Skip to main content

 

Sonnette Lombaard

Die probleme in Suid-Afrikaanse atletiek kom ‘n lang pad en die stiefkinders daarbinne trek nog swaarder want selfs wêreldrekords is deesdae nie meer genoeg om die regte mense te laat regop sit nie.

Die Suid-Afrikaanse meesters-stapkampioen bo 75 jaar, Elsa Meyer van Pretoria, ken dié frustrasie goed want sy is moedeloos gesukkel dat haar wêreldrekords erken moet word. Hoewel stap ‘n Olimpiese sportsoort is en Elsa al deur pres. Cyril Ramaphosa met die hoogste toekenning in die land vereer is, kry sy deesdae die wind van voor in haar geliefde sport.

Elsa (76) wat in die Moot woon, het vanjaar vier keer die wêreldrekord in stap in die 5000m, 10km en 20km gebreek en net nog een (10km) is erken weens adminstratiewe ronpslomp wat haar telkens pootjie. Die nodige vorms vir sulke rekords wat agterna ingevul moet word, ontbreek by wedlope óf word nie geteken nie, en/of die organiseerders laat weet dat SA – en wêreldrekords nie erken kan word omdat daar nie genoeg en/of gekwalifiseerde beoordelaars teenwoordig is nie. Daar is ook ongelukkigheid met beweerde ongeruimdhede met die hou en neerskyf van tye.

Elsa is ook nie ál meestersatleet wat aan die kortste ent trek nie en Die Waarheid verneem dit gaan glo erger in die stap ope-afdeling waar Suid-Afrika ook te min beoordelaars, wat nog van gekwalifiseerd, het. Dit dwing ons voorste stappers vroeg oorsee om te kan bly saampraat met die wêreld se bestes.

Volgens Elsa het haar stryd om haar wêreldrekords erken te kry, in Maart begin. Ná die eerste fiasko is belowe om die saak reg te stel vir die volgende byeenkoms. Groot was haar teleurstelling toe sy weer teenstand kry nadat sy toe daar ook op haar vorige wêreldrekordtyd verbeter. Dieselfde probleme en verskonings is geopper by die volgende byeenkoms.

Elsa wat in 1996 begin stap het, het haar SA klere op 59-jarige ouderdom gekry. Sy het haar eerste wêreldrekord in haar sewentigs behaal en sedertdien verbeter sy gereeld die nasionale en wêreldrekords in die 3000m, 5000m,10km en 20km in opeenvolgende ouderdomsgroepe.

By die Wêreld Meesterkampioenskappe in Australië in 2012 het sy goud vir die 20km en silwer vir die 5000m gekry en volg dit op in 2014 in Brasilië met goud in die 5000m, 10km en 20km en herhaal dié prestasie in 2016. Dit was almal ook SA rekords. In dié jaar breek sy ook die wêreldrekord in die 20km in Kaapstad en in 2018 in Spanje wen sy weer goud in al drie items teen die wêreld se bestes. Sy het die laaste wêreldkampioenskappe gemis nadat haar man, Boeta, laas jaar dood is.

Volgens Elsa is die situasie demotiverend omdat sy hard oefen en weet sy kan haar eie wêreldrekordtye bly verbeter. Sy stap tussen 8 en 20km vir ses dae van die week. Dié ma van drie dogters en ouma van twee het in 2018 die Orde van Ikhamanga (brons) gekry vir haar uitstaande bydrae in meestersatletiek en voorbeeld vir mense om met oudword fiks te bly.

Oudstapper Chris Callaghan, wat nou ‘n tegniese beampte is, erken dat Suid-Afrika nie oor genoeg gekwalifiseerde stapbeoordelaars beskik nie. “Die reëls vereis dat ses spesialis-beoordelaars teenwoordig moet wees vir internasionale en drie vir nasionale rekords. In Gauteng-Noord het ons slegs ses ten volle gekwalifiseerde beoordelaars.”

Voorts bied swak organisering van byeenkomste uitdagings, juis ten opsigte van probleme met tegniese aspekte en te min opleidingskursusse daarvoor. “Benewens die teoretiese deel, is praktiese ervaring vir beoordelaars kern. Nuwelinge moet langs gekwalifiseerde beoordelaars staan en eerstehands leer.”

Callaghan, ‘n spesialis-beoordelaar in stap, benadruk dat as daar nie streng by die reëls gehou word nie, kan dit wyd rimpel. Hy het verdere navrae na Christiaan Brits, voorsitter van die Stapkommissie verwys. Brits het nie op oproepe gereageer nie.

 

 

Leave a Reply