Skip to main content

 

Isaac Cloete

Behalwe die beurtkragfrustrasies moes verskeie skole in die Noord-Kaap verlede week agterkom hulle krag is deur die plaaslike munisipaliteit gesny weens die staat se agterstallige belastingskuld van miljoene rande.

Hoewel die krag intussen herstel is, het bekommerde onderwysers in die Springbok-gebied hardop gekla omdat hulle reeds soos die res van die land tuis onder beurtkrag deurloop en die leerlinge tans ook met belangrike eksamens besig is.

Volgens ‘n skrywe van Jannie Swartz, munisipale bestuurder van die Nama Khoi Munisipaliteit (NKM) op Springbok, skuld die departement van paaie en openbare werke (DOW) die raad miljoene rande vir eiendomsbelasting. Die department is verantwoordelik vir die oorbetaling van die eiendomsbelasting aan munisipaliteite.

Die munisipaliteit was dus genoodsaak om weens die wanbetaling die krag na verskeie skole en staatsdepartemente af te sny. Die sondebok is dus die departement wat in gebreke bly om die belasting aan die NKM oor te betaal.

Voorts het dit aan die lig gekom dat die belastingrekeninge op verskeie eiendomme in die gebied laas in 2018 betaal is. Tans skuld die DOW die munisipaliteit meer as R6 miljoen, gee die skrywe te kenne.

Boonop beloop die regering se agterstallige munisipale skuldlas ongeveer R13 miljoen. Inwoners en sake-ondernemings is intussen deur die NKM gerusgestel dat spesiale kredietbeheermaatreëls nie aan die staatsinstellings toegestaan sal word nie.

Onderwysers het vertel dat die matrieks vandeesweek die vraestel bekend as CATS (Computer Application Technology) moes skryf. Sonder krag sou dit baie moeilik wees.

Volgens Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys in Noord-Kaapland, is reeds met die DOW in gesprek getree.

“Ons doen dit sodat die daaglikse werksaamhede en akademiese onderrig in die Nama Khoi-gebied nie hierdeur geraak word nie. Ons hoop en vertrou dat ‘n vriendskaplike oplossing gevind kan word.”

Hy het verder genoem dat altesame nege skole in die gebied geraak was. Dit het intussen aan die lig gekom dat die NKM die krag na skole herstel het nadat die DOW glo 14 dae kans gegee is om sy agterstallige skuld te vereffen.

Terwyl beurtkrag steeds onverpoos heers, hoop die plaaslike gemeeskappe dat die Noord-Kaapse regering sy verpligtinge en beloftes sal nakom sodat leerders nie ‘n nagmerrie-eksamen beleef nie.

Leave a Reply