Die kongres van die Kommunistiese Party (CPC) se verkiesing van hoofsekretaris Xi Jinping vir ‘n derde termyn as die Chinese leier, het ‘n 30-jaar lange tradisie verbreek waartydens leiers slegs vir twee termyne aan beheer van die magsblokland kon staan.
Jinping het self reeds in 2018 gesorg dat die nodige wetlike voorvereistes in plek is sodat dit kan gebeur.
“Noudat Xi aan bewind bly, stel dit Rusland in staat om ‘n langtermynplan te hê vir die ontwikkeling van sy vennootskap met China”, meen Alexander Lomanov, adjunkhoof van die Primakov-instituut vir Ekonomie en Internasionale Betrekkinge.
Intussen sal die konfrontasie tussen China en die wêreld se ander groot moondheid, die VSA, na verwagting voortduur.
Taiwan sal een van die neteligste kwessies vir beter betrekkinge tussen die VSA en China wees, aangesien Beijing die herintegrasie van die eiland as ‘n saak van wesenlike belang beskou.
Xi het tydens die 20ste Kommunistiese Party-kongres gepraat oor ‘n vreedsame hereniging, hoewel ‘n militêre scenario nie uitgesluit is nie.
Vasily Kashin, direkteur van die Sentrum vir Omvattende Europese en Internasionale Studies (CCEIS) by die Hoër Ekonomiese Skool, sê ‘n militêre konflik oor Taiwan is binne die volgende drie tot vier jaar ‘n waarskynlikheid.
Sou dit gebeur, sal Amerikaanse betrokkenheid onvermydelik wees, hoewel dit nog nie duidelik is nie of die VSA werklik sal probeer om Taiwan te red of bloot sal ingryp om vernedering te vermy.
Toe die VSA in 1979 betrekkinge met die Republiek van China verbreek het, het dit terselfdertyd die Wet op ‘n Taiwan-verhoudinge onderteken, wat Amerikaanse beloftes van ondersteuning vir Taipei insluit. Dit stipuleer egter nie spesifieke maatreëls van militêre hulp nie indien Beijing ‘n offensief sou loods. Dit kan deur die president van die VSA met die toestemming van die Kongres goedgekeur word.
Kenners is dit eens dat ‘n militêre scenario in Taiwan baie uitdagend en ‘n geen-wen-situasie vir die VSA sal wees: om die konflik aan Taiwan se sy te betree, sal die Derde Wêreldoorlog ontketen (wat in ‘n kern-oorlog kan verander), terwyl die oorname van Taiwan deur China die einde van die VSA-geleide wêreldorde, en die stelsel van Amerikaanse alliansies, sal ontrafel.
Watter besluite Washington vorentoe hieroor gaan neem, is tans nog ‘n raaiskoot.