Daniil Medvedev was te sterk vir Dominic Thiem toe die Rus Donderdag in Wene sy Oostenrykse mededinger in skoon stelle geklop het.
Die Russiese tennisspeler het 6-3 6-3 met Thiem afgereken by die hardebaantoernooi by die Wiener Stadthalle in die Oostenrykse hoofstad. Hy het gereageer op die uitjou van die tuisskare met ‘n sarkastiese “duim-op”-gebaar nadat hy die wedstryd gewen het.
Medvedev, die wêreld se vierde beste speler, het gister ten volle gefokus gelyk, aangesien hy daarna mik om die seisoen sterk af te sluit.
Die Rus speel volgende teen die wenner van die wedstryd tussen die sesde gekeurde Italianer Jannik Sinner en die ongekeurde Argentyn Francisco Cerundolo.