Skip to main content

Anrich Gericke en Werner van der Merwe Rock die Kaap warm

Bellville en Durbanville is die Rock–mekka van Suid-Afrika. Dink maar aan groepe soos A-King, FPK, en Die Heuwels Fantasties. Twee nuwe latte is egter besig om die trefferparades aan die brand te sing. Gerald Eloff het met hulle gaan gesels oor hoekom hulle enkelsnitte vrystel in stede van vollengte albums, oor Demi-Leigh Moore se ondersteuning, oor kitaarsolo’s en hoekom die eerste paar sekondes van ʼn liedjie bitter belangrik is.

Dink jy daar is nog plek in die Afrikaanse musiekbedryf vir regte (of organiese) instrumente? Dit wil voorkom of die mark deesdae met elektroniese of geprogrammeerde musiek oorheers word?

Daar is beslis meer druk op musikante om elektroniese elemente in liedjies te sit. Die elektroniese elemente laat liedjies op die radio groter en voller klink, en laat dit uitstaan. Wanneer dit egter gekombineer word met organiese instrumente (soos kitare, ʼn lewendige bas en dromme), maak dit die musiek meer “eerlik.” Mense kan die lewendige instrumente “voel”. Ons kombineer dit tans en hopelik sal mense die lewendige instrumente “voel”, asook die “energie” wat die elektroniese elemente bring. So, daar ìs ʼn plek daarvoor, maar ʼn mens moet vindingryk te werk gaan.

Die musiekvideo vir Wentelbaan se produksie is van hoogstaande gehalte. Hoe groot rol speel die kwaliteit van ʼn musiekvideo (of treffende musiekvideo) in vandag se musiekbedryf?

Ek dink dis besonders belangrik as iemand klik om die video oop te maak, dat hulle iets anders en oorspronklik sien. Ons het die video in baie lae lig geskiet met ʼn kamera wat ideaal is daarvoor. Dit het ʼn waserige effek gegee wat lekker by die tema van die liedjie gepas het. Beligting en temas speel ʼn groot rol, anders lyk alle video’s dieselfde. Ons wil hê mense moet terugkom en weer kyk.

Dink julle daar is genoeg platforms in Suid-Afrika om nog musiek vry te stel? Nou dat MK89 en Tuks FM nie meer alternatiewe musiek/Rock speel nie?

Dit was ʼn hartseerdag toe MK89 toegemaak het. Wat ons wel help is dat die SAUK radiostasies deesdae verplig om tot 70 tot 80% plaaslike musiek te speel – voorheen was dit oorheers deur internasionale musiek. MK89 was lekker vir blootstelling van musiekvideo’s, en net om te sien wat ander jong bands in die bedryf gedoen het. Daar is darem KykNET NOU!, alhoewel ek dink die kykers maar beperk is. YouTube is maar ons platform vir video’s. Wat die stromingsdienste betref – dis asof jy reeds bekend moet wees om regtig goed te doen. Al is die liedjie goed, maar die kunstenaar is onbekend, gaan jy nie goed doen nie – dit het maar te doen met die platforms se algoritmes. Groot Ontbyt en die Expresso Morning Show ondersteun darem ook nuwe kunstenaars. Dit sal lekker wees as van die groot feeste meer blootstelling aan nuwe kunstenaars kan gee – maar ʼn mens verstaan ook hoekom hulle groot name wil betrek, want hulle moet kaartjies verkoop.

In watter genre pas julle musiek?

Pop-rock is die genre wat ons die beste beskryf, alhoewel ʼn liedjie soos Wentelbaan dalk ook as Soft Rock gesien kan word. Ons uitgangspunt bly maar om hoë-energie Rockmusiek te maak vir alle ouderdomme. Ons het aanvanklik gedink ons mark is tussen 18 en 25 maar toe sien ons daar is baie mense tussen die ouderdom van 40 en 60 wat ook daarvan hou. Dis dalk ʼn goeie ding dat dit nie so alternatief is nie, soveel so dat jy die ouer mark vervreem.

Watse rol vertolk julle in die duo? Wie skryf lirieke en wie werk aan die melodie?

Ek is die hoofsanger en skryf die liedjies, ek speel ook akoestiese kitaar, maar fokus meer op die ritme. Werner sal die kitaarsolo’s doen saam met die res van die kitaar-elemente. As ons live speel, kan Werner op sy eie die gehoor om sy pinkie draai – daar is niks wat mense so opgewonde maak soos ʼn ongelooflike kitaarsolo nie!

Watter Suid-Afrikaanse groepe of kunstenaars? En watter internasionale groepe?

Ek en Werner het albei as kinders baie van alternatiewe Afrikaanse- musiek gehou. Bands soos Die Heuwels Fantasties het ons die lig laat sien in die sokkiemusiektonnel. Ons (soos baie ander groepe) hou baie van John Mayer as musikant. Ek persoonlik hou baie van One Republic en Ed Sheeran, selfs Taylor Swift – haar talente strek baie verder as Break-up songs!

Wat dink julle is die geheim vir ’n suksesvolle treffer?

Ons is nog in ʼn leerproses. Ons stem wel saam dat daar in die eerste paar sekondes van ʼn liedjie genoeg interessante elemente moet wees, sodat die luisteraar nie skip na die volgende liedjie toe nie. Die liedjie moet ook temas bevat wat vassit in iemand se kop – sodat dit emosies by hulle ontlok.

As musikante, wie is die groep saam met julle die meeste sal wil optree?

Demi-Leigh Moore en haar band het baie van haar tyd en energie in ons musiek ingeploeg. Ons het al ʼn hele paar keer vir hulle geopen. Spoegwolf is die ander groep wat altyd bereid is om te help en raad te gee. Ek is seker die lys sal groei soos wat ons met ons loopbane aangaan.

Hoe voel julle oor die Suid-Afrikaanse musiekbedryf? Is daar nog genoeg oorspronklike Afrikaanse musiek wat die lig sien?

Ek dink dis vir die luisteraars ʼn baie opwindende tyd; dit wil vir my voorkom of daar amper weekliks ʼn nuwe groep of kunstenaar kwaliteit musiek uitbring. Daar is ook soveel meer aanlyn-hulpbronne vir kunstenaars deesdae en maniere om musiek op te neem. Baie mense het gevoel dat Afrikaanse musiek ʼn spesifieke klank het, selfs nog voor jy die Afrikaanse lirieke gehoor het – dit is besig om te verdwyn. Die internasionale invloede speel hier ʼn groot rol. Daar is wel nou meer kompetisie vir ons as musikante, maar dit motiveer ons om beter te doen.

Deesdae lyk dit soos die norm om singles of enkelsnitte vry te stel voor ’n album – het julle doelbewus die benadering gevolg?

Ons het doelbewus eers ʼn enkelsnit uitgereik omdat ons vir elke liedjie lugtyd wou gee. Ons kan al die bemarking fokus op dié liedjie en ons kan ʼn video maak. Ons het gevoel as ʼn nuwe groep, indien ons ʼn vollengte album uitreik, dat van die liedjies dalk verlore gaan raak tussen die sterker snitte. Dis definitief iets wat al hoe meer en meer in die bedryf gebeur. As ʼn mens ʼn album uitbring, vergeet mense vir ʼn ruk – met enkelsnitte behou jy die luisterraars se aandag, want jy kan maandeliks ʼn liedjie uitreik.

Julle is beide van Durbanville in die Kaap – is daar iets in die water omdat so baie Rockgroepe uit daai wêreld ontstaan?

Ek moet sê, in ʼn tien kilometer radius van my huis, is daar nogal ʼn paar groepe wat musiek maak! Dit was aanvanklik meer Engelse musiek, maar in die laaste tien jaar het dit meer geswaai na Afrikaanse musiek. Hier is baie vervaardigers en mense wat saam met jou wil werk; jy loop feitlik altyd ʼn musikant raak as jy in ʼn restaurant sit. In my hoërskool, ʼn hele paar jaar voor my, was Die Heuwels Fantasties, Foto na Dans, drie uit die vyf lede uit Fokofpolisiekar, asook Loki en Margo Rothman en natuurlik Demi-Leigh Moore, wat ook in die omgewing woon.

Leave a Reply