Skip to main content

Kanker, Covid doof geliefde stemme, gesigte uit

Met die samelewing aan die herstel ná die pandemie se wurggreep en 2022 nog nie behoorlik op sy rug nie, woed nog ‘n droefjaar vir die vermaakbedryf in ons land. Met die nuus dat die geliefde radiostem van Jeremy Mansfield ook nou stil is, word die lys langer van bekende kunstenaars en groot geeste wie in die laaste paar jaar gegroet het. Dit sluit nog radiogrotes vanjaar in, soos Franci Swanepoel, Evelyn Martin en John Berks. Sonnette Lombaard berig.

Kanker is nie verniet een van die dodelikste en mees gevreesde siektes op aarde nie. Hoewel die mediese wetenskap in die laaste paar dekades reuse-vooruitgang in die stryd daarteen gemaak het, sorg dit jaarliks wêreldwyd steeds vir 10 miljoen sterftes onder oud en jonk. Dít weerklink ook in ons plaaslike vermaakbedryf met Suid-Afrikaners wat deurlopend geruk word deur die groot gros bekendes wat in die laaste paar jaar hul dapper stryde teen kanker verloor het.

Boonop is nog baie van ons goue grotes in dié tyd aan ander siektes of onbekende oorsake dood, wat ‘n yslike gat los met die verlies van onskatbare kundigheid in ons breër vermaakbedryf. Die bekendes se afsonderlike talente en gesamentlike bydrae oor ‘n wye front oor dekades het diep gekloof en is nie maklik vervangbaar nie.

Die nuutste kankerslagoffer is radioreus Jeremy Mansfield wat terminale fase 4 lewerkanker gehad het en gister dood is. Hy was geruime tyd reeds in palliatiewe sorg. Sy kankerreis het in 2009 begin toe hy eers met die bloedkanker leukemie gediagnoseer is waarvoor hy ‘n stamseloorplanting moes ondergaan. Hoewel dit aanvanklik daarna goed gegaan het, het hy later uit remissie verval toe die kanker versprei het.

Kanker kloof diep

Mansfield (59) se dood volg dié van ‘n rits plaaslike bekendes wat ook in 2022 aan die groot K dood is.

Die afsterwe van die bekroonde akteur/regisseur Gerhard Schoonhoven wat vanjaar met ‘n onbekende kanker gediagnoseer is, is verlede maand bekendgemaak.

Ditto die sangeres Rozanne Botha, jongste kind van die oudpresident wyle PW Botha, wat kort voor haar 63ste verjaarsdag haar derde kankerstryd in 12 jaar verloor het. ‘n Boek oor haar lang kankerreis verskyn binnekort.

Vroeër vanjaar het Afrikaners gerou toe die geliefde aktrise en Bothaville-boorling Elize Cawood (68), ewe bekend op ons groot- en kleinskerms, agter die mikrofoon én op die verhoog, in Julie aan longkanker dood is. Sy het aanvanklik borskanker suksesvol beveg.

In laas jaar se lente het maagkanker tot die dood van die bekroonde dramaturg en digter Pieter Fourie (81) gelei.

Einde laas jaar is die bekende Kaapse rolprent- en TV-vervaardiger Herman Binge (68) ná ‘n kort kankerstryd weggeruk.

So ook die gewilde sanger Theuns Jordaan, wat op 50 sy lang stryd teen leukemie verloor het.

Hulle het gevolg ná radio-omroeper Ian Wessels (60) wat laas April die aftog teen pankreaskanker, wat hy ‘n jaar lank beveg het, moes blaas.

Diė aggressiewe kanker het ook een van ons grootste internasionaal-gewilde musikante Johnny Clegg (66) in 2019 geëis.

Covid-oes ewe wyd

Dis onvermydelik dat die Covid-virus wat sedert 2020 tot miljoene sterftes wêreldwyd gelei het, ook in ons vermaakarena sou insypel en oes. ‘n Groep prominente vermaakveterane het in die laaste twee jaar aan die Covid-19-virus of komplikasies daarvan gesterf.

Die geliefde en veelsydige akteur Ben Kruger (64) is in Mei vanjaar dood.

Maar die gevreesde virus se slagofferlys het al vroeg in 2021 begin spook toe die radio-aanbieder, regisseur en aktrise Margot Luyt (73) daaraan dood is en teen Julie laas jaar was dit ‘n treurmaand in die bedryf toe Covid roekeloos gegryp het.

Die akteur en musiekman Lieb Bester (72) het daaraan beswyk, gevolg deur die musikante Yoti Loizos (71), bekend as die Griekse Boertjie wat toe pas sy halfeeu in ons musiekbedryf gevier het, en die talentvolle Saranti Reeders (60). Sy was veral bekend vir die TV-musiekspel Liriekeraai.

Die voormalige radiopersoonlikheid en RSG-omroeper, Amanda Olivier (72), is ook in dieselfde maand aan Covid-verwante oorsake dood, asook die musieklegende Steve Kekana (62), wat ook ‘n advokaat en regsdosent by Unisa was.

Twee maande later het een van ons grootste kunstenaars wat wye en diep spore getrap het, Frans Marx, op 73-jarige ouderdom aan Covid-komplikasies gesterf.

Veelsydige sterre groet

Nog groot en geliefde name van wie ons in die laaste drie jaar moes afskeid neem, is die akteur, regisseur en stemkunstenaar Paul Eilers (74) wat in 2019 aan ‘n embolisme dood is, en sy kollega Clive Scott (84) wat in 2021 se winter ná ‘n beroerte gegroet het.

Ditto die veteraanaktrise en stemkunstenaar Shaleen Surtie-Richards (66) wat in dieselfde tyd aan onbekende oorsake dood is. Sy was allerweë as ‘n vermaak-vaandeldraer in post-apartheid geag en geliefd onder alle Suid-Afrikaners.

In Maart vanjaar het die Kaapse stylkenner en TV-aanbieder Aleit Swanepoel (47) in sy slaap aan ‘n hartaanval beswyk.

Fliekresensent en radio-aanbieder Barry Ronge (74) wat deur alle Suid-Afrikaners gelees was, het kort daarna gevolg, ook in sy slaap.

Die Kaapse aktrise en model Charlbi Dean is in Augustus vinnig op 32-jarige ouderdom in ‘n New Yorkse hospitaal dood. Na verneem word, het Dean ‘n longinfeksie opgedoen. Sy speel ‘n hoofrol in die hoogaangeprese swart komedie, ironies getiteld Triangle of Sadness, wat die gesogte Palme D’Or-prys by Cannes in Mei gewen het.

Les bes, is nog ‘n veteraanakteur Eric Nobbs (68) verlede maand aan onbekende oorsake dood.

 

Radiogrotes se leemte

Dit is veral ons radiobedryf wat swaar gebuk gaan met klomp kundigheid van onskatbare waarde wat in die laaste paar jaar verloor is.

Net vanjaar alleen het ‘n paar groot geeste gegroet. In Maart was dit June Seymour wat op 88 aan gordelrooskomplikasies omgekom het. Dié aktrise was ook die eertydse hoof van oorklanking by die SAUK.

In Oktober is LM Radio se veteraan Evelyn Martin in die rype ouderdom van 93 dood.

Martin het die weg gebaan vir ander omroepers en nuwe geslagte se stemkunstenaars, soos Franci Swanepoel (50) wie se onlangse dood aan onbekende oorsake in die mooiste maand geskok het. Dié dogter van nog ‘n radiogrote wyle nuusleser Nic Swanepoel was ook aktrise.

 

Dubbele slag met praatpioniers

Maar die gemis in ons radiowese is nêrens groter nie as met die dood van die twee reuse-baanbrekers vanjaar – Mansfield gister en Long John Berks in Junie op 80-jarige ouderdom ná ‘n lang siekbed.

Albei was bekkig en lenige legendes met groot stemme en klein harte. Praatpioniers met bonkige verbeeldings en voorste poetsbakkers. Maar ook lewens-straatwys met ‘n musiek- en nuuskennis daarby. Hulle het programinhoud meesterlik met veral geselsradio ingekleur en standaarde gestel wat steeds geld. Dit sou lei tot roem en as vermaak-volkskatte was hulle veelsydige talente wyer in aanvraag.

Waar John Berks ‘n radio-rewolusie begin het, het Jeremy Mansfield die vaandel tot in die nuwe millennium verder gedra. Albei superstemme wat draadloos-delight vervolmaak het, is nou binne een jaar uitgedoof.

Met soveel reuse-bome wat in ‘n kort tyd uit ons bedryfsbos gekap is, laat dit die plaaslike vermaakbedryf mank aan die unieke en veelsydige talente waarmee hierdie geslag kunstenaars gelei, geslyp, geploeg, geïnspireer en vermaak het. Ja, die lewe gaan aan maar sulke kaliber kundigheid skop jy nié agter elke bos uit of vervang kitsmaklik nie.

Ons sal hulle en hulle onvergeetbare bydraes mis.

Leave a Reply