Skip to main content

Marie Meyer
Die groot opmars in Roedtan teen plaasmoorde en -aanvalle het vroegoggend begin toe honderde boere van Limpopo en gemeenskapslede die dorp begin “binneval” het met hul bakkies, trekkers, stropers en verskeie plaasimplemente.

Dit volg na die moord op ‘n jong boer van die omgewing vandeesmaand. Drie verdagtes verskyn vanoggend in die landdroshof in Roedtan in verband met die moord en aanval. Baniere is rondgeswaai en oral opgesit waarmee die optoggangers hulle ontevredenheid met plaasmoorde en -aanvalle te kenne wil gee.

Die boereprotes word gehou ná die plaasaanval waarin Nico Janse van Rensburg (35) op 7 Oktober doodgeskiet is. Janse van Rensburg se vriendin, Veronica Grobler, en ‘n minderjarige seun is in die voorval op die plaas Derdekraal in die Roedtan-omgewing aangerand en met kabels vasgebind.

 

Die Potgietersrus Distrik Landbou Unie (DLU) se lede het ná die moord saamgetrek en besluit met die boereprotes wil hulle nie net aan die regering nie, maar ook aan die hele wêreld wys die boere is keelvol vir plaasaanvalle en -moorde, het Floris Booysen, voorsitter van die DLU, gesê.

Die verdagtes is aangekeer na ‘n intense polisiesoektog. ‘n Wit Toyota Corolla wat ooreenstem met die beskrywing van die een wat deur die verdagtes tydens die plaasaanval gebruik is, is naby Sheshego buite Polokwane opgemerk. Die motor is deursoek en vuurwapens, asook ammunisie is daarin gevind. ‘n Verdagte is in hegtenis geneem en kort daarna is nog twee mans vasgetrek.

Terwyl Roedtan se strate vanoggend in rep en roer is, het van die protesopgangers vreedsaam voor die landdroshof betoog. Verskeie politici en rolspelers is tussen die skare opgemerk.

Die media is nie toegelaat om die verrigtinge in die hof by te woon nie.

 

 

 

 

 

Leave a Reply