Skip to main content

 

Navorsing oor pil pleks van inspuitings vir Tipe-1 diabete vorder

Tipe-1 diabete het dit nie maklik nie. Dié chroniese siekte, indien dit nie goed bestuur word nie, kan lyers nagmerries besorg. Benewens die nagevolge van onbeheerde diabetes soos verswakte sig, hartverwante probleme, swak bloedsomloop en selfs amputasie, sit baie lyers nog met die ongemak om hulself soms tot vier keer ‘n dag in te spuit. Nuwe studies maak egter daagliks vordering om die siekte hok te slaan. Gerald Eloff gaan kyk na dié hoop wat lig aan die einde van die inspuitnaald bring.

Volgens ‘n nuwe studie ly 537 miljoen volwassenes wêreldwyd tans aan diabetes. Die studie wat in 2021 gedoen is, wys dat Suid-Afrika 4.2 miljoen diabete het – dis meer as enige ander land in Afrika. Dit sluit beide groepe van diabtes in, naamlik Tipe-1 en Tipe-2 diabete.

Die goeie nuus is dat navorsers aan die Universiteit van British Colombia in Kanada so pas ‘n reuse-stap in die regte rigting gegee het met die ontwikkeling van ‘n mondelinge insulienpil om mense te help om hul Tipe-1 diabetes beter te beheer. Dié studie se resultate wys dat die ondersoekers op die regte pad is om ‘n insulien-formule te ontwikkel wat inspuitings voor etes gaan uitskakel. Dit kan meer as 9 miljoene diabete regoor die wêreld se lewensgehalte verbeter.

‘n Siekte wat nie onderskat moet word nie

Onbeheerde diabetes lei tot senuweeskade, hartsiektes en selfs blindheid, om net ‘n paar newe-effekte te noem. Insulien is ‘n hormoon wat ons liggame gebruik om bloedsuiker in energie om te skakel. Omdat mense met Tipe-1 diabetes nie genoeg (en soms geen) insulien produseer nie, benodig hulle gereelde inspuitings van sintetiese insulien om hulle glukosevlakke te stabiliseer.

Baie lyers sukkel egter om hulle diabetes behoorlik te beheer as gevolg van hul vrees vir naalde. Insulienpille sal dié probleem oplos, en die lewe vir alle diabete aansienlik vergemaklik, aangesien niemand van naalde hou nie. Pille gaan ook veel makliker wees om te stoor en te vervoer, aangesien insulienpenne en -houers konstant koud gehou moet word.

As die pil verdwaal …

Een groot uitdaging bly – insulienpille is al in die ontwikkelingsfase vir dekades, maar deel van die uitdagings is om ‘n manier te vind om dit makliker absorbeerbaar te maak. Te veel van die insulien in die pille verteer in die maag. Dié nuwe pille word egter geabsorbeer tussen die lyer se wang en tandvleis en word dus nie ingesluk nie. Om insulien verby die maag na die ingewande te kry, waar dit deur die bloedstoom opgeneem kan word en dan na die laaste bestemming – die lewer – te vervoer, het pille in die verlede baie hoë dosisse van insulien nodig gehad. Vir insulien wat gespuit word, word 100iu per inspuiting benodig.

Ander pille tans onder ontwikkeling wat mondelings ingeneem word en na die maag gaan, het tot 500iu insulien nodig waarvan die meeste gemors word. Die probleem – om meeste van die insulien te behou – het die navorsingspan met die idee laat opkom om ‘n pil te ontwikkel wat oplos tussen die wang en tandvleis. Toe dié pil op rotte getoets is, is bevind dat amper ‘n 100% van die oplosbare insulien die rotte se lewers bereik het, en feitlik niks het in die maag opgeëindig nie. Dié insulien het ook vinniger gewerk as ander tablette wat tans ontwikkel word. Laasgenoemde is meer geneig om insulien oor ‘n langer tydperk vry te stel.

Die navorsers beweer dat die pil, soortgelyk aan die vinnigwerkende insulieninspuiting, binne ‘n halfuur geabsorbeer word en dat dit kan vir twee tot vier ure kan hou.

ʼn Alternatief vir bloukolle

Jonathan Pienaar, ‘n tipe-1 diabeet sedert hy 17 jaar oud is, vertel: “Dis ‘n beslommernis. Ek  het al so gewoond daaraan geraak om vier keer ‘n dag in te spuit, dat dit my glad nie meer pla nie. Maar jy moet steeds die insulienpenne koud hou, anders gaan dit af en dan kan jy dit maar weggooi. Jy kry velverdikkings en bloukolle op die plekke op jou bene en maag waar jy inspuit.

“Ek het al die insulienpomp oorweeg, maar dit kos ‘n fortuin. ’n Pil, soos dié wat die Tipe-2 diabete gebruik, sal beslis die lewe makliker maak, veral vir jonger kinders.”

Vasti Wepener ook van Bloemfontein, stem saam met Jonathan. “Dis ‘n missie met die insulienpenne. Ek vergeet soms my insulienpen in die yskas, dan moet ek al die pad van die werk terugry en dit weer gaan haal. As ek en my man met die tent gaan kamp, moet ons altyd eers kyk hoe ons my insulien gaan koud hou.

“’n Tablet of pil sal dinge beslis makliker maak. Tog moet ek bieg, die penne was alreeds ‘n reuse-verbetering op die fisiese inspuitnaalde en glasampules wat ek moes gebruik toe ek ‘n kind was.”

Insuliennaalde het ook ‘n negatiewe impak op die omgewing. Met soveel diabete in Suid-Afrika wat ‘n paar keer ‘n dag moet inspuit, is die hoeveelheid afval in terme van plastiek en naalde enorm – baie waarvan nie herwin kan word nie, en dit beland op ashope. Tablette sal daai probleem ook oplos.

Daar is egter nog heelwat navorsing wat voorlê, voor dié pille deur finale kliniese proewe gaan. Die span hoop egter dat dié tablette eendag diabete se lewe eenvoudiger en goedkoper sal maak.

Nog studies

In ‘n soortgelyke studie, het ‘n span navorsers ‘n prototipe wat basies neerkom op “insulien in ‘n pil”, ontwikkel. Aangesien insulien nie in die maag kan oorleef nie, is die nuwe apparaat soortgelyk aan ‘n naald wat ingesluk kan word. Dit mag dalk vreesaanjaend klink, maar hulle beweer dat die apparaat veilig, effektief en pynloos is. SOMA, oftewel self-orienting millimeter-scale applicator, is ‘n bitter-klein apparaat, net sowat 1.7mm lank.

Wanneer iemand hom sluk, draai hy homself om in die pasiënt se maag en land dan so dat die bio-afbreekbare naald deur die maagwand kan dring. Omdat daar nie baie skerp pynreseptore in die maag is nie, veroorsaak die naald nie pyn nie. En omdat SOMA so klein is, kan die persoon dit maklik weer deur die spysverteringsstelsel uitskei.

Luiperdskilpad gee die inspirasie

Net soos baie ontwerpe, het SOMA sy inspirasie van die natuur gekry, spesifiek die luiperdskilpad. Meeste skilpaaie het dieselfde probleem – as hulle eers op hul rug is, sukkel hulle om weer om te draai. Op hulle rûe, kan roofdiere hulle opvreet of die son kan hulle bak. Die luiperdskilpad het egter deur evolusie ‘n liggaamsvorm ontwikkel wat die probleem oorkom. Hulle onderste kant is redelik plat, maar die bo-kant van die dop buig in ‘n skerp, koepelvorm. SOMA is dieselfde ontwerp, soos die Luiperskilpad se dop of soos ‘n akker – hy val altyd aan die onderkant – en dis waar die naald uitkom. Die bokant bestaan uit ‘n liggewig oplosbare-poliëster, terwyl die onderkant bestaan uit ‘n swaarder vlekvrye staal deeltjie, wat hom altyd op die onderkant gaan laat land.

Die navorsers het SOMA op varke getoets, wie se fisiologie min of meer dieselfde as mense s’n is. Gedurende die proewe het hulle ‘n naald ontwerp van oplosbare polimeer, met ‘n punt wat bestaan uit insulien. Nadat dit ingespuit is, het die insulien gereageer soos wat verwag is met die sellulêre opname van glukose. Die varke se glukosevlakke het wel gedaal, maar hulle is darem met ‘n dosis dekstrose gered.

Dieselfde as met bogenoemde studie met insulientablette, is die studie nog in sy babaskoene en baie water moet nog in die see vloei voor jy dit sal kan koop oor die apteektoonbank. Maar net soos die uitvinding van insulien in 1921 en die verligting (en verlengde lewens) wat dit vir diabete gebring het, kan bostaande studies ook die lewens van diabete in die nabye toekoms verbeter.

Leave a Reply