Skip to main content

Isaac Cloete

Die familie van ‘n veroordeelde oudpolitikus beweer dat die Noord-Kaapse premier leuens oor hom vertel.

Dit volg nadat twee vername openbare figure onlangs vir John Fikile Block in die korrektiewe sentrum op Upington wou besoek. Block dien tans 15 jaar tronkstraf vir onder andere bedrog en geldwassery uit.

Die debakel het begin toe die geestelike leier, dr Alan Boesak, en minister Lindiwe Sisulu hom by Upington se korrektiewe dienste wou gaan besoek. Toe die twee opdaag, het die amptenare van korrektiewe dienste geweier dat hulle Block sien en dat Boesak vir hom bid.

‘n Teleurgestelde Boesak het op televisie en ander mediaplatvorms vertel wat gebeur het. Hy moes toe eindelik voor die tronk se hekke staan en bid. “Ons was nie toegelaat om hom te sien nie, maar o, my genadige God, U is oral. U gees sal ons woorde na hom toe neem. Ons is hier om hom te verseker dat hy nie alleen is nie. En dat God ook vir hom genadig is.”

Ná die voorval het Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, sterk gereageer en vir Boesak as ‘n leuenagtige pastoor bestempel. Volgens hom is dit Block wat nie vir Boesak en Sisulu wou sien nie.

Kenneth Khumalo, woordvoerder van die Block-familie, het vandeesweek gesê dat die twee se besoek weke voor die tyd gereël was. Dit is deur die gebiedskommissaris bevestig. Volgens hom is die leuenaar eintlik Saul en nie Boesak nie.

“John en Sisulu het familiebande, daarom was hulle voorheen met mekaar in kontak. Hy was teleurgesteld en seergemaak toe hy by die vriende en familie moes verneem dat die besoek afgestel is.

“Dit was verder hartverskeurend vir hom toe Boesak, wat deel van die vryheidstryd was, se gebedsversoek deur korrektiewe dienste afgekeur is.”

Volgens Khumalo was Saul laas in 2019 by die gevangenis. Block het toe versoek dat Saul en die ANC-leierskap sy familie moreel en geldelik moes bystaan en ondersteun totdat hy vrygelaat word. Saul het hom belowe dit sal gebeur maar dit het nooit gerealiseer nie.

“Niemand saam met wie Block voorheen saamgewerk het, het al ooit sy vrou en gesin gaan besoek nie. Ons familie glo sterk dat die ANC in die Noord-Kaap presies die ware redes weet waarom ons ‘seun’ gevonnis is. Hulle ken die waarheid.”

Dit het intussen aan die lig gekom dat Block nooit geweier het om vir Sisulu en Boesak te sien nie, soos Saul beweer het.

Die woordvoerder van korrektiewe dienste, Singabakho Nxumalo, het gesê Block kan nie spesiale behandeling verwag nie.

Block wag nou weer gretig om sy besoekers te sien, nadat hy intussen gehoor het dat Sisulu en Boesak hom wel binnekort sal kan besoek, volgens Khumalo.

Leave a Reply