Skip to main content

Die Black Ferns van Nieu-Seeland het Saterdag hul sesde Wêreldbeker-titel in nege weergawes van die toernooi verower. Foto: Twitter / @BlackFerns

Kobie Cilliers

Al het die Springbokke Saterdagaand teen Frankryk verloor, was die Suid-Afrikaners stukke beter as ‘n week vantevore teen Ierland in Dublin. Maar wat die naweek se aksie op die rugbyveld betref, was die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi vir vroue in Auckland tussen Nieu-Seeland en Engeland ‘n aksiebelaaide skouspel wat die hoogtepunt verskaf het.

Daarteenoor was die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi op die befaamde Melbourne Cricket Ground (MCG) Doer Onder ‘n effense anti-klimaks nadat Pakistan uiteindelik te maklik die knie teen Engeland gebuig het.

RUGBY

* Die Bok-span wat Saterdagaand in Marseille diens gedoen het – en die wedstrydplan wat toegepas is – was presies wat Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners nodig gehad het om die hoop weer te laat opvlam dat Rassie Erasmus-hulle inderdaad hul Wêreldbekertitel volgende jaar in die einste teenstander se agterplaas, suksesvol kan verdedig.

Nietemin het Le Blues hul wenrekord tot 12 agtereenvolgende toetse verbeter deur die Bokke in die hawestad op die Suidelike kus met 30-26 te klop.

Albei spanne het spelers weens rooi kaarte aan die kragmeting afgestaan. Die Bokke veral is gekniehalter toe hulle vir die laaste tien minute tot slegs 13 spelers beperk is.

Die Bok-flank Pieter-Steph du Toit het reeds in die 12de minuut van ‘n klipharde toets ‘n rooi kaart gekry. Wayne Barnes, die hoogs-aangeskrewe Engelse skeidsregter wat nie juis Saterdag sy beste wedstryd beleef het nie, het beslis dat Du Toit se kopstamp met ‘n Fransman by ‘n afbreekpunt gevaarlik genoeg was om hom die trekpas te gee.

Dit wou met die kykweer voorkom of Du Toit per ongeluk deur sy spanmaat Kwagga Smith vorentoe in kontak in gestamp is, maar die beeldmateriaal van die blondekop-losvoorspeler, wat in trane met sy kop in sy hande sy plek op die Bok-bank gaan inneem het, was ‘n bewys dat hy eenvoudig geensins met opset sy teenstander wou skade berokken nie.

Die besige skrumskakel Antoine Dupont, die Franse se kaptein, is in die 48ste minuut met ‘n rooi kaart van die veld af gestuur nadat hy die Bok-vleuel Cheslin Kolbe in die lug gespeel het.

Die veelsydige plaasvervanger Deon Fourie het met ongeveer tien minute se speeltyd oor ‘n geel kaart gekry nadat hy ‘n dryfmaal-beweging onwettig platgetrek het.

Albei spanne het twee drieë gedruk. Maar hoewel Kolbe, die skrumskakel Faf de Klerk en losskakel Damian Willemse foutloos vir die Bokke pale toe gekorrel het, was dit die Franse heelagter Thomas Ramos wat in ‘n Speler van die Wedstryd-vertoning die oorwinning met 20 individuele punte – ‘n doelskop en ses strafdoele – vir die Franse beklink het.

Les Bleus, die gasheer van volgende jaar se Wêreldbekertoernooi, het beslis tien maande voordat die rugbyskouspel in Frankryk afskop, ‘n daadwerklike waarskuwing met hul oorwinning teen die Wêreldbeker-kampioen aan hul teenstanders gerig, maar die Bokke het ook Saterdagaand vir die res van die wêreld herinner dat hulle beslis nie afgeskryf moet word nie.

“Dit maak baie seer aangesien die spelers baie moeite ingesit het en wil gewys het. Hulle was uitmuntend,” het Jacques Nienaber, die afrigter van die Bokke, op ‘n mediakonferensie ná afloop van Saterdag se harde toets gesê.

“Hulle (die Bokke) het hulle harte uitgespeel. Ek voel jammer vir hulle. Hulle het als gegee wat hulle gehad het.”

Kyk, eerlikwaar, hierdie was my gunsteling Bok-toets van die jaar gewees.

Die intensiteit, afwisseling, verdediging  en passie was ‘n welkome verandering aan ‘n Bok-span wat baie van sy ondersteuners die afgelope weke begin vervreem het.

Kurt-Lee Arendse, Siya Kolisi, die kaptein, Willie le le Roux en Faf du Plessis was op hul kop.

Al was die Bokke aan die verloorkant, was Saterdag se vertoning iets wat weer geloof in elke Bok-ondersteuner se gemoed sou laat opvlam.

Kom ons hoop dat dat Jacques Nienaber, die Bokke se afrigter, sal volhard met ‘n soortgelyke wedstrydplan wat ons Saterdagaand in Marseille gesien het.

Wie was meer uit die veld geslaan elke keer wat die Bokke se agterste driehoek vanaf ‘n Franse skop met die bal begin hardloop het, die span se ondersteuners of sy teenstanders?

Komaan Rassie en Nienies, hou asseblief by Saterdagaand se “dapperder” wedstrydplan, verfyn hom, en dan kyk ons wie volgende jaar in Frankryk ons met sukses om die Wêreldbekertitel kan uitdaag.

* Die Italianers het ook die afgelope naweek bewys dat die gaping tussen die voorste spanne op die wêreldranglys aan die krimp is.

Die Azzurri het Saterdag sy eerste oorwinning in toetsrugby tot nog toe teen Australië behaal deur die Wallabies in Florence met 28-27 te klop.

Die plaasvervanger losskakel Ben Donaldson het in die doodsnikke met ‘n doelskop misluk, wat die Aussies van ’n sege weerhou het.

Die Italianers se oorwinning, in ’n stryd waarin hulle feitlik deurlopend die botoon gevoer het, sal die Azzurri hope selfvertroue gee voordat hulle die Bokke Saterdag in Genua pak.

Die Italianers se rolmale het beslis ‘n sleutelrol in hulle oorwinning teen die Wallabies gespeel, maar kyk, hul agterspelers, met hul uitstekende vaardighede en aanvoeling vir geleenthede op die aanval, het die Wallabies ook laat bontstaan.

* Nieu-Seeland het sy onoorwonne rekord teen Skotland  behou deur die tuisspan Sondag op Murrayfield in Edinburg met 31-23 te klop.

Daar was ’n paar emosionele oomblikke voor die wedstryd toe die oud-Skotse kaptein Doddie Weir, wat jare lank reeds aan motor-neuronsiekte ly, voor die wedstryd saam met sy gesin aan die skare voorgestel is.

Dit het die Skotte saamgesnoer en aangevuur, maar hulle kon nie die pas volhou nie.

Die All Blacks se ervare plaasvervangers soos Codie Taylor, George Bower, Shannon Frizell, TJ Perrenara en Rieko Ioane het beheer geneem nadat die Skotte se plaasvervanger-flank Jack Dempsey in die 65ste minuut met ’n geel kaart van die veld af gestuur is.

Die Kiwi’s het sodoende hul onoorwonne vertoningslys oor die Skotte tot 32 wedstryde gerek en met dié oorwinning die Bokke uit die derde plek gehou op Wêreldrugby se ranglys.

* Albei verlede week se halfeind-kragmetings in die Wêreldbekertoernooi vir vroue in Nieu-Seeland het werklikwaar uitstekende rugby opgelewer. Maar goeie genade, Saterdag se eindstryd in Auckland tussen die Black Ferns en Engeland se Red Roses, was eerlikwaar uit die boonste rakke gewees.

Die plaasvervanger-linkervleuel Ayesha Leti-l’iga se drie nege minute voor die einde van die kragmeting het aan die Nieu-Seelanders ‘n oorwinning met 34-31 besorg. Dit was die Black Ferns se sesde Wêreldbeker-titel in nege weergawes van die toernooi.

Die Engelse moes vir meer as ‘n driekwart van die wedstryd met slegs 14 spelers klaarkom nadat die regtervleul Lydia Thompson met ‘n rooi kaart van die veld af gestuur is weens ‘n roekelose duikslag op haar regsreekse teenstander, Portia Woodman.

Die Red Roses, op soek na ‘n ongekende  31ste agtereenvolgende oorwinning op die internasionale verhoog, se oorheersing van drie jaar in vrouerugby is dus op skouspelagtige wyse deur die Black Ferns beëindig.

Die rugbywêreld het op Twitter gereageer en meen dit was een van die beste rugbywedstryde nóg.

Die voormalige Wallaby-senter Matt Giteau het getwiet: “Hoe goed was dit om te sien? Die groei in vrouerugby … Wat ’n toets!”

Die voormalige Springbok-held Bryan Habana het op sy beurt getwiet: “Wat ’n eindstryd! Wat ’n skouspel!”

Frankryk het vir Kanada in die uitspeelstryd om die derde plek met 36-0 van die veld af gespeel.

KRIEKET

Ben Stokes het Sondag op die MCG  sy eerste 50-tal in internasionale T20-krieket behaal om te verseker dat Engeland ­– ná ‘n uitstekende boulvertoning wat die Kiwi-gebore veelsydige speler se prag-kolfbeurt voorafgegaan het ­– die eerste mansspan geword het om gelyktydig as die wêreldkampioen in T20- sowel as eendag-krieket te heers.

Die Engelse het die afgelope ses of wat jaar die wyse waarop witbal-krieket gespeel is, totaal en al herdefinieer.

Stokes, beroemd vir onder andere sy heldedade in die eindstryd van eendagkrieket se Wêreldbekertoernooi teen Nieu-Seeland in 2019, was tot op hede berug vir die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi in 2016 toe Carlos Brathwaite van die Wes Indiese Eilande hom in die laaste beurt vir vier agtereenvolgende sesse gemoker het om die Windies tot ‘n oorwinning te lei.

Die Nieu-Seelandse gebore Stokes het in die aanloop tot vanjaar se toernooi Doer Onder gepraat oor hoe hy daardie nare herinneringe van ses jaar gelede as aansporing vir die krieketskouspel in Australië wou inspan – en hy het, toe dit in die eindstryd saakmaak, nie teleurgestel nie.

Sy 52 nie uit nie, sy beste telling in internasionale T20-krieket, het die Engelse gehelp om die eindstryd met ses balle oor te wen.

Hy en Moeen Ali (19) het min of meer van die 16de boulbeurt losgetrek om ‘n beskeie wenteiken van 138 met ses balle oor te behaal.

Die 31-jarige Stokes se kaptein, Jos Buttler, het ná afloop van die eindstryd gesê hy tel beslis onder een van de beste Engelse spelers van alle tye.

“Hy steek altyd sy hand in die grootste oomblikke op,” het Buttler gesê.

“Hy kan baie druk op sy skouers laai en steeds uitstekend vertoon. Jy weet absoluut met hom in die middel, is jou kanse om te wen baie goed. Ek is eenvoudig uiters trots op hom.”

GHOLF

Tommy Fleetwood van Engeland het vir die tweede agtereenvolgende keer “Afrika se major” gewen toe hy Sondag in die Nedbank-uitdaagtoernooi op die Gary Player-baan by Sun City geseëvier het.

Die 31-jarige Fleetwood, wat oor elk van die eerste drie dae ‘n 70 op sy telkaart ingevul het, se telling van 67 – vyf houe beter as baansyfer – in die vierde ronde, was genoeg om sy titel suksesvol te verdedig.

Dit was die eerste keer sedert 2019 wat die toernooi aangebied is nadat dit weens die Covid-19-pandemie vir twee jaar nie kon plaasvind nie.

“Dit was so ‘n lieflike gevoel om die laaste nege putjies met ‘n wenkans te speel,” het die Engelsman agterna gesê.

“Jy put selfvertroue uit die goeie herinneringe op die bane waar jy reeds vantevore gewen het. Vandag het goed gevoel.”

MOTORSPORT

George Russell (Mercedes) het Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) die Brasiliaanse Formule Een-Grand Prix op die Interlagos-renbaan in São Paulo gewen.

Dit was die 24-jarige Brit se eerste oorwinning vir sy span. Russell se spanmaat landgenoot, Lewis Hamilton, ‘n wenner van sewe F1-wêreldtitels, het die wedren in die tweede plek klaargemaak.

Hulle is gevolg deur die twee Ferrari’s van Carlos Sainz (derde) en Charles Leclerc, met Fernando Alonso (Alpine) vyfde en Max Verstappen (Red Bull) sesde.

Verstappen, wat reeds in die Japanse Grand Prix as vanjaar se kampioen gekroon is, is ver voor met 429 punte, gevolg deur Leclerc en Sergio Perez (Red Bull) saam tweede op 290 punte. Russell (265), Hamilton (240) en Sainz (234) is onderskeidelik vierde, vyfde en sesde op die punteleer.

Leave a Reply