Skip to main content

Die tyd vir Die Waarheid Media se Grootste Afrikaanse Dig- en Skryfkompetisie het weer aangebreek. Hierdie sal die elfde kompetisie van sy soort wees.

Dié kompetisie, wat al sedert 2016 die dig- en skryfvernuf van deelnemers toets, het van ‘n klein begin gegroei tot ‘n magtige reus. Nie net het die aantal deelnemers in die opvolgende jare gegroei nie, maar so ook die allemintige prysgeld. In totaal word meer as R300 000 in prysgeld aan die wenners oorhandig.

Die kompetisie word deur die Facebook-groepe Skryf Jou Storie en Diggroep vir Beginners en Begaafdes aangebied. Aansluiting by hierdie groepe is die eerste stap in jou deelname. Daar is weliswaar min akademies-literêre prestige gekoppel aan die kompetisie en met goeie rede. Daar word ‘n geleentheid geskep vir enige persoon wat ‘n passie vir die taal en die letterkunde het om hier te kom saamskryf aan ‘n werklike unieke kompetisie. Daar is juis twee afdelings waarin die deelnemers kan deelneem, naamlik die afdeling vir Beginners en die kompetisie vir Begaafdes.

So hoe werk hierdie kompetisie?

Elke week word ‘n opdrag geplaas wat die deelnemers binne sewe dae moet voltooi. Na beoordeling deur ‘n deurwinterde paneel beoordelaars, val ‘n persentasie deelnemers weekliks uit. Dus werk die kompetisie op die “uitklop”-prinsiep.

Hierdie is ‘n marathon-kompetisie wat die digter en/of skrywer oor tien weke ( en tien opdragte) tot die uiterste toets. Kennis, tegniese vaardighede, kreatiwiteit en gedissiplineerdheid word deurentyd vereis.

Die hoof uitgangspunt met die kompetisie is om ons taal, Afrikaans, te laat seëvier. Om enigiemand en almal die geleentheid te gee om binne die hoogste funksie van die taal met die taal om te gaan en in die proses wonderlike woordkuns te skep.

So wat het Emperor’s Palace, die Table Bay Hotel en The Palace of the Lost City almal in gemeen? Almal is vyfstersterhotelle, maar ook van die tuistes van ons gala-geleenthede. Meeste van ons vorige wenners sou sê dat hulle nie vir die prysgeld (of die lekkerte) dig en skryf nie, maar vir die geleentheid om een van die gala’s by te woon. Die Top 10 van ons Begaafde-afdeling en Top 5 van ons Beginner-afdeling word aan die einde van hierdie strawwe kompetisie weggevoer na ‘n absoluut onvergeetlike naweek. ‘n Naweek wat hulle nie ‘n dooie sent kos nie. Van verblyf- tot vervoerkostes word in totaliteit gedek deur die borge. Maar dit gaan hier oor meer as net die koninklike bederf, dit gaan hier oor die samekoms en “in-lewende-lywe-ontmoetings” van deelnemers wat deur die loop van tien weke soos familie geraak het.

So … sien jy kans om hierdie tienweek-reis mee te maak? Gaan sluit vandag nog aan by die Facebook-groepe Skryf Jou Storie en Diggroep vir Beginners en Begaafdes, en skryf in.

Skryf jou Storie se skakel:

https://www.facebook.com/groups/993537684068068

Diggroep vir Beginners en Begaafdes se skakel:

https://www.facebook.com/groups/1025433287504287

Inskrywings sluit op 17 November en die kompetisie skop op 21 November af. Inskrywings is gratis.

As jy met woorde kan toor kom betower ons hierdie kompetisie … ons wag vir jou!

Leave a Reply