Skip to main content

 

Migrerende mensdom wys die pad na Downingstraat aan

Geskiedenis is vandag gemaak toe Rishi Sunak gekies is as die nuwe Britse leier, die derde premier in een jaar en die eerste van kleur. Sunak moet nou die beherende Konserwatiewe Party red wat ‘n hoogs onstuimige 2022 beleef nadat sy voorgangers Boris Johnson en Liz Truss reeds vanjaar moes bedank. Die opkoms van Sunak, die eerste Britse premier van Indiese herkoms wat ook in Afrika gedraai het, weerspieël die winde van wortelveranderinge wat wêreldwyd waai en vir ‘n eietydse millenniumspel sorg, skryf Sonnette Lombaard.

Ná ‘n week van hoogspanning binne die Britse politiek met internasionale rimpels, het die 42-jarige Rishi Sunak vandag die nuwe leier van die Konserwatiewe Party en van Brittanje geword. Dit volg nadat Liz Truss na nét ‘n skamele 45 dae in Downingstraat 10 die warm premierstoel moes ontruim. Die Tories wat sedert 2016 aan bewind is, bly die laaste twee jaar in krisisbestuurrat ná verskeie storms.

Soos te wagte, het Sunak in sy debuuttoespraak as eerste minister versoeningsgeluide gemaak met beloftes om sy party en volk spoedig te lei uit die politieke en ekonomies onrus en onstabiliteit wat sy voorgangers agtergelaat het. Sy geskiedkundige verkiesing sluit in dat hy die eerste Britse premier van eerstegenerasie-immigrante en van Indiese oorsprong is, én wie se ouers Afrika-boorlinge is.

Sunak, ‘n Hindoe wat in Southampton gebore is, is ook die jongste Britse leier in tweehonderd jaar, in lyn met ‘n millennium waar jeudigheid koning kraai, wat ewe hard in van sport tot die politiek weerklink.

Sy verkiesing volg volgehoue drama in die Konserwatiewe Party wat vanjaar tot meer as een krisis gelei het. Eers is Boris Johnson ná ‘n reeks skandale uit die kussings gelig en moes hy, weliswaar effe onwillig, Downingstraat 10 ontruim – en dit was juis Sunak se bedanking uit die kernpos van minister van finansies wat sy boot finaal gekelder het.

Liz Truss, “the Darling of the Tory Right” word egter toe bo Sunak gekies om die probleemgeteisterde party en land opnuut te lei. Geheil die millennium se nuwe Ystervrou, was haar Indian Summer kortstondig. Daar was groot hoop dat dié dinamiese blondekop in die Ystervrou se spore sou volg en haar volk verenig na nuwe hoogtes binne ‘n omgekrapte wêreld kon lei. Maar dié sprokie het laas week in skerwe gespat toe Truss ná deurlopende woelinge en sterk druk binne haar party as premier gedwing was om ook te bedank.

Ironies, sou dít eindelik tog die pad vir Sunak reg plavlei nadat hy aanvanklik sý droom om sy volk te lei, sien skipbreuk lei het toe hy ná ‘n tawwe leierstryd binne die Tories oor twee maande teen Truss die aftog moes blaas. Min wetend dat sy kans na Downingstraat 10 weer en gouer sou kom as in sy wildste drome!

Ná Truss se bedanking, was die stryd tussen Sunak en Penny Mordaunt, minister van handel, aan. Aanvanklik het ‘n driestryd gewink met gissinge oor die flambojante rooikop Boris Johnson se terugkeer, maar dit was gou duidelik dat Sunak by die meerderheid partygenote steun geniet. Johnson het toe, soos Mordaunt, wyslik besluit om betyds te onttrek.

Die hoop is nou sterk op Sunak gevestig om die party en land na beter uitsigte te stuur. Dit lig ook die gordyn vir ‘n nuwe era op die politieke verhoog wat geruime tyd ontvou binne ‘n vinnig-veranderde wêreld wat haas volbring word. Hoewel sy agtergrond Britse posh is, is die Oxford-gegradueerde Sunak wat ook aan Stanford studeer het, deel van die moderne era se diaspora en die millenniummens se migrasie wat ook in die politiek vergestalt. Die Britse hoofstad Londen se eerste Moslem-burgemeester, Sadiq Khan, dien tans in sy tweede termyn. Dié 51-jarige kettingdraer met Pakistani-wortels stam ook uit ‘n eerstegeslag-immigrantfamilie.

Met Indië bestem om eersdaags China verby te steek as die land met die meeste mense ter wêreld, is Sunak lid van die langerwordende lys van staatshoofde van Indiese oorsprong. Een uit elke ses mense op Moeder Aarde is van Indiese oorsprong en die wye Indiese diaspora eggo veral hard in Brittanje en die VSA. Sunak is die sesde staatshoof tans met Indiese wortels, wat die Yanks se vise-president Kamala Harris insluit.

Sunak het soos oudpres. Barack Obama van die VSA regstreekse Afrika-wortels en spesifiek bande met Kenia. Obama se pa was ‘n Keniaanse ekonoom. Daarteenoor is Sunak se Punjabi-voorouers vanuit Suidoos-Afrika en is sy pa ook ‘n Keniaanse en sy ma ‘n Tanzaniese boorling.

Sunak, die goue immigrantseun wat met beurse moes studeer, se skatryk vrou was onlangs in die nuus oor omstrede belastingsake. Akshata Murty is die dogter van ‘n stinkryk Indiese sakemagnaat. Die Sunak-egpaar het twee dogters.

Truss sal nou die sleutels van Dowingstraat 10 aan Sunak moet oorhandig. In ‘n onstuimige tyd met die Britte wat steier onder hoë rentekoerse en stygende lewenskoste tesame met ‘n klewende pandemie en ‘n eskalerende oorlog in Oekraïne, moet hy nou die Britte se boot sekuur omkeer en na kalmer waters stuur. En sy party se eens cozy plek in die harte van die volk terugwen.

Leave a Reply