Skip to main content

Muggies, daardie lastige klein insekte wat op ongeleë tye om jou ore zoem en nie skroom om by jou mond in te vlieg nie – vra maar vele motorfietsryers – word dikwels met muskiete verwar.

As jy wonder hoekom hulle om jou kop en gesig draai, kan ek dalk help. Hulle is gek oor die koolsuurgas wat ons uitasem, (ek wonder of knoffel hulle sal afskrik) asook sweet en trane.

Hierdie irriterende klein peste kom oral in die wêreld voor, en byt nie gewoonlik mense of diere nie. Let wel, ek sê ‘gewoonlik’. Daar was al gevalle waar muggies mense gebyt het, of te lekker aan oop wonde op mense en diere gesmul het.

Hulle lewens is maar van korte duur, en simpatieke mense wil dalk dink: ‘Sies tog, laat hulle maar hul kort lewens geniet’, maar as jy hoor hoe vinnig hulle aanteel, slaan jy hulle met die eerste oogopslag met die vlieëplak plat. Hierdie goggatjies kan tot vier weke leef, maar ‘n wyfie kan 30 keer eiers lê voordat sy groet. En teen 100-300 op ‘n slag…

Hulle kom in die algemeen naby klam plekke, soos dreine, voor. As hulle eers dáár begin aanteel, gaan jy sukkel om van hulle ontslae te raak. Hulle het ook ‘n groot voorliefde vir oorryp vrugte, asblikke en potplante.

Hulle lewensiklus is eier, larwe (wat uit 4 stadiums bestaan), papie en die pes wat so om ons ore zoem.

As daar ‘n uitbraak van muggies by jou huis is, is bleikmiddel die beste manier om van hulle ontslae te raak.

Leave a Reply