Skip to main content

Rooi golf afgeweer; dui op terugkeer na ‘normaliteit ná Trump-trieks’

Die Demokrate het in die kern middeltermynverkiesings in die VSA die aanslag vanuit die Republikeinse hoek suksesvol afgeweer en teen die verwagting in, die belangrike Senaat beklink. As leierland van die Westerse wêreld stuur dié terugwen van linkse steun, ook vir pres. Joe Biden, in ‘n tyd waar konserwatisme wyd koning kraai en ‘n wêreldoorlog dreig, sekere seine na die breër internasionale gemeenskap, skryf Sonnette Lombaard.

Die VSA bly die leier van die Westerse wêreld en die politieke gebeure daar kan nie deur vriend of vyand geïgnoreer word nie. Soos die pasafgelope middeltermynverkiesing – dit word gehou twee jaar na, óf in die middel van ‘n president se vierjaar-termyn, vir die kies van die Amerikaanse Kongres wat uit die Senaat en die Huis van Teenwoordigers bestaan. Vanjaar se verkiesing is wyd gevolg oor belangrike redes. Amerika is as leierland deurgaans in die breër kollig en opnuut met vanjaar se internasionale krisisse, veral die dreigende Derde Wêreldoorlog, in wese ‘n kernoorlog, nadat Rusland vroeg vanjaar die Oekraïne binnegeval het. Dit het onder meer die wêreldekonomie van koers gestoot wat steeds wyd kring. Binnelands is Amerikaners onder druk met stygende lewenskoste en was skynbaar al meer verdeeld en verward oor hulle politieke leiers en rigting ná oudpres. Donald Trump se omstuimige vier jaar in die Withuis, én nadat aborsie-wetgewing as ’n konstitusionele reg in die VSA vanjaar dramaties omgekeer is. Dit het die Demokrate en hulle ondersteuners die harnas ingehad. Terselfdertyd was daar vrae oor Trump se opvolger, pres. Joe Biden, se vermoë om aan die vooraand van 80 sy verdeelde landgenote en die Westerse wêreld binne so ‘n uitdagende tydperk effektief te kan lei. Wat in onlangse meningpeilings weerklink het toe Biden se gewildheid erg gedaal het.

Inmiddels is ‘n sogenaamde rooi golf-sege vir die Republikeine in die middeltermynverkiesings voorspel, ook as afskop van ‘n terugvegaksie om teen 2024 weer in die Withuis te wees. Trump is hoeka in 2016 as president gekies toe die Amerikaners ryp was vir verandering en die opbloei van regse sentimente deur populisme en nasionalisme, ook in Europa, by die stembus begin weerklink het. Hoewel Trump toe ná net een termyn op ‘n lae noot die Withuis in 2020 verlaat het, het hy nou met die middeltermynverkiesings ‘n hernieude aanslag geloods om terug te keer binne die Republikeinse Party met die oog op die presidentsverkiesing in 2024. Sy uitsprake, besluite en optredes lei egter tot toenemende spanning in die Republikeinse Party en sy ondersteuners wat frons oor sy dominansie van die party en hy word nou as die verdelende faktor gesien wat ook die Republikeine se lang, trotse geskiedenis in die VSA beduiwel.

Hoewel die stembusse ná verlede week se landwye middeltermynverkiesings gesluit het, word stemme steeds getel. Met die afgewagte uitslag van die deelstaat Nevada waar die Dems gewen het, soos vandag bekend gemaak, het die skaal in die Senaat-stemming in die Demokratriese Party se guns geswaai. Hoewel die staat Georgia aanstaande maand ‘n herverkiesing moet hou, behou die Dems met die Nevada-wen beheer oor die Senaat met 50 stemme teenoor die Republikeine se 49. En selfs as die Republikeine die pyp rook in Georgia, het visepresident Kamala Harris van die Demokrate die beslissende stem indien stemmery binne die Senaat gelykop is.

Boonop is die Republikeine se Senaat-kandidaat wat in Nevada verloor het, deur Trump ondersteun. Trump se Republikeinse bondgenote het landwyd in die middeltermynverkiesings liederlik pak slae gekry. Met die tellery in die stryd om die Huis van Verteenwoordigers nog onderweg, lyk ‘n oorwinning vir die Republikeine hier wel ‘n gegewe.

Die uitslae tot dusver is vir pres. Biden en sy Demokrate goeie en tydige nuus, met die Senaat as die opperhuis van die Kongres. Tog sal Biden, wat Sondag sy 80ste verjaardag vier, met wetgewing deur die Republikeinse beheerde Huis van Verteenwoordiging in toom gehou kan word. Juis dít stem plaaslike politieke kenners saam, is ‘n bewys dat normaliteit nou na die Amerikaanse politiek teruggekeer het.

Prof. Andrė Duvenhage, verbonde aan die Besigheidskool aan die Noordwes-Universiteit, meen die Yanks se uitslae moenie vertolk word as ‘n terugslag vir die opbloei van konserwatisme wêreldwyd nie. “Die gemiddelde Amerikaner is behoudend en soek ‘n standvastige leier met geldige waardes wat die volk bestendig deur enigiets kan lei.”

Duvenhage verwys na wyle Alvin Toffler, die wêreld se voorste toekomskundige wat gepraat het van “vreemde fauna & flora” oftewel aweregse leiers wat gedy binne so ‘n omwoeltyd wanneer bestaande ordes onder druk kom. “Omstrede leiers soos Trump, asook ons eie Julius Malema en die Noord-Koreaanse diktator Kim Jong-un is voorbeelde.”

Politieke analis Piet Croucamp stem saam oor Trump. “Hy was ‘n siek wortel wat uit die grond gegroei het. Mense het oordadig daarop gereageer. Diė oorreaksie verteenwoordig egter nie die deursnee Republikein nie. “Die uitslae is ‘n herstel na die Amerikaanse middelpunt.”

Hiermee is Duvenhage dit eens, want die uitslae klop met die laaste presidentverkiesing in die VSA in 2020. “Dit bewys boonop dat Trump se bewerings van stemknoeiery daartydens ongegrond is.”

Voorts, meen Croucamp, wys die uitslae dis snert dat die sg. woke-beweging die wêreld en liberale demokrasieë oorgeneem het. “Die transgender- en LGBTQ -gemeenskappe is piepklein, ‘n openbare narratief is nie ‘n realiteit nie. Die oorbeklemtoning van die ‘gevreesde’ woke-faktor het gefaal en is ook nie deur die regses gekoop nie – die meeste mense het bloot geen ervaring hiervan nie. Hoeveel van ons loop ‘n transgender-mens raak? En hoeveel van ons word nog geaffronteer deur iemand wat ons ken en wie gay is?”

Volgens Croucamp stem mense soos hulle stem. Bykans elke Amerikaanse president kry te doen met ‘n verdeelde kongres – die beheer daarvan swaai heen en weer. “Dit dui daarop dat die Amerikaanse politiek so bestendig is soos altyd.”

Die uitslag is ‘n mosie van vertroue in pres. Biden se leierskap en hy moet meer krediet kry vir wat hy in twee jaar in taai tye bereik het, voeg Duvenhage by. Hy beheer sover sy adminstrasie uitstekend teenoor Trump s’n waartydens daar gereeld bedankings en/of skandale was. Trump kan dalk sterk mense om hom versamel maar hulle nie behou nie.

Duvenhage beklemtoon dat Biden te midde van die Oekraïne-krisis Navo weer blitsig herenig het en die wêreld, wat Afrika en China insluit, saamgesnoer het vir die wye sanksies teen pres. Vlad Putin weens die Russiese militêre aggressie. “Biden blyk twee eienskappe te hê wat hy doeltreffend in die heersende era inspan: enersyds ‘n sagte versoenende aanslag wat hy daadwerklik balanseer met kragtige optredes.”

Croucamp meen Putin sal wel kennis neem van die uitslag want die Republikeine wat nou die Huis teruggewen het, is aansienlik meer militêr ingestel. “Republikeine is egter nie trigger happy nie en slegs ‘n fraksie is werklike Putin-aanhangers,” benadruk Croucamp.

Tog meen Duvenhage Trump kan nie afgeskryf word nie. “Hy is uitgeslape en laat hom nie so maklik van stryk bring of sal laat handdoek ingooi nie.”

Leave a Reply