Skip to main content

Korrespondent

Suid-Afrika het meer beurtkrag beleef in September as in die hele 2020, het navorsers verbonde aan die Wetenskaplike Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) bevind.

Volgens ’n oorsig van die bevindinge was September ’n “buitengewone hoë maand” wat beurtkrag betref.

Die WNNR voeg verder by dat 2022 tot dusver die ergste jaar is vir skielike stygings in fases van Eskom se onvermoë om die ligte aan te hou.

Trouens, meeste beurtkrag-fases wat tot dusver vanjaar ingestel is, is fase 4, anders as fase 2 waaraan Suid-Afrikaners oor die jare heen gewoond geraak het.

In die drie maande van Julie af, byvoorbeeld, is meer beurtkrag ervaar sedert Suid-Afrika daarmee begin sukkel het in 2007.

Verder is vasgestel dat die beskikbaarheid van elekrisiteit by die kragvoorsiener, beter bekend as EAF (energy availability factor), vir die derde agtereenvolgende jaar gedaal het.

In 2020 was die EAF-gemiddeld 65%. ’n Jaar later het dié persentasie gesak to 61.7%. Tans is die EAF 59.5%.

Die gevolgtrekking is dus dat Eskom agteruit boer, oftewel al hoe meer sukkel om aan aanvraag te voldoen.

Die nasionale aanvraag vir kragtoevoer het egter nie gestyg nie – Eskom se vermoë om krag te voorsien wel.

Die huidige EAF-syfer is tans 2.5% laer as wat dit was voor die Covid pandemie aangebreek het, het die navorsing bevind.

Volgens die WNNR is dit grootliks weens onbeplande kragonderbrekings wat toegeskryf kan word aan die voorsiener se kwynende kapasiteit by infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie, of nie behoorlik werk nie, soos die knaende probleme wat by Kusile-kragstasie naby Delmas ondervind word.

Wat fase 6 betref, het 2022 ook 2019 uitgestof, die enigste ander jaar waartydens die hoogste vlak van beurtkrag ingestel is.

Volgens die WNNR was die fase 6 beurtkrag instellings van Desember 2019, toe 6 000 kilowatt op die nasionale netwerk verloor is, ook nie naastenby so erg as die sporadiese instellings van dieselfde fase in Junie vanjaar nie.

Intussen is steenkool steeds die belangrikste hulpbron vir kragverwekking in Suid-Afrika.

Die WNNR sê dit beslaan sowat 80% van die land se voorsieningskapasiteit, verreweg meer as die krag wat verwek word deur ‘groener’ metodes by wind- en sonkragfasiliteite.

Syfers vrygestel deur die WNNR se navorsing toon aan dat slegs 6.5% van Suid-Afrika se afgehele kragopwekking deur middel van groener tegnologieë geskied het.

Leave a Reply