Skip to main content

Korrespondent

Blou boeg, wit kajuit, vasgemeer in Gansbaai se nuwe hawe.  Jaar in, jaar uit, deur storms en wind rondgeskommel lê die ou houtskuitjie daar, die Baby Ronald.  Voordat die baba ‘n seuntjie geword het, was dit ‘n mynveërskuitjie in die Tweede Wêreldoorlog, genaamd Kleine Marlene.

Die nege meter lange skuitjie is in 1923 te water gelaat en is so ver bekend die oudste seinepursetreiler ter wêreld.  Dit is egter nie bekend waar dit die eerste keer te water gelaat is nie.

Kleine Marlene kom met ‘n kosbare storie, wat ‘n paar jaar gelede deur ‘n mnr. Williams, wat op dié nege meter lange skuit gewerk het, vertel is.  Hy was pas klaar met sy taak om myne in die Hangklip-omgewing te vee, toe ‘n tenkskip wat na Simonstad op pad was, om die rotspunt tevoorskyn gekom het.  Die een oomblik was die tenkskip nog aan die vaar, net om die volgende oomblik voor Williams se oë te ontplof, in twee gebreek en in vlamme opgegaan het.

Op die plek waar Williams pas myne gevee het, het ‘n Duitse duikboot bo die water verskyn en Williams kon sien hoe die kaptein die tenkskipvoorval dokumenteer toe laasgenoemde die Kleine Marlene opgemerk het.  Die kaptein het onmiddellik gereageer, die dekkanon in die Kleine Marlene se rigting geswaai en die agterstewe met ‘n skoot of twee weggeskiet.  Williams het met “revolutions for plenty knots” reg suid gestuur en die skuit op Rooi Els se strand laat uithardloop en so die skuitjie van ondergang gered.

Die skuit is herbou en het in wyle Bertie Ramshauer van Dyer Eiland Visserye se besit gekom.  Dit is herdoop na Baby Ronald en die doel was om dit as ‘n ringnetvissersboot te gebruik.

Baie jare later, na die legendariese Bertie Ramshauer se dood in 2017, lê die baba vasgemeer en is hoofsaaklik ‘n rusplek van menige seevoëls wat die verweerde blou verf wit kleur met blertse mis.

Heelwat inwoners van Gansbaai sou graag wou sien dat hierdie geskiedkundige skuit vir die toerismebedryf oopgestel word.  ‘n Woordvoerder van die familie het gesê dat dit enigiemand vry staan om die skat te koop.

Leave a Reply