Skip to main content

Gert Basson

Die somer is hier met Moeder Natuur wat haar vaal winterbaadjie nou finaal afgeskud het. Dit is tyd vir Suid-Afrikaners om in die swembad te baljaar, onder bome se skadukolle uit te span, draairoomyse te geniet en ’n koue bier om braaivuurkuiers af te sluk.

Maar daar skuil ook ’n nare skepsel in die lang grasse wat ewe graag in die son wil baai. ’n Addergebroedsel wat toentertyd al slinks gesorg het dat Adam en Eva uit die Tuin van Eden geskop is.

Ja, slang se kind is ook ’n liefhebber van die somerseisoen en die warmer weer. SANparke het onlangs ’n waarskuwing uitgereik dat mense waaksaam moet wees as hulle een van ons nasionale parke landwyd besoek.

“Tafelberg Nasionale Park alleen is die tuiste vir sowat 22 slangspesies, waarvan net 10 nie-giftig is nie,” lui die verklaring.

Die giftige slange wat jy op Tafelberg kan aantref, is die gevreesde Kaapse kobra, pofadder, rinkhals, boomslang en die bergadder.

Die goeie nuus is dat die meeste slange glo skaam van aard is en menslike kontak sal vermy.

“Die slang wat jy waarskynlik op die Moederstad se bekendste baken en in ander natuurdele in Suid-Afrika sal teëkom, is die gevaarlike pofadder. Dié slang beweeg stadig en hou van sonkolle op paadjies en klippe.”

SANparke doen veral ’n beroep op besoekers om die slange te respekteer omdat die natuur hulle natuurlike habitat is.

“Hou jou oë oop as jy in ‘n park en natuur stap. Baie van die diere is so goed aangepas tot die ekosisteem dat jy hulle nie sommer sal sien nie. Wees waaksaam as jy ons parke besoek,” word besoekers gemaan.

Wat om te doen as jy deur ’n slang gepik word:

Volgens die Afrika Slangbytinstituut is baie slangbyte lewensgevaarlik. Die goeie nuus is dat die meeste pasiënte met vandag se gevorderde mediese sorg dit kan oorleef én ten volle herstel.

Sowat 11% van die 173 slangspesies wat ons in Suider-Afrika aantref, is dodelik – dit sluit in mambas, kobras, adders, die boomslang, die Gaboenadder en rinkhals.

Die simptome van ’n slangbyt verskil van spesie tot spesie en dit gebeur so vinnig dat mense soms nie eens seker is of hulle wel deur ’n slang gebyt of gepik is nie.

In die meeste gevalle word die slagoffer slegs deur die slang se tande geskraap, maar die gif beland steeds in jou bloedstroom.

Die simptome ná ‘n slangbyt sluit in: ’n brandpyn gevolg deur swelling, lomerigheid en jy kan sukkel om te sluk of asem te haal. Die slagoffer kan ook naarheid ervaar en sy/haar neus kan begin bloei.

Moenie, soos in rolprente, probeer om “braaf” die gif uit die bytmerk te suig nie. In die meeste gevalle is die gif reeds in die bloedstroom.

Moenie ys op die bytmerk sit nie. Los die bytmerk uit en maak slegs die wond skoon.

Kry die slagoffer so gou as moontlik by ’n hopsitaal.

Leave a Reply

error: Content is protected !!