Vier mense, insluitende ‘n indoena van die Osuthu Tradisionele Raad wat in koning Misuzulu KaZwelithini se kringe aansien het, is Saterdag in KwaZulu-Natal vermoor.
Die vier, indoena Maphemba Cuphisa Ntuli, Mbebiseni Zulu, Yazi Zulu en Sgonyoza Ngema, is tussen 25 en 63 jaar oud. Hulle is in hulle dorpie Mhambuma in Nongoma in die noorde van KwaZulu-Natal doodgeskiet terwyl hulle ‘n vergadering bygewoon het om vervoerreëlings na koning Misuzulu se kroning hierdie naweek te bespreek.
Daar is reeds onderliggende spanning in die koninklike huishouding weens die vete oor wie die regmatige troonopvolger van die koninklike titel is.
Koning Misuzulu se troon is ook in sy halfbroer, prins Simakade, se visier.
Prins Thulani Zulu, die woordvoerder van die koninklike familie – wat meer as 11 miljoen Zoeloes lei, het sy kommer oor die moord op mense ná aan die koning uitgespreek.
Verlede maand is nog ‘n prominente ondersteuner van koning Misuzulu, dr. Dumisani Khumalo (76), doodgeskiet. Khumalo was ook ‘n invloedryke indoena en getroue bondgenoot van koning Misuzulu se vader, wyle koning Zwelithini KaBhekuzulu.