Skip to main content

 

Teeskinker en voorbokdanser met woema terug in politiek

Met wêreldleiers deesdae al jonger, is Jacob Zuma se beplande terugkeer tot die Suid-Afrikaanse politiek op 80-jarige ouderdom stroom-op. Niks nuut vir dié Zoeloe-veteraan nie wat reeds as tiener die politiek betree het en nou ná ‘n taai tyd wil wys hy het nog genoeg doepa in sy assegaai om die land opnuut te rig. Sonnette Lombaard het gesels met sy binnekring oor sy vermoë om terug te bons én ‘n verskil te maak.

As kaalvoetklonkie moes Jacob Zuma vroeg harde lewenslesse tussen die groen heuwels van KwaZulu-Natal leer. Hy het dit doelgerig ingespan om waarskynlik die enigste staatshoof nóg te word wat nooit die voorreg van formele skoolopleiding gehad het nie. Sy sit in die warmste stoel in die land was egter vol dorings wat wyd sou steek, en eindelik die land in ‘n dobberende moeras gedompel het.

Die voormalige staatspresident was onlangs in Kemptonpark vir samesprekinge met die sakeman Louis Liebenberg wat hom geldelik ondersteun in sy terugvegaksie om deur die regstelsel sy naam in ere te herstel. Zuma moes die laaste twee dekades aanslae uit verskeie rigtings trotseer en het in verskeie hofsake oor die afgelope 22 jaar teen die staat nog nooit uitgebreide getuienis gelewer nie. Hy wil nou vir die eerste keer aan Suid-Afrikaners die volle waarheid vertel oor wat tydens sy termyn as landsleier agter die skerms ontvou het. In sy opsienbare private vervolgingsaak roep hy getuies, soos sy opvolger pres. Cyril Ramaphosa, wat adjunkpresident onder hom was, ‘n staatsadvokaat en joernalis, asook verskeie regeringslui.

Zuma het tydens sy besoek die personeel van Forever Diamonds and Gold, Liebenberg se maatskappy, toegespreek en ook sy Afrikaans uitgestal. Hy het gesê hy is trots op die Afrikanervolk wat uniek is en nog altyd ons geskiedenis uniek help slyp. Volgens Zuma lig hy nou weer as ‘n vry man sy vlerke. Hy glo Suid-Afrika is steeds die beste plek op Aarde en wil help om dit weer op koers te kry en vrede onder alle landgenote bewerkstellig.

Liebenberg het gesê hy salueer oudpres. Zuma as ‘n eerlike man wat onregverdig deur die regering die sondebok gemaak word wyl hy inderwaarheid nooit die land uitverkoop het nie.

Zuma se vervolgingsaak weerklink betekenisvol breër in die strydende Zuma- en Ramaphosa-faksies in die ANC, in oploop na die kernkonferensie in Desember waartydens die regerende party sy nuwe leierskorps kies. Die Zuma-kader hoop om met die kandidatuur van minister Nkosazana Dlamini-Zuma weer vastrapplek vir die Zoeloes in die landspolitiek te kry. Oudpres. Zuma sal na verwagting met sy ervaring in ‘n simboliese leiersrol die Zoeloe-geledere help slyp tot ‘n geskikte leier na vore tree.

Maar kan ‘n man wat vanjaar 80 geword het en onlangs op mediese parool vrygelaat is, nog ‘n wesentlike, aktiewe verskil maak? Zuma het vandeesmaand by die hofsaak in Pietermaritzburg waar sy private vervolgingsaak afgeskop het, fier en hups voorgekom. Hy het ná die hofverrigtinge wat tot Desember uitgestel is, ’n skare begeesterd toegespreek en ook gedans en sy ondersteuners in sang voorgelei.

Dit was opmerklik dat die voormalige staatsleier se ondeunde vonkel in die oog terug is. Hy het vroeër aan Die Waarheid gesê dat hy onregverdig die sondebok gemaak is. “Ek is gekruisig omdat ek die waarheid wou vertel.”

Zuma het erken dat hy vroeg moes leer om op sy eie bene te staan. En dat hy jonk die goue les van observasie geleer het. “Ek het met akute aandag als bespied.”

Sy pa, wat twee vroue gehad het, is dood toe hy vier jaar oud was en hy moes na sy sibbe omsien omdat sy eie ma ‘n voltydse huiswerker was. Van skool toe gaan was g’n sprake nie. Ouer familielede en mense by wie hy werkies gedoen hom, het hom geleer lees en skryf. Hy het weer sy jonger sibbe geleer. “Dit was die struggle-jare – met min formele strukture, moes ons self plan maak.”

Met apartheid in volle swang het hy teen 17 voltyds begin werk van tuinman tot teeskinker en konstruksiewerker. Hy het gou gesnap die wêreld is wyer as Natal se groen lande en boonop ‘n interessante plek en hy het koerante en tydskrifte verslind. “Ek is die ewige student,” beaam Zuma trots. Sy straatwysheid het verdiep toe hy sien hoe ‘n dronk onderwyser in sy gemeenskap van sy fiets af val en dood is. Dit het van hom ‘n lewenslange geheelonthouer gemaak.

Tussendeur het hy besef politiek is ‘n uitweg uit apartheid se grendels en sluit al op 16 by die ANC se Jeugliga aan. “Ek moes ‘n noodleuntjie vertel dat ek 18 was,” bieg Zuma. Met sy gemeenskapshart het hy gou sy roeping in die vakbondwese gevind. Enige geld wat hy uit sy politieke loopbaan gemaak het, ploeg hy van jongsaf in sy gemeenskap terug. Soos ‘n NGO wat sorg vir skoene vir skoolkinders.

Toe die ANC in die 1960s verbied is, is Zuma verskeie kere gevang en tot 90 dae sonder verhoor aangehou. Eindelik moes hy sy kamerade ondergronds volg en het 14 jaar in Engeland gebly. Met sy terugkom is hy weer vasgetrek en vir hoogverraad tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis, wat hom op Robbeneiland laat beland het. Daar het hy weer in ‘n leiersrol gehelp met opvoeding van sy mede-gevangenisse.

Eindelik sou Zuma die hoogste roem smaak toe hy in 2009 Suid-Afrika se vierde president geword het. Hy het in 2018 onder ‘n wolk bedank en is in Junie verlede jaar deur die grondwethof tronk toe gestuur nadat hy geweier het om voor die Zondo-kommissie te verskyn, maar is ná net twee maande op mediese parool vrygelaat. Die saak het nog draaie gegooi voordat sy 15 maande tronkstraf vandeesmaand tot ‘n einde gekom het en hy nou weer ‘n vrye man is.

In JZ se binnekring is min twyfel dat hy suksesvol tot die politiek kan terugkeer. ANC-veteraan Carl Niehaus is uitgesproke oor die “groot onreg” teenoor Zuma en hoe sy regte geskend is. “In politiek is daar g’n aftreedatum nie as jy nog kan. Kyk vir pres. Joe Biden.

“Oudpres. Zuma het nog baie om te bied in ‘n tyd wat ons politiek ervaring en stabiliteit kort. Ek het onlangs ‘n gesprek van vyf ure met hom gehad waar hy klokhelder was oor alle onderwerpe. Sy brein is steeds vlymskerp.”

Zuma se dogter Rejoice Tembe is soos die res van die Zuma clan bankvas agter haar pa se terugvegpoging. “Hy is ‘n fighter en sal weer herrys as vader van die nasie en ook die ANC herenig,” verklaar sy vurig.

Prokureur Walter Niedienger, ‘n lid van Zuma se regspan, meen ons is as landgenote in die steek gelaat deur die politici en ‘n beleid van “Suid-Afrikaners eerste!” moes gegeld het. “Ek ervaar oudpres. Zuma as ‘n warm persoon wat mense eerste stel, selfs in formele sake.

 “Vanweë sy kennis van hoe die land in verval gedompel is en wie daarvoor verantwoordelik is, speel hy ’n kernrol in die politiek en as getuie. Tans word hy deur vyandgroepe geoffer as ‘vader van die verval’ sodat as hy uit die pad is, die werklike skuldiges kan wegkom en die volk rustig sal word.

“Om geloofwaardigheid te bekom, moet oudpres. Zuma ’n onafhanklike hof gebruik waar getuies onder kruisverhoor geneem word en dokumentêre bewyse kan sirkuleer en getoets word. Die opposisie sal dít teen alle koste wil vermy, asook die betrokke internasionale moondhede wat met mekaar stoei agter die skerms sonder dat die stomme publiek weet!”

Hier kom dus ‘n ding. Jacob Zuma is ‘n uitgeslape politikus wat hou van lekker lag en die sjarmekrane moeiteloos oopdraai. Helen Zille het verklap dat hy as voorslagdanser ‘n gewilde danskeuse op staatsfunksies was. Onder JZ se strewe om Suid-Afrika tydig te red, klop ‘n warm hart.

 

 

 

Leave a Reply