Die Springbok-ster Eben Etzebeth (links) en die Ierse rugby-held Conor Murray, wat Saterdag in sy 100ste toets vir sy land uitgedraf het, groet mekaar nadat die Iere in Dublin met die Bokke afgereken het. Foto: Twitter / @IrishRugby
Kobie Cilliers
‘n Springbokspan wat blykbaar geen idee het hoe om kreatief op die aanval te speel nie, ‘n Protea-span wat sy “chokers”-etiket in die soveelste Wêreldbekertoernooi gestand gedoen het, en ‘n Blitsbok-span wat steeds aan die agteruitboer is.
Wees gerus, al drie spanne sal weer uit die as uit opstaan en Suid-Afrikaanse sportaanhangers trots maak. Maar die afgelope naweek was eenvoudig ‘n sportramp vir die Reënboognasie.
RUGBY
‘n Span gaan heel waarskynlik misluk as hy toetsrugby speel sonder ‘n erkende stelskopper wat met minstens vier uit elke vyf pogings sukses behaal.
Maar Damian Willemse en Cheslin Kolbe se verbroude skoppe na die pale was nie die enigste rede dat die Springbokke Saterdag met 16-19 teen Ierland in Dublin verloor het nie.
Ierland, wat sy tiende agtereenvolgende toets op tuisbodem beklink het, is deur die skeidsregter, Nikola Amashukeli van Georgië, toegelaat om met moord weg te kom.
Hoewel dit maklik is om baie van die skuld op die skeidsregter se swak vertoning te pak – hy het veral in die skrums beslissings gemaak wat die verstand te bowe gaan – was dit die Bokke se onvermoë om af te rond en gebruik te maak van die geleenthede wat hulle geskep het, wat hulle duur te staan gekom het.
En ja, die tekort aan ‘n erkende stelskopper het ‘n sleutelrol in bogenoemde probleme gespeel. Willemse het met sy eerste strafdoel geslaag, maar sy tweede poging was ‘n uiters swak skop. En ja, die vrese wat baie Bok-ondersteuners gekoester het dat Willemse se swak korrelwerk na die pale sy algemene spelpeil negatief sou beïnvloed, is inderdaad bewaarheid.
Van ‘n maklike strafskop kantlyn toe waarmee hy misluk het, tot verskeie foute in algemene spel, het die Stormers-ster werklik ‘n afdag beleef. Dit het mettertyd daartoe gelei dat Kolbe die skopwerk by Willemse oorneem, maar aangesien hy self nie ‘n voorslag-skopper is nie, het hy ook gesukkel.
Die Bokke het met swak stelskopwerk in totaal sewe punte op die veld verbeur, maar die probleem was groter as dit. Die powere korrelwerk na die pale het beteken dat die Suid-Afrikaners reeds vroeg in die wedstryd die kantlyn opgesoek het in plaas daarvan om telborddruk te bou. Dit het die wedstryd onnodig gelyk laat verloop totdat die Iere in die tweede helfte twee drieë gaan druk het.
Die probleem vir die Bokke is dat sake nie makliker raak nie, aangesien Frankryk Saterdag in Parys op Jacques Nienaber-hulle wag.
Gepraat van Nienaber. Die Bok-afrigter moes op die mediakonferensie ná die toets bontstaan weens talle vrae oor sy span se gesukkel met stelskopwerk.
“Stelskopwerk is belangrik, maar jy moet na ’n speler se algehele vertoning kyk,” het hy gesê.
“Jy kan nie net ’n ou uit die span uit weglaat as hy in een afdeling sleg doen nie. Stelskopwerk is iets waaraan hulle werk en hulle werk baie hard daaraan. Hulle (die Bokke se stelskoppers) weet hulle moet daaraan werk.
“Geen stelskopper sal, soos ’n haker se lynstaaningooi, doelbewus verbrou nie. Maar dit is ongelukkig so dat as jy na die pale skop, daardie afdeling onder die vergrootglas is.
“ ’n Klomp ander spelers het foute gemaak wat ons ook momentum gekos het, maar ’n mens sien dit nie. ’n Stelskopper is ongelukkig onder die vergrootglas.”
Maar die tekort aan ’n betroubare stelskopper in die afwesigheid van die Handré Pollard (beseer) en Elton Jantjies (persoonlike probleme), gaan ‘n probleem bly totdat die Bok-bestuur dit behoorlik aanspreek.
Is dit nie miskien tyd om vir Manie Libbok dalk as ‘n plaasvervanger in die Bok-23-tal te betrek nie? Dit is ‘n feit soos ‘n koei dat die Bokke sonder ‘n speler wat gereeld die bal deur die pale kan jaag, meer toetse gaan verloor as wen.
* Die ander drie groot Suidelike Halfrond-spanne het die naweek gemengde welslae behaal, hoewel Argentinië se onverwagse oorwinning teen Engeland deur die meeste rugby-ondersteuners buite Engeland verwelkom is.
Die All Blacks het Wallis in Cardiff met 55-23 van die veld af gespeel, die Wallabies het naelskraap met 29-30 teen Frankryk in Parys verloor en Argentinië het Engeland op Twickenham met 30-29 geklop.
Dit is ‘n roemryke oorwinning vir die Pumas, wat in 2006 laas op Twickenham geseëvier het. Die Argentyne het ook vroeër vanjaar met die All Blacks in Nieu-Seeland afgereken, dus is dit nog ‘n toets weg van die huis af waarop ieder en elke Argentynse ondersteuner trots kan wees.
* Die Blitsbokke se treurmare het begin nog voordat hul gesiene voormalige afrigter Neil Powell die span ná afloop van die onlangse Wêreldbeker-sewestoernooi in Kaapstad verlaat het om hom by die Sharks as Direkteur van Rugby aan te sluit.
Maar die afgelope naweek se Wêreldreeks-toernooi in Hongkong is die eerste keer sedert die reeks se bestaan in 1999 wat die Suid-Afrikaners vier agtereenvolgende nederlae gely het.
Sandile Ngcobo, nuwe afrigter van die Blitsbokke, se span kon slegs een van sy wedstryde oor die naweek, teen Uruguay (21-0), wen. Daarna was hulle op die afdraande pad met nederlae teen Brittanje (10-12), Frankryk (17-19), Fidji (7-12) en Argentinië (12-19).
Ngcobo het ná afloop van die mislukking in Hong Kong gesê die Blitse se vertoning het hom “seergemaak”.
Sy troepe, wat die toernooi in die agtste plek uit 16 deelnemende spanne afgesluit het, se treurmare in Hong Kong kan waarskynlik as ‘n vloek beskryf word nadat die Suid-Afrikaners oor al die jare die eindstryd slegs op een geleentheid kon haal. Maar nietemin was die Blitse se vertoning oor die naweek niks om op trots te wees nie.
Dit is uiteraard verstaanbaar dat die span tyd benodig om onder ‘n nuwe afrigtingstruktuur aan te pas, maar die dom foute wat hulle begaan en die gebrek aan intensiteit is ongehoord vir ‘n Blitsbokspan.
Die waarheid is dat die span se standaard reeds verlede seisoen in verskeie toernooie aan die afneem was. Dit wil ook voorkom of verskeie spelers wat uit die sewes-akademie in Stellenbosch by die Blitse betrek word, sukkel om by die intensiteit van die Wêreldreeks aan te pas.
Die Aussies het die verdedigende kampioen, Fidji, in die eindstryd met 20-17 geskok om hulle eerste titel in Hong Kong in 37 jaar te wen.
KRIEKET
Nog ‘n Wêreldbekertoernooi, nog ‘n teleurstellende vertoning deur die Proteas.
Die Suid-Afrikaners het Sondag in Adelaide ‘n nuwe laagtepunt op die wêreldverhoog bereik toe hulle deur Nederland, van alle spanne, uit die T20- Wêreldbekertoernooi Doer Onder geboender is.
Die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, en sy span moes eenvoudig net met die Nederlanders, 17de op die wêreldranglys, afreken om die halfeindronde van die T20-krieketskouspel te haal.
Maar die Proteas, derde op die ranglys, het met 13 lopies teen hul aansienlik minder gesiene teenstanders verloor.
Die Proteas was nie in staat om die wenteiken van 159 te haal nie en kon slegs 145/8 in hul 20 boulbeurte behaal.
Bavuma het ná die wedstryd erken dat die “chokers”-etiket na dese by die span sal spook totdat Suid-Afrika ‘n eindstryd in ‘n groot toernooi wen. Die beleërde kaptein, wat deur meeste kenners nie as ‘n goeie T20-kolwer beskou word nie, het ook gesê hy sal eers moet gaan sit en dink of hy die span voortaan steeds wil aanvoer.
Maar as mens die oorgrote meerderheid van Protea-ondersteuners se menings op sosiale media in ag neem, moet Bavuma in die eerste plek nie deel wees van die nasionale T20-span se toekomsplanne nie.
Die Proteas se afrigter, Mark Boucher, kon op sy beurt ook nie vir ‘n suurder afskeidsgeskenk gevra het nie.
Dié voormalige Protea-paaltjiewagter, wat voortaan die Mumbai Indians in die uiters lonende Indiese Premieliga gaan afrig, het waarskynlik sy breekpunt vir politiek in Suid-Afrikaanse krieket bereik met die projek van krieket vir maatskaplike geregtigheid en nasiebou (SJN)-verhore wat hom van rassisme beskuldig het.
Boucher het Sondag ná sy laaste kragmeting as afrigter van die Proteas – en sonder om besonderhede te verskaf – ’n pleidooi aan die beheerliggaam van Suid-Afrikaanse krieket gelewer.
“Ons moet eenvoudig probeer om al die spelers geïnteresseerd te hou om vir Suid-Afrika te speel. Dit is ’n groot vraag wat diegene aan die stuur van Suid-Afrikaanse krieket, moet beantwoord.”
Eendagkrieket se 13de Wêreldbekertoernooi word volgende jaar in Oktober en November in Indië beslis. Maar soos sake tans daarna uitsien sal die Proteas eers vooraf in ‘n kwalifiserings-toernooi moet presteer om hul plek in die toernooi te verseker.
TENNIS
Novak Djokovic het Sondag die geleentheid om sy sewende titel in die Paryse meesterstoernooi te verower, verbeur.
Die Serwiese tennisheld was vir die duur van die toernooi in die Franse hoofstad uitstekend op dreef en het eers in sy halfeindstryd teen die Griek Stefanos Tsitsipas vir die eerste keer op pad na die eindstryd ’n stel afgestaan.
Maar Djokovic, die sesde gekeurde, is deur die ongekeurde Deense tiener Holger Rune met 3-6, 6-3, 7-5 om die titel geklop.
“Dit is ‘n voorreg om die baan saam met Novak te deel,” het Rune ná afloop van die kragmeting gesê.
Die 19-jarige Rune het Sondag in sy vierde agtereenvolgende eindstryd in die ATP-reeks gespeel. Hy het na dese 19 van sy vorige 21 kragmetings gewen.
Rune se titel in Parys beteken ook dat hy vir die eerste keer in sy loopbaan die toptien op die wêreldranglys haal en hom vir minstens tot aan die einde van vandeesmaand se ATP-jaareindtoernooi op nr. 10 bevind.
Sy oorwinning teen Djokovic was ook sy vyfde sege in vyf dae teen ‘n speler in die toptien op die wêreldranglys nadat hy vroeër in die toernooi met Hubert Hurkacz, Andrey Rublev, Carlos Alcaraz en Felix Auger-Aliassime afgereken het.
Bogenoemde oorwinnings het gevolg nadat Rune in ‘n opwindende kragmeting in die eerste ronde drie wedstrydpunte teen die voormalige Grand Slam-kampioen Stan Wawrinka oorleef het om die Switser met 4-6 7-5 7-6 (3) te klop.
* Die WTA-reeks se jaareindtoernooi word Dinsdagoggend om 04:00 (Suid-Afrikaanse tyd) in Fort Worth, Texas voltooi.
Die byeenkoms word deur die voorste agt vrouespelers ter wêreld in twee groepe beslis. Die boonste twee spelers in elke groep dring deur na die halfeindronde.
Caroline Garcia van Frankryk het Sondagaand vir Maria Sakkari van Griekeland in die eerste halfeindstryd met 6-3, 6-3 geklop.
Aryna Sabalenka van Belarus het in die tweede halfeindstryd teen Iga Swiatek, die voorste vrouespeler ter wêreld, met 6-2, 2-6, 6-1 geseëvier.
Die algehele prysgeld vir vanjaar se toernooi beloop $5 miljoen (nagenoeg R89,4 miljoen).
Die spelers het vanjaar elk $110 000 ontvang net om aan die toernooi deel te neem. Hulle is ‘n bykomende $110 000 betaal vir elke rondomtalie-wedstryd wat hulle in die groepfase gewen het.
Die spelers wat in die halfeindronde uitgeskakel is, het dan nog $30 000 verdien.
Die seëvierende semifinaliste het elk $420 000 ontvang en die uiteindelike kampioen sal ‘n verdere $820 000 betaal word.
Dus, indien ‘n speler die toernooi onoorwonne afsluit, sal sy ‘n tjek van $1,680,000 in haar sak steek ($110 000 verskynings-fooi, $330 000 vir die drie oorwinnings in die groepfase, $420 000 vir die oorwinning in die halfeindronde en $820 000 vir die sege in die eindstryd).
MOTORSPORT
Die Italianer Francesco Bagnaia is Sondag amptelik as die MotoGP-wêreldkampioen gekroon, terwyl Suid-Afrika se Brad Binder die seisoen op ’n hoë noot afgesluit het toe hy tweede in die wedren in Valencia, Spanje klaargemaak het.
Binder (KTM), wat in die sewende plek weggespring het, het munt geslaan nadat twee renjaers wat voor hom gejaag het, Marc Marquez en Jack Miller, nie die wedren voltooi het nie.
Alex Rins (Suzuki) van Spanje het die wedren gewen. Dit was ’n bittersoet oomblik vir Suzuki, wat vir die laaste keer aan die reeks deelgeneem het.
Suzuki het besluit om weens finansiële oorwegings nie in 2023 weer ’n span in te skryf nie.