Skip to main content

Foto: Die Indiese kolfster Virat Kohli het Sondag Pakistan se hart gebreek.

Kobie Cilliers

KRIEKET

* Die T20-Wêreldbeker-toernooi het Saterdag in alle erns met die Super 12-fase begin.

Die meeste krieket- en rugby-ondersteuners is dit eens dat ‘n nederlaag vir Australië byna so goed is soos ‘n oorwinning vir jou eie span. Dus was die Aussies se loesing met 89 lopies teen Nieu-Seeland in die openingswedstryd van die T20-skouspel in Sydney, Australië, ‘n genotvolle ervaring ­– vir almal buiten die gasheerland.

Die Kiwi’s se Suid-Afrikaans-gebore aanvangskolwer Devon Conway se onoorwonne 92 (58 balle, 7×4, 2×6) het die weg gebaan vir die Black Caps se klinkende sege.

Conway se aanvangsvennoot, Finn Allen, se 42 lopies (5×4, 3×6) van net 16 aflewerings het aanvanklik die momentum vir sy span se uitstekende telling verskaf.

Nieu-Seeland het 200/3 in sy kolfbeurt opgestapel voordat die Aussies vir net 111 uitgeknikker is.

* Engeland het sy Wêreldbeker-veldtog later die dag met ‘n oorwinning van vyf paaltjies teen Afganistan in Perth begin.

Die Engelse het die Midde-Oosterse land se wenteiken van 113 lopies met 11 balle oor bereik.

Die snelbouler Sam Curran het vroeër met syfers van 5/10 die eerste Engelse bouler geword om vyf paaltjies in ‘n T20-wedstryd plat te trek. Afganistan, wat nie daarin kon slaag om sy volle 120 aflewerings te trotseer nie, is uiteindelik vir 112 in 19.4 boulbeurte uitgeboul.

* Sri Lanka het Sondag met nege paaltjies met Ierland afgereken.

Kusal Mendis het ‘n onoorwonne vyftigtal behaal nadat Sri Lanka se boulers, met die draaiers Maheesh Theekshana (2/19) en Wanindu Hasaranga (2/25) aan die spits, die Iere tot ‘n powere 128/8 beperk het.

* Later die dag het die langverwagte kragmeting tussen die aartsvyande Indië en Pakistan ‘n allemintige 90 293 toeskouers na die Melbourne Cricket Ground (MCG) gelok.

Ja-nee, diegene wat Sondag gelukkig genoeg was om die opwindende kragmeting op die MCG by te woon (buiten die miljoene televisie-kykers oor die wêreld heen wat die aksie op die kleinkassie gevolg het), was nie teleurgestel nie.

Pakistan was in staat om in ‘n wipwa-kolfbeurt 159/8 aan te teken. Maar kom ons vestig ons aandag op die laaste 12 aflewerings van die Indiese kolfbeurt.

Indië het 31 lopies van die finale twee boulbeurte vir ‘n oorwinning benodig.

Die Pakistanse snelbouler Haris Rauf het slegs drie lopies van sy eerste vier balle afgestaan. Die wedstryd-ontleding was toe 28 lopies van agt balle. Die gunsteling – dus – was uiteraard Pakistan, of hoe?

Nee, nie volgens die voormalige Indiese kaptein Virat Kohli nie. Dié selferkende aanhanger van ons eie Suid-Afrikaanse kolfheld AB de Villiers het van die laaste twee aflewerings van Rauf se boulbeurt twee agtereenvolgende sesse gemoker.

Dit het die wedstryd-ontleding na 16 lopies van ses balle verander. Kohli, wat in 53 balle 82 lopies gemoker het nadat die Indiese top-vier vroeër binne die eerste sewe boulbeurte uitgehaal is, het daadwerkilik sy punt bewys … en in die proses vir diegene wat weens sy swak spelpeil sy kop geëis het, ‘n toffie gewys.

* Die Proteas begin Maandag hulle aanslag op die trofee teen Zimbabwe op die Bellerive Oval in Hobart, Australië.

MOTORSPORT

* Formule Een het Sondag voor die aanvang van die Amerikaanse Grand Prix in Austin, Texas, die dood Saterdag van Dietrich Mateschitz, Red Bull se stigter, betreur voor ’n wedren waarin sy span as die kampioene gekroon is.

Mateschitz se rykdom word geskat op €25 biljoen (meer as R450,6 miljard), wat beteken dat hy die 51ste plek op die gesaghebbende Forbes se lys van die rykste mense ter wêreld beklee het.

Dié Oostenrykse miljardêr, wat twee van die sport se voorste tien spanne besit het, is in die ouderdom van 78 oorlede, ‘n dag voordat Red Bull die span se eerste dubbeltitel sedert 2013 verower het.

Die F1-wêreldkampioen, Max Verstappen, het die wedren in Austin gewen. Die Red Bull-renjaer het reeds voor die eerste draai vir Carlos Sainz (Ferrari), wat in die voorste wegspringplek was, verbygesteek en het daarna nooit teruggekyk nie.

* Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo) van Italië se noemenswaardige wegspring het hom gehelp om Sondag in die Maleisiese MotoGP-ren te seëvier.

Bagnaia se landgenoot Enea Bastianini (Gresini Ducati) was tweede, terwyl die Fransman en verdedigende wêreldkampioen, Fabio Quartararo (Monster Yamaha), derde en Marco Bezzecchi (Mooney VR46 Ducati) vierde klaargemaak het.

Dit was nie die beste wedren vir Suid-Afrika se Binder-broers nie.

Brad Binder (Red Bull KTM) het die agtste plek behaal, maar Darryn Binder kon nie die ren voltooi nie.

RUGBY

* Daar was net twee Suid-Afrikaanse spanne die naweek in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) in aksie nadat Saterdag se wedstryde tussen die Leeus en die Glasgow Warriors op Ellispark in Johannesburg, sowel as die kragmeting tussen die Haaie en Ulster op Kingspark in Durban, Vrydagmiddag uitgestel is.

Minstens 50 besoekende Skotse en Ierse spelers het maagdermontsteking (gastroënteritis) opgedoen toe hulle in Umhlanga in die see gaan swem het. Die Warriors het ook in Durban vir hulle wedstryd teen die Leeus voorberei en sou eers Vrydag na die Goudstad gevlieg het.

Die VRK het in ‘n verklaring gesê hy het in die belang van die spelers en gegewe die mediese advies wat hy van die sleutelrolspelers ontvang het, besluit om die wedstryde eerder uit te stel. Nuwe datums vir dié wedstryde sal dus binnekort bepaal en bevestig word.

Die Leeus het ná ‘n uiters suksesvolle Europese toer, waar hulle drie uit drie kragmetings gewen het (28-27 teen die Ospreys, 31-18 teen Cardiff Rugby en 22-19 teen Edinburgh), nog nie in een van hul tuiswedstryde dié seisoen op Ellispark geseëvier nie.

Die Johannesburgers se doelwit was om Saterdag nuwe momentum op te bou nadat hulle in hul vorige kragmeting op hul tuisveld met 37-39 teen Ulster vasgeval het, maar hulle wenkans as die gunsteling teen die Warriors is uiteraard (vir eers) daarmee heen.

Die Warriors se volgende wedstryd is eerskomende Vrydag teen Benetton in Glasgow, terwyl die Leeus en die Stormers mekaar die volgende dag op Ellispark die stryd aansê.

Die Haaie en die Bulle pak mekaar volgende Sondag op Loftus Versfeld in Pretoria.

Ten minste het die Bulle na die wenpad teruggekeer nadat hulle Vrydagaand tot die laaste 20 minute gewag het om lewe te kry en Benetton in Italië met met 44-22 te klop.

Ongeag die naweek se oorwinning, wil dit steeds voorkom of alles nie pluis is in die Bul-kamp nie. Dit was die Ligbloues se tweede oorwinning van die seisoen (albei weg van Loftus Versfeld) nadat hulle die vorige twee naweke teen Munster en Glasgow vasgeval het (en die Leeus in die eerste ronde op Ellispark geklop het), maar Jake White se span kan steeds nie werklik wegdoen met die indruk dat hulle tradisioneel sulke swak toeriste is nie.

Die Stormers het, ‘n week ná hul teleurstellende gelykop-uitslag met 16-elk teen die Ospreys van Wallis, Saterdag nog ‘n trappie afgetrap met ‘n onverwagse nederlaag met 30-24 teen Cardiff in Cardiff.

Die Kapenaars se onoorwonne rekord van 15 VRK-wedstryde agtereenvolgens is dus beëindig, maar die verdedigende kampioen het wel vier drieë vir ’n bonuspunt gedruk en met minder as sewe punte verloor. Dit beteken uiteraard dat John Dobson se span twee ligapunte uit die kragmeting verdien het. Die kommer bly egter, nes verlede seisoen, dat die Stormers slegs een van hulle toerwedstryde in Europa kon wen.

TENNIS

Amerika se Jessica Pegula het Sondag die eerste WTA 1000-titel van haar loopbaan gewen toe sy die Griek Maria Sakkari in die eindstryd van die Guadalajara-toernooi met 6-2 6-3 verslaan het.

Die derde gekeurde Pegula, wat volgende maand vir die eerste keer in die WTA se jaareindtoernooi in Texas sal verskyn, het op pad na die eindstryd met vier Grand Slam-kampioene afgereken.

Sy het in die eindstryd slegs 70 minute nodig gehad om Sakkari te klop.

Die Kanadees Felix Auger-Aliassime het sy hoop om vir die ATP se jaareindtoernooi te kwalifiseer ‘n hupstoot gegee deur sy tweede titel in twee weke in Antwerp te wen.

Hy het gemaklik met 6-3 6-4  met die Amerikaner Sebastian Korda geseëvier.

Auger-Aliassime beklee die laaste kwalifiseringsposisie vir die jaareindtoernooi in Turin en is 340 punte voor sy naaste teenstander, Taylor Fritz.

Die 22-jarige speler het ook twee naweke gelede die toernooi in Florence gewen en was nou baas in drie van sy laaste vier eindstryde.

Leave a Reply