Skip to main content

Dapper weduwee beveg staat ná plaasmoord

Sonnette Lombaard

Verlies, verdwaas, verlore, verrys, verslae. Maar nie verslaan nie, want haar gees is sterk om enduit te veg vir geregtigheid, sodat haar man se moordenaar nié sal wegkom nie én sy en hul tienerseun hul regmatige vergoeding ná sy wrede plaasmoord kan kry. Al loop die moordenaar op vrye voet en duur haar stryd teen die staat al bykans ses jaar sonder sukses voort, sal sy nooit opgee nie.

Aan die woord is ‘n kalm Petra Oosthuizen (47) van die Noord-Kaap wat al bykans ‘n halfdosyn jaar stoei en baklei teen vals beloftes, leuens, laksheid, nalatigheid en vergrype van die polisie, Korrektiewe Dienste en die Departement van Arbeid.

Haar nagmerrie het in Desember 2016 begin toe haar man, Hennie, toe bestuurder op die plaas Onderplaas in Groblershoop tussen Upington en Kimberley, wreedaardig deur ‘n Zimbabwiese plaaswerker met ‘n mes aangeval is en kort daarna beswyk het.

“Hennie en die werkers was vroegoggend besig met gifmengsels toe die werker, Big Boy Prosper Phiri, aggressief aangedring het op die vleispakkie wat hulle maandeliks saam met hulle betaling van die eienaar ontvang het.

“Aangesien die plaaseienaar toe met hartprobleme in die hospitaal was, het Hennie die vorige Vrydag geld uit ons eie bankrekening getrek om die werkers se salarisse te kon betaal. Ons kon egter nie die vleispakkies bybring nie. Hennie het Phiri kalm gevra om te gaan afkoel en dan werk te kom hervat.

“Hy is wel na sy blyplek, maar het teruggekom met ‘n mes en Hennie drie keer diep in die rug gesteek.”

‘n Bebloede Hennie het huis toe gestrompel waar hy twee keer inmekaargesak het. ‘n Buurman het die beseerde Hennie en sy 10-jarige seun in sy bakkie gelaai en na die kliniek op Groblershoop gejaag. By hulle aankoms was hy egter dood – die diep meswonde het sy hart en longe beskadig.

Volgens Petra, wat in hul bakkie agterna is, het haar man voor hul seun gesterf. Hul enigste kind saam is nou 16. “My kind se held was sy pa en hulle was onafskeidbaar. Hy was nooit weer dieselfde na daai treurdag nie.”

Hoewel hy lank berading gekry het, het die trauma hom verander van ‘n energieke seun en ekstrovert na ‘n skaam kind wat nie sommer uit sy kamer kom nie, vertel Petra.

Dít was net die begin van haar groter stryd. Die messteker is blitsig met die hulp van parate boere in die omgewing gevang – ‘n jong plaasseun het hom op sy perd vasgekeer. Hy is gearresteer en in die selle op Groblershoop aangehou en moes in September 2017 in Kimberley in die streekhof op ‘n moordaanklag verskyn. Hy het egter die vorige aand uit die selle ontsnap en is “weg” tot vandag.

“Niks was gebreek nie, hy het uitgestap,” sê Petra. Hoewel sy hom intussen op Facebook opgespoor het waar hy ‘n aktiewe profiel onder sy naam bedryf, loop hy steeds vry rond. Petra vermoed hy is steeds in die land. Sy het al duisende kilometers afgelê om vir die polisie bewyse te kry, maar niks word gedoen om hom weer vas te trek nie.

‘n Nog taaier stryd is die een vir vergoeding wat haar en haar seun toekom. Hoewel sy die eis teen die werkloosheidversekeringsfonds namens haarself en haar minderjarige seun reeds in Februarie 2017 ingedien het, is dit ná bykans ses jaar steeds nie uitbetaal nie. Dit was redelik gou goedgekeur maar sedertdien word Petra tussen die kantore van die department van arbeid in Upington, Kimberley en Pretoria van bakboord na stuurboord gestuur met hordes nuwe vorms heen en weer en vals beloftes dat die geld telkens uitbetaal sal word.

“Natuurlik word daar vir my gelieg. Elke amptenaar het nuwe verskonings van rekenaarprobleme en wat nog en verskuif gereeld die verantwoordelikheid na iemand anders. Telkemale oor die jare is ek belowe dat alle haakpleke nou uitgestryk is met my geld aanstons in aantog.”

Laas maand is sy nogeens deur amptenare verseker dat “die stelsel wys als is reg en deur” en dat sy op 25 Oktober eindelik uitbetaal sou word en die geld dan in haar bankrekening sal refklekteer. Dis nou tien dae later, en nog niks is inbetaal nie.

‘n Moedelose en raadop Petra beplan om nou die Vergoedingskommissaris se Ombudsman vir hulp te nader en wil ook ‘n interne departementele bedrogondersoek aanvra omdat sy sterk vermoed knoeiery is betrokke by haar geld, wat ‘n aansienlike bedrag beloop. Indien dit steeds nie werk nie, wil sy die Valke betrek.

Petra het ook onlangs by ‘n WA groep aangesluit van ander vroue landwyd wat dieselfde probleme ondervind en soortgelyke stryde voer. “Dis opmerklik ons is almal vroue, en veral weduwees word geteiken.

“Dis onaanvaarbaar hoe ons behandel word. Hierdie vroue kyk nou op na my. Ons gaan nié stil bly oor hierdie vergrype nie.”

Volgens haar het sy en haar seun die geld nodig, ook vir sy studies vorentoe. Sy moes intussen weer begin werk om liggaam en siel aanmekaar te hou en bemark nou fluks saam met ‘n vennoot Tinker ON boerseep vanuit Warrenton in die Noord-Kaap.

Die ontydige dood van haar lewensmaat op 49 was ‘n skok, maar sy is vasberade om die geveg om geregtigheid enduit suksesvol deur te voer. “Hierdie boerin word nie geflous óf gee nié op nie.”

One Comment

  • Sandra says:

    Ek wag ook vir my UIF uitbetaling nou al 14 maande

    DA en Vf-plus antwoord nie eers emails nie stel nie belang om te help nie

Leave a Reply