Skip to main content

Sonnette Lombaard; foto’s Dawid Roux

Vandag het die Zoeloevolk sowat 18 maande ná die geweldadige onluste in KwaZulu-Natal verenig en dié keer trots en vreedsaam hul tradisieryke kultuurerfenis uitgestal toe hulle nuwe heerser, koning Misuzulu feestelik in Durban ingehuldig is.

Die nuwe koning, wat ná ‘n intense familietwis en hofgeding eindelik sy volk as heerser kon groet, het in ‘n tyd van politieke spanning landwyd ‘n boodskap van versoening gebring. Sy onderdane het hom luid en entoesiasties verwelkom en erken met die tradisionele Zoeloe-kreetgroet Bayede! wat heil die koning/leier beteken.

Meer as 20 000 mense het na die indrukwekkende Moses Mabhida-stadion in die hawestad opgeruk om die kleurryke seremonie mee te maak. Verskeie hooggeplaastes van alle politieke groeperinge en ander belangrike gaste het die tradisionele inhuldigingseremonie bygewoon.

Hoofregter Raymond Zondo het die aflê van die eed behartig, wyl pres. Cyril Ramaphosa wat ook gepraat het, van die regering se kant ‘n sertifikaat van erkenning aan koning Misuzulu oorhandig het.

KZN se AmaZulu-koningshuis met legendariese oudkrygerkonings soos Shaka en Dingaan en sterk familiebande met die Swazi-koningshuis, is een van die oudste monargieë op die vasteland en die invloedrykste een in die land. Dit speel ‘n prominente rol in die Suid-Afrikaanse politiek, veral in die balanseer van die magsewewig in die ANC tussen die Xhosas en Zoeloes.

Ramaphosa is aanvanklik met sy aankoms ook toegejuig deur die skare, maar dit was later hoe kwater en teen die middag is hy deur ‘n groot deel geboe. Hy het verwys na die AmaZulu wat op die heuwels van Isandlwana 143 jaar gelede ‘n stryd vir hul land en vryheid gevoer het. “Vandag betree ons ‘n nuwe fase van hierdie trotse geskiedenis. Die tradisionele leiers is die bewaarders van die erfenis, kultuur en tradisies wat ons gemaak het wie ons is.”

Daarteenoor is die nuwe koning, wat op die grootskerm-televisie soms gevang is dat hy ‘n uiltjie knip, telkens oorverdowend luid en lank deur sy volksgenote toegejuig. Duisende van die Zoeloe-krygergroepe, wat mans en vroue, jonk en oud, ingesluit het, het beurte gemaak om in groeperinge deur die dag die stadion binne te kom om hul gevegskuns saam met danspassies uit te stal en hul nuwe monarg te salueer.

Die kleurvolle krygergroepe was in tradisionele Zoeloedrag geklee en oudergewoonte gewapen met skilde, assegaaie, knopkieries en pangas. Tradisionele tromme en vuvuzelas het ook gereeld opgeklink. Die meerderheid van die toeskouers en gaste was ewe spoggerig tradisioneel uitgevat. Dit het vir ‘n see van kleur gesorg.

Koning Misuzulu (48), self trots geklee in volle Zoeloe-mondering, se inhuldiging volg op ‘n jaar se bittere familietwis in die AmaZulu-koningshuis oor wié die volgende monarg moet wees. Die Zoeloe-koninkryk is deesdae ‘n konstitusionele monargie, wat beteken sy leier moet aangewys word.

Misuzulu is die derde oudste oorlewende seun van die geliefde koning Goodwill Zwelithini, wat laas jaar dood is en die eerste seun van een van sy vroue, koningin Mantfombi Dlamini. Sy is kort daarna in raaiselagtige omstandighede dood en skaars ‘n maand nadat sy as tydelike leier op die troon was én voor sy ‘n opvolger kon aanwys. Dit het ‘n familietwis ontketen oor watter een van sy seuns die troon moet bestyg. Na bewerings van vals handtekeninge in haar testament wat deur die Valke ondersoek is, is Mizuzulu eindelik amptelik as opvolger aangewys. Sy tradisionele inhuldiging, oftewel kraalplegtigheid ukungena esibayeni is in Augustus vanjaar in KZN se noorde gehou.

Ná vandag se seremonie het die stadion se feestelikheid oorgespoel na Durban se strate en vrolike vieringspartytjies is wyd en syd gehou, ook noordwaarts waar sirenes, musiek en harde gelag in Umhlanga tot laat met die seegeluide meegeding het.

Leave a Reply