Skip to main content

Isaac Cloete

‘n Soldaat wil sy aftrede afsluit met ‘n ellelange fietstoer ter wille van kankerbewusmaking.

Met dié gebaar glo die weermagman, Edward “Eddie” Willemse, dat hy opnuut die Noord-Kaapse publiek bewus kan maak van die gevare en hartseer van kanker.

Hy was sedert 1983 aan die weermag verbonde, nadat hy destyds by die ou Suid-Afrikaanse Kleuringkorps(SAKK) aangesluit het.

Kimberley, Vryburg en Upington was sy weermagbasisse. Na byna 40 jaar in die weermag, tree Willemse vandag af.

Op aandrang van sy jarelange vriend, Jakes Nakoo, het Willemse besluit om sy aftrede af te sluit met ‘n uitdagende fietsrit van 664km tussen Upington en Alexanderbaai.

Willemse het sy moeder in 2021 aan die dood afgestaan weens kanker. So ook het Nakoo onlangs ‘n goeie vriend verloor aan kanker.

Die fietstoer sal op 27 November in Upington begin en op 3 Desember by Kuboes, naby Alexanderbaai, eindig. Tydens die toerrit sal dorpe soos Kakamas, Pofadder, Aggeneys en Springbok besoek word.

Die plan is om by VGK-kerke in hierdie dorpe omgeedienste vir kankerpasiënte te hou.

Voorts gaan brosjures oor kanker en kankerverenigings hier uitgedeel word.

Die fietstoer het ook ten doel om mense aan te moedig om meer om te gee vir kankerpasiënte. Sodoende sal die publiek hopelik ook meer fondse aan kankerverenings bewillig.

Skakel vir Eddie (082 7248497), Jakes (084 9960492) of Hannelie (065 7265584) om meer inligting oor die fietstoer te kry.

Leave a Reply