander lande af – in geval daar weer ‘n ramp is. Hy wil water voorsien, want daar is niks van die lewensgewende vog in daardie area nie. Die bietjie wat daar is word ten duurste privaat aangery, en soos goud opgepas.
Die sandpad kronkel tussen duine deur en plek-plek kan ons verlate delwersgate in die grond sien. Dan hou ons stil, klim uit en beweeg na ‘n groot groep delwers wat stywenek staan, gereed om te hardloop as hulle moet.

Links van my is ‘n diep gat. Ek kan nie die myner sien nie, maar ek hoor sy onophoudelike gekap op soek na ‘n blink klippie; iets wat die verskil tussen hongersnood en oorlewing beteken. Die houtpaal wat oor die gat lê is ‘n duidelike bewys dat die gat in gebruik is. Hy sal later deur sy mede-delwers bogronds gehelp word.
‘n Man wat weet wat tussen die delwers aangaan vertel dat hulle mekaar sonder skroom sal vermoor as hulle voel dat iemand in hul geledere hulle indoen. Óf as daar sprake is van ‘n ‘groot klip’ wat in iemand se besit is. Hond-eet-hond-wêreld dié…

3 Comments

  • Isabel Steynberg says:

    Julle verrig wondere daar in Namakwaland. So dankbaar dat ek ook deel van FDG kan wees.

  • Klaas WentzeL says:

    Amazing alles wat jy reg kry Louis – ek bewonder jou rerig !!

  • Neels says:

    Dankie Louis vir wat jy doen vir ons en andere.
    20 jaar terug toe ek jou die errste keer ontmoet het, het ek nooit gedink jy sou do suksesvol wees nie, vernaam na Modder B. Geweet dat God n plan met jou het.
    God seën jou.

Leave a Reply