Skip to main content

Korrespondent

Disneyland se speelplek in China, die temapark in Chuansha New Town in Shanghai, het in ’n nagmerrie ontaard vir duisende besoekers wat hul pret moes kortknip uit vrees vir ’n coronavirus-uitbreking.

Plesiersoekers was nog besig om hulself met gil-ritte te vermaak toe owerhede ’n inperking afgekondig het.

Volgens China se streng zero-Covid maatreëls is mense vantevore al verhoed om vakansiebestemmings en plekke van vermaak te verlaat as die virus onder mense gediagnoseer word.

Dié onbuigsame poging om Covid-19 hok te slaan het volgens berigte uit China al dikwels daartoe gely dat mense in ‘vreemde’ plekke ingeperk word, soos winkelsentrums.

Saterdag in Shanghai Disneyland was gewis ook g’n uitsondering nie.

Beeldmateriaal wat versprei is wys hoe hordes mense, almal met maskers op, inderhaas koers kies hekke toe terwyl beamptes met luidsprekers rondloop om die inperking af te kondig.

Pogings om die temapark te verlaat voor die afsnytyd van 11:30 vm (05:30 in Suid-Afrika), waartydens die inperking in werking getree het, was egter tevergeefs.

Dit wil nou voorkom dat die park se bestuur die hekke voortydig gesluit het, met die gevolg dat duisende mense sedert die naweek ‘gevangenes’ van Disneyland is.

Die gestrande besoekers het intussen verneem dat alle pretritte sal aanhou solank hulle nie die park kan verlaat nie.

Dis nie bekend watse maatreëls intussen geneem is om verblyf aan die mense te verskaf nie.

Op die oomblik wil dit voorkom dat die enigste uitkomkans is om ’n negatiewe Covid-toets te verskaf – ’n vereiste wat saam met die inperking afkondig is.

Mense wat die park in die laaste 48 uur voor die inperking besoek het, is intussen ook ingelig dat hulle drie negatiewe toetse oor drie agtereenvolgende dae moet lewer om outoriteite te oortuig dat hulle nie draers van die virus is nie.

Kritiek is egter besig om vinnig toe te neem oor die akkuraatheid van die positiewe toetse wat tot die naweek se inperking gely het.

Tien mense is positief getoets, maar nie een het simptome van die virus getoon nie.

Die huidige situasie by Shanghai Disneyland is amper ’n jaar nadat 30 000 mense verlede November in die park gestrand was weens ’n soortgelyke Covid inperking.

Dit was boonop nie die enigste uitbreking van die hoogs aansteeklike virus in China verlede Saterdag nie.

Volgens berugte was klante nog besig met inkopies by die Sweedse meubelreus, Ikea, se fasiliteit in dieselfde stad toe ’n inperking afgekondig is.

Sover verneem is, is niemand binne die winkel toegesluit nie.

Bo en behalwe kritiek oor die akkuraatheid van Covid-toetse, begin mense nou ook al hoe meer vrae te vra oor die arbitrêre wyse waarop inperkingsmaatreëls toegepas word.

Hoe is dit byvoorbeeld moontlik dat soveel besoekers aan Shanghai Disneyland nie die afsnytyd kon maak nie, maar wel in Ikea se winkel, blykbaar self ’n tamaai kompleks?

Die inperking van Shanghai Disneyland is maar net een van sowat 200 wat tans regoor China geld.

Die land se president, Xi Jinping, het egter aangekondig dat daar geensins afstand gedoen gaan word van zero-Covid beperkingsmaatreëls nie, in weerwil van meeste Chinese burgers se beswaar.

Volgens mediese statistieke word meer as 1 000 gevalle van Covid onder die land se bevolking van 1.45 biljoen mense aangemeld.

Die prys wat China egter betaal om sy mense in te hok is uiters hoog, en na raming is die land se BBP besig om te krimp teen sowat 3% elke kwartaal.

Leave a Reply

error: Content is protected !!