Skip to main content

 

Christiaan oor die kuns van liedjieskryf

Christiaan Baartman is besig om die luggolwe warm te sing met treffers soos Stof en My vrou. Dié Tempo en Ghoema-toekenningswenner, vertel vir Gerald Eloff waar sy naam vandaan kom, die probleem met vandag se take-away-musiek, waarom disko-pop hom opgewonde maak, en hoekom dit belangrik vir kunstenaars is om ‘n spieël van die samelewing vir die mense op te hou.

Wat lê jou naaste aan die hart? Om lirieke te skryf of musiek te maak?

Dis soos om te vra, wat was eerste: die hoender of die eier? Ek is persoonlik meer tot die melodie aangetrokke, en het grootgeword in ‘n melodiese huis waar ons altyd musiek geluister het. Daar was ‘n Christelike Amerikaanse rap en rock groep in die 1990s, DC Talk, en een van die lede (Toby McKeehan) het gesê: “Music takes lyrics much further than what they can fly on their own.” Ek dink die lirieke en die boodskap is net so belangrik soos die melodie.

Die musiek en melodie in jou enkelsnit Dis jy herinner my aan die Britse groep Mumford & Sons – put jy baie inspirasie uit die klank van internasionale groepe?

Die ou gesegde sê: “To make art is to copy art.” Daar is niks meer oorspronklik in die wêreld oor nie, alles is vantevore gedoen. Ek is lief vir alle soorte musiek en veral vir ouer countrymusiek, en die organiese instrumente wat aangewend word. Folkmusiek was nog altyd eg-Suid-Afrikaans, die liedjie Dis jy bevat beslis elemente van die live-musiek genre. In die laaste tyd, speel ek baie meer saam met bands, pleks van net ekself op die verhoog. Dit het beslis ‘n invloed op die liedjie gehad.

Tel die Afrikaanse musiekbedryf weer kop op ná die pandemie en grendels?

Ons is tans op ‘n baie beter plek as in 2020. Dis wel ietwat van ‘n op-en-af-situasie – daar is baie vertonings, maar mense wil nie meer te laat uitbly nie. En ons sit met beurtkrag ook. Minder mense woon vertonings by gedurende beurtkragtydperke, in vergelyking toe dit minder gebeur het. Ek vertrou wel die bedryf sal weer kop in die volgende jaar optel.

Wat is jou gunsteling musiekgenere? Ek sien jy het al bietjie met countrymusiek ook geëksperimenteer?

Dis moeilik om ‘n genre uit te sonder – ek sien myself as ‘n tipiese kunstenaar wat daarvan hou om te eksperimenteer en nuwe genres te verken. Tans is dit die disko-pop genre. Dis amper soos die eerste liedjies van Kurt Darren, en ook Blackie Swart met sy treffer Liewe Lulu – so 20 jaar gelede se musiekstyl. Destyds was dit Euro-pop genoem, in Amerika is dit nou disko-pop – ek is mal daaroor. Ek besoek Nashville in Amerika gereeld. As geld en tyd dit toelaat (en Covid-19!) gaan gee ek my oor aan countrymusiek. Dit maak eintlik nie saak in watter genre jy musiek maak nie, solank dit goed is, sal dit mense aantrek.

Die liedjie My vrou is regtig besonders. Wat of wie het dit geïnspireer?

Dis ‘n interessante storie! Ek het al by vreeslik baie troues opgetree. Ek het gesien van die mans raak bietjie disconnected met die dag – ons gee nie om wat die verskil tussen pienk en salmon is nie, ons wil weet hoeveel kos die blomme. Asook, baie van ons sê nie regtig hoe ons voel nie – ons is maar “doeners” en nie noodwendig “praters” nie. Ek wou graag ‘n liedjie skryf wat vir ʼn man ‘n tool kan wees oor om vir sy vrou te wys hoe hy voel oor hulle troudag – uit die man se perspektief, aan die vrou.

Hoe moeilik is dit deesdae vir ‘n kunstenaar om sy musiek daar buite uit te kry? Dit wil voorkom of die media al hoe minder aandag aan musiek skenk, met resensies, ens.

Dit was nog nooit makliker as vandag vir kunstenaars om musiek uit te kry nie, maar dis beslis moeiliker om gehoor te word! In die verlede kon ons ‘n album opneem (hoewel dit duur was en nie vir almal beskore nie), en ná die vertonings kon jy dit verkoop, en mense kon oor en oor na dit by die huis luister. Só het jy stelselmatig jou fanbase opgebou. Met vandag se stromingdienste heers fast-food musiek. Vandag eet jy KFC, more eet jy Wimpy. Die sielkunde agter dit, is verby my. Ek sou vroeër ‘n John Mayer CD koop en dit vrot geluister het. Musiek was duur, dit was vir my meer waardevol. Ek het meer in die musiek en die kunstenaars investeer. Ek het ‘n dieper musikale konneksie met musikante gehad, wat vandag nie meer daar is nie. Musikante moet deesdae dinge doen om gesien te word wat niks met musiek te doen het nie – soos politieke standpunte inneem, of van ‘n gebou afspring … Sommige musikante “verdom” of vervlak ook hul musiek vir onmiddellike impak. ‘n Dertig sekonde treffer op TikTok, is meer werd as ‘n fantastiese, treffende liedjie op die radio. Maar weereens, goeie musiek sal steeds gehoor word, dit sal uitstaan bo die twak.

Jou liedjie Stof handel oor renosterstropery – dink jy is dis belangrik vir kunstenaars om oor  sosiale kwessies te sing? En hoe groot is die impak?

Die komponis en pianis Robert Greenberg het ‘n boek geskryf – Music as a Mirror of History. Dit is so belangrik vir ons as kunstenaars om die spieël op te hou, al is dit soms verwronge. As jy net kyk na die Viëtnam-oorlog en die musiek wat daar uitgekom het, is dit fantasties. Dit voel egter of dit minder relevant raak. Stof is een van my gunstelingliedjies en het baie tyd geverg en geld gekos, maar dit doen nie goed op sosialemediaplatforms nie. Mense soek liedjies waarop hulle kan dans – hoe vinniger die beat, hoe groter die impak. Dit voel vir my deesdae of kunstenaars weg beweeg van belangrike kwessies en meer oppervlakkige dinge aanspreek. Dis belangrik om kunstenaars wat sing oor belangrike kwessies te ondersteun, ongeag of jy op hulle liedjies kan dans, of nie.

Skryf jy eers jou lirieke – of maak jy eers jou musiek, en skryf dan die lirieke om daarby te pas?

In die verlede het dit gelyktydig gebeur. Dis altyd die beste liedjies, daai wat op dieselfde tyd kom. Deesdae, hoe ouer ek word, en hoe meer ervaring ek opdoen in liedjieskryf, raak dit vir my belangriker oor wat ek wil sê. Ek verkies dit steeds as dit meer organies kom, maar ek is op ‘n punt waar ek soos ’n ambagsman sit en skaaf en ‘n struktuur aanmekaar kan slaan. Ek help ook ander ouens om hul musiek verder te ontwikkel en dit bietjie meer hoofstroomvriendelik te maak.

Jou van (Baartman) – het nie sommer uit die lug geval nie – jy was eers bekend as Christiaan Kritzinger. Waarom dié transformasie? En hoe belangrik is ‘n naam (en baard!) in dié bedryf?

Ek het begin baard kry vandat ek 15 jaar oud was! Kort in die bedryf het almal my aangeraai om my baard af te skeer. Van 2012 tot 2015 het ek deur ‘n interessante groeiproses gegaan, waar ek my identiteit as musikant herevalueer het en vrae gevra het soos waarheen is ek op pad, en in watter rigting mik ek met my musiek. ‘n Vriend van my, Peet du Plessis, was styling director vir groot internasionale maatskappye. Ons het toe besluit my van, Kritzinger, is bietjie ingewikkeld en het met Baartman opgekom. My pa was sy lewe lank ‘n sendeling onder bruin en swart mense in die Oos-Kaap, en die van Baartman is ook soort van ‘n huldeblyk aan hom en die historiese figuur Saartjie Baartman. Dis hoekom ek die “t” behou het. Dis vir my belangrik om die hele Suid-Afrika, ons geskiedenis, en wie ons is, te inkorporeer in my kuns en musiek. Ek is baie gelukkig waar ek tans as kunstenaar is, en dat ons in ‘n land met soveel vryheid en moontlikhede leef.

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!