Isaac Cloete
Dis nie aldag dat iemand met vreemde dierasies wil boer nie.
Bertoni “Bibi” Bam, alias die slakvrou, is so ‘n persoon. Die entrepreneur is die stigter van Sarastoga Snails. Dit is ‘n unieke besigheid wat sy vanaf die plattelandse dorpie Komaggas, in die Namakwa-area bestuur.
Sy vertel haar storie met geesdrif en oortuiging: “As ‘n wetenskap-onderwysstudent het ek destyds ‘n passie vir landbou gehad. Dus het ek begin navorsing doen oor wat ek graag wou doen in die landbousektor. Ek het heliciculture (slakboerdery) ontdek en ‘n passie vir slakke ontwikkel.”
In 2018 het sy haar besigheid geregistreer en begin met bekendstelling op sosiale media-platvorms, meer spesifiek Facebook.
In gewone taal kan ‘n mens Bibi beskou as ‘n slakboer. Sy hou die slakke aan en maak farmaseutiese produkte van die slym. Dit verkoop sy aan die breë publiek.
Dit is veral goed vir mense wat sukkel met dermatologiese velprobleme. Maar ook vir diegene wat worstel met bedsere, diabetiese wonde, asook lelike littekens of merke.
In 2019 het hierdie besigheid verskriklik vinnig gegroei. Die gevolg was dat sy besig begin raak het omdat die aanvraag hoër was as wat haar aanbod was, voeg sy by.
As vroue-entrepreneur met ‘n relatief vars kwalifikasie in landboukunde, het groot geleenthede oor my pad gekom, vertel sy ywerig.
“My produkte het onwetend in lande soos Viëtnam, Kameroen en Saudi Arabië beland. Mense het my selfs uit Viëtnam gekontak met die produk in die hand. Dan het hulle laat weet dat daar ‘n mark is en hulle in afwagting is om die produk te koop.”
Aanvanklik het sy met ‘n velroom begin. Mense was baie tevrede met die uitwerking van die produk omdat dit ook vinnige resultate gelewer het. Die aanvraag hiervoor was baie groot, so ook die verkope. Dit het veroorsaak dat sy van een room kon uitbrei na 12 ander gesonheidsprodukte wat tans net so goed verkoop, verduidelik sy.
Alhoewel slakboerdery ‘n relatief onbekende bedryf is, gesels mense al baie lank oor slakke self. Oral waar sy reis en tussen mense kom sal hulle haar gou uitken. Hierna begin die eindelose geselsies oor die slakke-besigheid.
As gevolg van die geweldige belangstelling in haar besigheid het sy later besluit om die onderwysstudies te los. Dit het haar genoodsaak om in ‘n landboukundige rigting by Peritum Agri Institute, Bloemfontein, te gaan studeer.
“My studies het my gebrei om my besigheid beter te kan bestuur en om nog meer te kan doen in die sukkelende landbousektor, veral in ons droogte-geteisterde Namakwaland. My missie is om mense, veral van Komaggas en Namakwa, te betrek by die slakbedryf sodat hulle kan deel in hierdie massiewe geleenthede.”
Bibi is ook bewus daarvan dat die Noord-Kaap ‘n nuwe hawe gaan kry. Dit sal die uitvoer van produkte net kan vergemaklik, redeneer sy.
Die landbou is van die min bedrywe wat hordes werksgeleenthede kan bring en daarom is sy besig om die organisasie AgriKids Namaqua te begin. Hierdeur sal sy die jong kinders kan inspireer om betrokke te raak by die landbousektor.
Sy voel dat dit hier kan uitsterf, sou daar nie nuwe boere opgelei word nie. By AgriKids gaan die fokus dus wees op hernuwingsboerdery (regenerative farming), wat ook ‘n nuwe veld in die landbou is.
Volgens Bibi is daar uit elke 100 besighede in Namakwaland en elders maar net een of twee slymprodusente. Dis wat hierdie besigheid so uniek maak om te bedryf, meen sy.
Tans werk sy van die huis af en het sewe werknemers. Haar slakke kry sy van Griekeland af. Haar mark is basies in Suid-Afrika, waar sy haar podukte verkoop aan mense met dermatologiese probleme. Dit word onder Sarastoga Snails bemark en sluit in rome, sepe en reinigers vir die vel.
Bibi pleit by vrouens van veral die Komaggas-area om deel te vorm van hierdie unieke besigheid wat groot winste kan bring. Dit is ook haar wens dat plaaslike entrepreneurs ondersteun moet word.
Skakel Bibi by 0651399655 vir enige verdere inligting.