George April
“Ek het tot my skok besef dat my kind so erg traumatiseer is, dat hy selfmoord-neigings het toe ek ‘n prent onder sy kopkussing kry.”
Ouers in Laaiplek en Velddrif beweer hulle kinders word by Hoërskool Velddrif geviktimiseer. Een vrou het vertel dat haar kind vanaf Januarie meer tuis, as in die skool was. “Ek is al raadop, en weet nie wat om te maak nie.”
Ouers het nou saamgespan en eis dat daar opgetree word teen die “onbillike behandeling” van hul kinders by die skool. Millicent Merton het op media-navrae gesê, dat die Departement van Onderwys net die beweringe kan ondersoek as ouers dit op skrif plaas.
Een van die vroue het Die Waarheid op ‘n WhatsApp groep van ouers ge-add, om te sien wat aangaan. Skokkende vertellinge van ma’s wat vertel wat hulle kinders alles moet deurmaak en aanhoor by die betrokke skool.
‘n Onderwyseres het blykbaar verlede week ‘n video van hiënas en leeus wat baklei, vir die kinders gespeel. Toe die video klaar is, het sy vir die kinders gesê dat hulle die hiënas is. ‘n Ander onderwyser het selfs vir ‘n kind gesê, “hy is net so stupid soos sy ma”.
‘n Ma se kind is verlede Vrydag huis toe gestuur, en die ma wou weet wat aangaan. Toe sy Maandag by die skool kom, word sy gevra om Donderdag te kom. Vroue op die groep het vertel hoe hulle ook sukkel om met die skool se personeel te kommunikeer.
Nog ‘n ma het vertel hoe haar kind se persoonlikheid verander het vandat hy hierdie jaar by Velddrif Hoërskool begin het. “Hy was baie lief vir diere en om te skilder, maar hy stel nie meer in enige iets belang nie. Ek was tot in my siel geskok, toe ek ‘n prent onder sy kopkussing kry, van ‘n kind wat selfmoord gepleeg het”.
Dieselfde seun het selfs senuwee-kalmeerpille van die ma by die foto gehad. Die werkende ma het gesê “as ek nie daardie oggend besluit het om sy bed op te maak nie, sou ek nooit daarvan geweet het nie”.
Om die kinders te beskerm, gaan Die Waarheid nie die ouers se name noem nie.