Skip to main content

Korrespondent

Toe die kookwaterkolwer Dewald Brevis gistermiddag die speelveld van die JB Marks Oval in Potchefstroom betree het, kon hy netsowel rooi gedra het in stede van die ligblou spankleure van Centurion se Titans.

Gerald Coetzee, wat die boulwerk names die ITEC Knights geopen het, het sy aanloopmerk in die grond gekrap soos ’n wafferse Spaanse stier wat korte mette wil maak met ’n matador.

Die toneel was gelaai met spanning en afwagting asof dit nie die eerste semi-finaal van die CSA T20 uitdaagreeks is nie, maar die International Cricket Council se wêreldbeker van dieselfde formaat wat tans in Australië afspeel.

Dis egter met goeie rede dat die Knights se visier dooksekuur op Brevis gerig was toe hulle gister om oorlewing baklei het in die reeks.

Maandag was die Vrystaatse span geheel en al aan die ontvangskant toe die brawe jong Brevis die rekords laat spat het met die vinnigste 150 lopies in die kortste formaat van witbalkrieket.

Dit het slegs 57 balle gevat om 162 te moker, die vinnigste telling tot nog toe sedert die T20 formaat in 2003 begin het, en die hoogste nog in enige plaaslike wedstryd wêreldwyd.

Sy fenomenale kolfbeurt het die Titans aangevuur tot ’n wentotaal van 271, ’n lopie-aantal wat gewoonweg in eendagwedstryde behaal word, nie T20’s nie.

Sedertdien bevind Brevis hom in hooggeplaaste geselskap, aangesien dit slegs die legendariese Chris Gayle van Wes-Indië is wat nog steeds die rekord hou vir die meeste lopies in ’n T20 – 175 van 13 kolfbeurte.

In vergelyking met die Windies se vervloeë reus van ’n kolwer is Brevis egter nie net ’n buksie nie maar ’n ‘groentjie’, en blyk dit ’n uitgemaakte saak te wees dat hy gou-gou die groen-en-goud kenteken van die nasionale span op sy bors gaan dra.

Sommige verwys klaar na hom as “Baby AB”, maar volgens die Titans se hoofafrigter, Mandla Mashimbyi, is Brevis baie anders as die voormalige kaptein van die Proteas.

“Hy’s ietwat van ’n frats”, sê Mashimbyi wie homself roem op die grootste agting vir jong spelers.

“Ons hou hom al lank dop en ek ken baie afrigters wat saam met hom gewerk het toe hy nog op skool was, eers Hennopspark Laerskool en toe Affies.”

“Almal is dit eens dat hy iets spesiaals het wat heeltemal uniek is,” sê Mashimbyi.

Hy voeg by dat die vreesloosheid van die 19-jarige speler sy grootste bate is.

“Hy’s ongelooflik positief en probeer om boulers so vroeg as moontlik onder druk te plaas. Hy glo met sy hele hart dat hy elke bal uit die park uit kan slaan.”

Maandag het Brevis dit behoorlik reg gekry deur 13 sesse en 13 viere te slaan.

Gister egter het hy sy paaltjie vir slegs nege verloor toe hy weer ’n groot lughou gemoker het.

Mashimbyi, wat oorgeneem het by Mark Boucher toe laasgenoemde die Proteas se afrigter geword het, sê dit maak hom eintlik bang om te dink watse hoogtes Brevis kan bereik en dat dit goed behartig moet word.

Hoewel hy nie Richard Levi by name noem nie, is dit welbekend dat laasgenoemde speler miskien te vinnig ‘ryp’ gedruk is in ’n sekere rigting toe sy talent bekend geword het.

Mashimbyi sê by die Titans word daar gefokus op die sielkundige aspek van spelers.

“Ons het onlangs ’n spanboukamp naby Sabie bygewoon waar die sportsielkundige, Eric Vermeulen, ons ’n ding of twee tuisgemaak het. Dit was ’n groot sukses waartydens ons geleer het wat elke speler uniek maak, en hoe sekere karaktereienskappe, soos temperament, reg aangewend kan word.

“Ons fokus nie net op talent nie. Ons opvatting is dat jy reeds talentvol is as jy by die Titans ingesluit word. Wat ons probeer doen is om die beste uit jou uit te kry vir die span se onthalwe, want beter mense maak beter krieketspelers.”

Mashimbyi raak egter nie te meegevoer oor die wêreldmedia wat behoorlik gôns oor Brevis se verwoestende lopies Maandag nie.

“Dit was spesiaal, ja. Maar Dewald is eintlik ’n baie nederige mens. Dít kan mens nie afrig nie.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!