‘n Limpopo sakeman, Robin William Southon (43) is gisteroggend gearresteer vir tenderbedrog van R1,9 miljoen.
Daar word beweer dat Southon ‘n persoon wat ook ‘n sakeman in die Polokwane-omgewing is, genader het en homself as een van die senior amptenare by Atok-myn geïdentifiseer het. Daar word verder beweer dat die beskuldigde ‘n sakevennootskap voorgestel het en belowe het om ‘n tender ter waarde van R11 miljoen by die myn aan hom toe te ken. Die tender was vir die installering van nuwe pype en die boor van nuwe boorgate vir die gemeenskap.
Die slagoffer is versoek om R1,9 miljoen te betaal om ’n tender te kry. Die geld is glo aan die beskuldigde betaal maar geen tender is toegestaan nie. ‘n Saak is geopen met die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaadondersoekspan en daar is ontdek dat die beskuldigde nie in diens van die myn was nie.
Na ‘n suksesvolle ondersoek is ‘n lasbrief vir arrestasie teen die beskuldigde gemagtig. Die beskuldigde het sedertdien in die Polokwane Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof verskyn en hy is borgtog van R10 000-00 toegestaan. Sy saak is tot 23 Februarie 2023 uitgestel.