Skip to main content

Hy glo in egtheid

Muller Brandt het die land in rep en roer met sy treffers soos “Te Jonk” en “Moedertaal”. Sy musiek is “eg” en hy glo daaraan om net homself te wees. Gerald Eloff het met hom gaan gesels oor sy patriotisme, sy liefde vir die plaas en die waarde van eerlike vriende.

Vanwaar die titel “Brand die Skepe” van jou debuutalbum?

Ek het dit die titel gemaak, want dis soort van my storie. Ek kon my album maak, omdat ek my skepe gebrand het. My skip het “vrees” gesimboliseer. Dis maar my verhaal – hoeveel skepe ek moes brand om my droom te volg, om ʼn voltydse musiekloopbaan te hê.

Maak die groot stad jou soms ongemaklik of bang as plaasjapie?

Alhoewel ek ʼn plaasjapie is, bly ek in die stad. Ek het wel grootgeword op ʼn plaas. Ek sal nie die woord “ongemaklik” gebruik nie, ek is gemaklik waar ek ook al gaan. Ek is wel ongemaklik tussen moeilike mense (of mense wat onnodig moeilik is). As ek ʼn keuse gehad het, sou ek wel op die plaas bly. In dié tyd waarin ons leef, is dit moeilik om alles te los en net terug platteland toe te trek.

Jy sê in ʼn ander artikel dat jou pa ’n groot Countrymusiek-aanhanger is – hoe inkorporeer jy dit in jou musiek?

Vir seker! Ek dink my styl is nie noodwendig Country nie, maar jy sal in baie van die liedjies ʼn onderliggende Country-gevoel kry.

Daar is ’n swetterjoel Afrikaanse musikante in Suid-Afrika – wat doen jy, as sanger, om jou musiek te laat uitstaan?

Ek dink wat my anders maak, is die feit dat ek net myself is. Ek probeer om nie soos ander kunstenaars te klink nie, en ek probeer ook nie om ʼn sekere profiel van myself te skep voor ek nie my produk daar buite sit nie. Dit gee my die vryheid om verskillende temas te ondersoek. Op my albums sal jy hoor daar is “dieper” songs en daar is ook ligter songs. Ek glo in egtheid – in my liedjies en in myself. Ek skryf oor waardeur ek gaan in ʼn spesifieke seisoen in my lewe. Ek voel dat dit my live shows ook anders maak – mense kry ʼn smakie van wie ek regtig is.

Baie groepe werk deesdae saam met produkreekse (soos byvoorbeeld Wildebeest) – hoe baat jy daardeur as musikant?

Vir my gaan dit om saam met iemand te werk, of iets, waaraan ek self glo. Dit voel dikwels vir my of baie van die influencers bloot verkoopsmense is op hulle sosialemediaprofiele van verskeie produkte en goed. Ek wil glad nie so wees nie. Wildebeest en Tau Leather (wat voorheen Filly Leather was), is besighede wie se eienaars ek baie goed ken. Ek glo in hulle visie – hulle doen besigheid vir iets groter as hulself. Dit gaan nie net oor verkope en wins vir hulle nie. Hulle het ook in my geglo en daarom sal ek my platvorm gebruik om mense bewus te maak van hulle produkte, en sodanig sal ek in hulle ook belê.

Waar kry jy jou inspirasie vir jou lirieke?

My inspirasie kom uit persoonlike ervaring – nadat ek saam met ʼn ander Afrikaanse organisasie gewerk het, het ek gesien hoe belangrik dit is om pro-aktief vir ons taal te baklei en om dit lewendig te hou. Die liedjie “Net te jonk”, is vir my ma geskryf, sy is verlede jaar oorlede op die ouderdom van 53. Ek dink die titel sê alles. Die manier hoe ek skryf … Ek skuif agter die klavier in, en dan begin ek net speel. Dan begin die prentjie in my kop vorm van waarheen ek wil gaan met die liedjie – dan eers gaan ek na die swartbord toe en werk aan die lirieke.

Sien jy jou musiek as patrioties van aard? Met verwysing na die snit Moedertaal?

As ʼn mens sou kyk na die definisie van patriot, is dit iemand wat sy vaderland liefhet. As ʼn mens sou kyk na my musiek en lirieke, sal ek sê dis definitief patrioties. Die musiek reflekteer van iemand wat sy vaderland liefhet. Ek glo wel daar is ʼn fyn lyn tussen politiese lirieke en patriotiese lirieke – ek wil nie oor politiek skryf nie. Die feit dat ek vir Afrikaans staan, beteken nie ek is teen ander tale nie. Ek maak dit altyd baie duidelik by my vertonings om verwagtinge by die gehoor te bestuur, deur om die volgende voorbeeld te gebruik: As ek van appels hou, beteken dit nie ek is teen nartjies nie!

Hoe hou jy jou musiek oorspronklik in ’n bedryf waar baie Afrikaanse musiek eenders klink?

Ek dink om my musiek oorspronklik te hou, is om eerlike vriende te hê. Vriende sal vir my se as ek soos iemand anders begin klink, of as dit nie by my pas nie. Hulle sal vir my sê indien iemand anders dalk eerder die liedjie moet sing. Eerlike vriende is vir my baie kosbaar.

Leave a Reply