Skip to main content
Welgedaan. Die Indiese krieketheld Virat Kohli wens David Miller geluk met sy uitstekende kolfbeurt en die Proteas se oorwinning.

Kobie Cilliers

KRIEKET

Vergeet vir ‘n oomblik dat die Proteas se sukkelende kaptein, Temba Bavuma, sy span Sondag in Australië weer met die kolf in die steek gelaat het.

Kom ons vier eerder die feit dat Suid-Afrika ná sy oorwinning in Perth teen Indië, een van die gunstelinge in vanjaar se T20-Wêreldbekertoernooi, bo-aan Groep B pronk.

Suid-Afrika is saam met Nieu-Seeland die enigste onoorwonne spanne in die toernooi nadat die Proteas danksy skitterende vertonings deur die boulers Lungi Ngidi en Wayne Parnell en die kolwers David Miller en Aiden Markram vir Indië met vyf paaltjies geklop het.

Die Proteas het met Markram (52 lopies van 41 balle) en Miller (59* van 46 balle) aan die spits die wenteiken in 19.4 beurte behaal om die kragmeting op 137/5 af te sluit. Hulle vennootskap van 76 lopies om die vierde paaltjie was deurslaggewend nadat die Suid-Afrikaners op ‘n stadium op 24/3 gesteier het.

Bavuma, wie se 10 lopies in Perth sy hoogste telling in sy laaste agt internasionale T20-beurte was, se snelboulers het gedy en Indië vroeër tot 133/9 beperk nadat Ngidi (4/29) en Parnell (3/15) onder die Indiese kolwers gemaai het.

Suid-Afrika se oorblywende groepwedstryde word teen Pakistan en Nederland beslis.

Die Proteas bevind hulle in ‘n uitstekende posisie in Groep B om verder in die toernooi te vorder, maar indien hulle teen Pakistan verloor en die wedstryd teen Nederland deur reën gekelder word, kan hulle nog voor die halfeindronde uitgeskakel word.

GHOLF

LIV Golf se onstuimige eerste seisoen het die naweek op die Trump National Doral-baan in Miami afgesluit.

Die uiters lonende rebellereeks, wat deur Saoedi-Arabië se openbare beleggingsfonds gefinansier word en van meet af aan in omstredenheid gehul is, het Sondag in sy laaste rondte van die jaar sy heel eerste kampioenspan gekroon.

Kaptein Dustin Johnson het die 4 Aces aangevoer tot die titel en prysgeld van $16 million vir die eerste plek.

Johnson het voorheen gesê dit is die mededinging, nie die prysgeld nie, wat hom opgewonde maak. Maar die voormalige wêreld nommer een en Amerikaanse Meesters-kampioen het in elk geval munt geslaan deur bo-aan die LIV-geldlys te eindig met meer as $35 miljoen in slegs agt toernooie (insluitende die bonus van $18 miljoen wat hy as die seisoen se individuele kampioen verdien het).

Daardie groottotaal neem nie in berekening die $150 miljoen wat LIV Golf aan Johnson betaal het om hom van die PGA-reeks weg te lok nie.

Johnson se 4 Aces-spanmaats, Pat Perez, Patrick Reed, en Talor Gooch, het elkeen ook $4 miljoen in die sak gesteek.

Vier spanne naamlik die 4 Aces, Punch GC wat deur die Britse Ope-kampioen Cameron Smith aangevoer is, Smash GC met die viermalige major-wenner Brooks Koepka as kaptein en Louis Oosthuizen se Stinger het in Sondag se eindstryd gespeel.

FORMULE EEN

Drama het Sondag se Mexikaanse Grand Prix voorafgegaan nadat Fernando Alonso en sy Alpine Formule Een-span die aanlyn-mishandeling van die wedrenbeampte Silvia Bellot veroordeel het.

Die Spaanse tweemalige wêreldkampioen sou aanvanklik in sy skik gewees het nadat ’n straf wat hy ná die Amerikaanse Grand Prix opgelê is, op ’n tegniese punt herroep is.

Bellot, ook van Spaanse afkoms en die enigste vroulike wedrenbeampte by die Grand Prix in Austin, het dié rol ook die afgelope naweek in Mexikostad vervul.

Alpine, wat deur Renault besit word, het op Twitter gesê die span “is teleurgesteld om te hore te kom van die onaanvaarbare teistering”.

Alonso, wat sewende in Texas geëindig het, is ná afloop van die Amerikaanse Grand Prix met 30 sekondes beboet en het gevolglik tot in die 15de plek teruggesak. Hy het ook sy ses wêreldkampioenskapspunte in die proses ingeboet.

Dít nadat hy en Lance Stroll (Aston Martin) in ’n groot botsing betrokke was en Alonso wonderbaarlik aangehou jaag het.

Haas het ná die wedren ’n klagte ingedien dat Alonso met los bakwerk bestuur het, wat ’n gevaar vir sy medejaers geskep het.

Daar is egter bevind dat Haas se protes nie binne die voorgeskrewe halfuur ná die ren ingedien is nie en gevolglik is Alonso se straf teruggetrek.

“Ek veroordeel die onlangse aanlyn-mishandeling wat op die FIA se wedren-beampte Silvia Bellot gerig is, ten sterkste,” het Alonso op sosiale media gesê.

“Hierdie tipe optrede is onaanvaarbaar in ons sport sowel as die wyer gemeenskap. Dit is veral betreurenswaardig dat hierdie tipe kommentaar op een van ons sport se vrywilligers en beamptes gerig is.”

* Wat die Grand Prix self betref het Max Verstappen en sy Red Bull-span reeds voor die wedren die wêreldkampioenskaps- én vervaardigerstitel in die sakkie gehad.

Verstappen, wat ’n tweede wêreldtitel in die Japannese Grand Prix beklink het, het in Mexikostad nog ’n groot mylpaal bereik deur die meeste Formule Een-oorwinnings in ’n seisoen te behaal.

Die Nederlander het die Mexikaanse Grand Prix gewen en sy 14de oorwinning van die seisoen behaal. Dit is een meer is as die vorige rekord wat hy met Michael Schumacher (2004) en Sebastian Vettel (2013) gedeel het.

Verstappen het ook die rekord vir die meeste punte (416) in ‘n seisoen verbeter.

Dit moet egter gemeld word dat daar deesdae meer Grands Prix as ooit tevore aangebied word, met 22 in die 2022-seisoen teenoor die 19 in 2013 en 18 in 2004.

RUGBY

Die gebruiklike jaareindtoetse het Saterdag met kragmetings tussen Nieu-Seeland en Japan en Skotland en Australië afgeskop.

Die All Blacks het groot geskrik op pad na ‘n oorwinning met 38-31 voor meer as 60 000 toeskouers in Tokio se National-stadion.

Die besoekers moes boonop die laaste 14 minute met slegs 14 spelers klaarkom nadat die slot Brodie Retallick weens gevaarlike spel by ‘n losskrum met ‘n rooi kaart van die veld af gestuur is.

Die All Blacks se afrigter, Ian Foster, glo die feit dat sy span verroes is, het ‘n groot rol in Saterdag se sukkel-vertoning gespeel.

Hoewel die All-Blacks die Japanners met ‘n grootliks eksperimentele span vol nuwe kombinasies aangedurf het, wil dit voorkom of die dae wat een van die beroemdste sportspanne ter wêreld sy toptien-teenstanders redelik gereeld met oortuigende tellings klop, iets van die verlede is. Jamie Joseph, afrigter van die Brave Blossoms en ’n boorling van Nieu-Seeland wat in sy speeldae vir die All Blacks en Japan toetsrugby gespeel het, het immers ná die toets gesê “die vrees vir All Blacks bestaan dalk nie meer nie”.

Dit is uiteraard ‘n goeie ding vir die sport wat beter mededinging betref: Die All Blacks het in 1987, 2011 en 2015 die Wêreldbekertoernooi gewen, maar is nou in die vierde plek op Wêreldrugby se ranglys.

Nietemin, enigiemand wat dink die Kiwi’s gaan nie veel van ‘n faktor by die rugbyskouspel volgende jaar in Frankryk wees nie, skryf hulle waarskynlik heeltemal te vroeg af.

* Die Wallabies het Saterdag op Murrayfield hulle wendroogte van ses jaar teen Skotland danksy ‘n verbroude strafdoel deur hul teenstanders verbreek.

Australië het ‘n agterstand uitgewis om ‘n onaanskoulike toets met 16-15 te wen en hulle eerste oorwinning teen die Skotte sedert 2016 te behaal.

Daar was net minder as twee minute se speeltyd in die wedstryd oor toe die Wallabies ’n strafskop in hulle eie helfte van die veld afgestaan het. Blair Kinghorn, losskakel van Skotland, het pale toe aangelê, maar kon nie drie punte met ’n strafdoel byvoeg nie.

Kinghorn, wat reeds die regmerkie as Speler van die Wedstryd agter sy naam gehad het, het aan die einde die bal links verby gestuur.

* Die Springbokke begin hulle jaareindtoer Saterdag in Dublin met ’n taai toets teen Ierland. Die Iere beklee die eerste plek op die wêreldranglys en het vroeër vanjaar ‘n geskiedkundige eerste reekssege oor die All Blacks in Nieu-Seeland behaal.

Saterdag se toets sal deur die Bokke en Ierland as ’n belangrike proeflopie vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi beskou word.

Die Iere en die Bokke is albei in groep B geloot. Hulle pak mekaar op 23 September 2023 in Parys.

* Die Springbok-vrouespan het reeds twee weke gelede die Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland sonder ‘n enkele oorwinning in die groepfase afgesluit, maar die afgelope naweek se kwarteindronde het ‘n noemenswaardige nuwe rekord opgelewer.

Die Nieu-Seelandse vleuel Portia Woodman het Saterdag twee drieë in die verdedigende kampioen se klinkende oorwinning met 55-3 teen Wallis aangeteken.

Die Kiwi’s, wat die Wêreldbekertitel reeds op vyf geleenthede gewen het, het die halfeindronde vir die sewende keer in agt toernooie gehaal en sal Saterdag met Frankryk om ‘n plek in die eindstryd kragte meet. Die Franse het vroeër die dag met 39-3 met Italië afgereken.

Woodman se tweekuns was haar sesde en sewende drieë in vanjaar se toernooi. Dit was ook haar 19de en 20ste vyfpunter en maak haar die voorste drieë-vraat in die geskiedenis van die toernooi.

* Die twee Suid-Afrikaanse derbies was sekerlik die hoogtepunt vir plaaslike rugby-aanhangers in die naweek se Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-aksie.

Die indrukwekkende jong Leeus-span het Saterdagmiddag op Ellispark in Johannesburg net kort geskiet om die Stormers te klop, met die verdedigende kampioen se ervaring kalmte wat die deurslag gegee het.

Die Kapenaars het uitstekend in die tweede helfte vertoon en die druk op die tuisspan gelaai om met 31-22 te seëvier. Dit nadat die Johannesburgers rustyd nog met 22-10 voorgeloop het.

Dié nederlaag is die Leeus – wat in die eerste helfte soos kampioene gespeel het – se derde op hul tuisveld dié seisoen. Hulle het ook voorheen in Johannesburg teen die Bulle en Ulster verloor. Hoewel hulle ná Saterdag se nederlaag tot die negende plek op die VRK-punteleer afgesak het, het hulle een minder wedstryd as 11 ander van die 16 spanne in die toernooi gespeel.

Die Stormers is in die vierde plek op die punteleer, maar het een minder kragmeting as twee ander spanne bo hulle gespeel.

* Ons bevind ons eintlik maar nog in die beginfase van die VRK-era, maar dit voel steeds vreemd wanneer twee Suid-Afrikaanse spanne mekaar op ‘n Sondagmiddag die stryd aansê.

Al het ‘n groot gedeelte van die Bulle en die Haaie se kragmeting in Pretoria met die Proteas se prag-oorwinning teen Indië in Perth gebots, kan jy nie stoere rugbyaanhangers kritiseer as hulle eerder die aksie op Loftus Versfeld dopgehou het nie.

Die Bulle het uiteindelik drie drieë in die laaste 14 minute van die kragmeting deur plaasvervangers nodig gehad om die aanslag van die Haaie af te weer.

Die Bulle het met 40-27 geseëvier, maar die besoekers van Durban het vir ’n wyle ná rustyd nog met 20-19 voorgeloop.

Die Bulle, wat deur die loop van die tweede helfte al hoe meer soos die span gelyk het wat verlede jaar die eindstryd van die VRK-reeks gehaal het, het met dié bonuspunt-oorwinning na die derde plek op die VRK-puntelys opgeskuif.

Die Haaie is agtste, maar het ná sewe rondes nog net vyf wedstryde gespeel, die minste van enige ander span in die VRK-reeks.

TENNIS

Felix Auger-Aliassime het Sondag sy derde titel in drie weke verower nadat hy Holger Rune van Denemarke met 6-3, 7-5 in die eindstryd van die ATP-byeenkoms in Basel, Switserland geklop het.

Die negende gekeurde Kanadees bevind hom nou in die sesde plek op die puntelys vir die ATP-jaareindtoernooi wat vanaf 13 November in Turyn, Italië, deur agt spelers beslis word.

Auger-Aliassime het die Switserse titel by die trofees wat hy onlangs in Florence en Antwerp gewen het, bygevoeg.

Leave a Reply