Skip to main content

Marie Meyer

Die borgtogaansoek van die hoofverdagte in die moordsaak nadat Nicky Janse van Rensburg (35) sowat twee weke gelede op sy plaas in die Roedtan-omgewing vermoor is, is nie toegestaan nie.

Lesiba Solly Segwala wat na bewering die hoofbrein in die sinlose moord was, het gister in die landdroshof in Mookgophong aansoek gedoen vir borgtog. Sy twee medebeskuldiges is Malesela Mangena en Velly Segwala.

Die beskuldiges het na bewering Janse van Rensburg op Vrydag, 7 Oktober op die plaas Derdekraal aangerand en doodgeskiet. Sy vriendin, Veronica Grobler, en ‘n 15-jarige seun is tydens die plaasaanval met kabelbinders vasgebind. ‘n Huishulp het die volgende oggend op hulle afgekom.

Die drie verdagtes is ná ‘n intensiewe polisie-ondersoek vasgetrek. Hulle staan tereg op aanklagte van moord, twee van poging tot moord en ook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Honderde boere en inwoners van Roedtan en die omgewing het op Maandag, 24 Oktober, opgeruk na die landdroshof op die dorp in hul bakkies, trekkers en verskeie plaasimplemente om te wys hulle is keelvol vir plaasmoorde. Die saak is toe weens beurtkrag uitgestel tot gister en toe in die hof op Mookgophong aangehoor.

‘n Groot groep boere en inwoners het voor die landdroshof in Mookgophong saamgetrek waar hulle weer hul misnoë met dié plaasmoord te kenne gegee het.

Die staat het tydens die borgaansoek beweer die drie beskuldiges behoort aan ‘n misdaadsindikaat. Dit word verder beweer dat Lesiba wat dikwels melk op die plaas gaan koop het, die misdaad georganiseer het.

Hy het in sy borgaansoek egter volgehou dat hy op die dag van die moord tuis was. Sy selfoonrekord vertel egter ‘n ander storie, is deur speursersant Jafta Mooka aangevoer.

Mooka het getuig dat Lesiba die dag van die aanval twee keer op die plaas was. Volgens Mooka het Lesiba die oggend vroeg melk gaan koop om dinge op die plaas uit te kyk. Hy en die ander verdagtes het later die middag teruggekeer.

Lesiba se medebeskuldige, Velly Segawala, het intussen sy aansoek om borg laat vaar. Mangena se borgaansoek sal op 24 November aangehoor word.

Die beskuldiges bly in aanhouding.

Leave a Reply