Skip to main content

Marie Meyer

Die borgaansoeke van die drie verdagtes wat verdink word van die moord op die boer Nico Janse van Rensburg op die plaas Derdekraal in die Roedtan-omgewing, is uitgestel na Woensdag, 26 Oktober.

Die saak kon weens beurtkrag nie vandag voortgaan in die landdroshof in Roedtan nie en sal Woensdag in die landdroshof in Mookgophong aangehoor word.

Malasela Mangena (33), Velly Segwale (34) en Lesiba Segwale (44) het in die landdroshof verskyn op ’n klag van moord, twee van poging tot moord, gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Roedtan se strate was van vroegoggend ’n miernes van bedrywighede met al die boere, gemeenskapslede, politici en rolspelers van verskeie organisasies wat deel was van ’n opruk-protesaksie. Die Potgietersrus Distrik Landbou-unie (DLU) wou met dié optog wys die boere is keelvol vir plaasmoorde en -aanvalle.

 Die boere het uit vier verskillende rigtings Roedtan binnegekom in hul bakkies, trokke, trekkers en allerlei plaasimplemente. Baniere is rondgeswaai en teen mure en heinings aangebring.

Die drie verdagtes is aangekeer ná ‘n intensiewe polisie-ondersoek. Janse van Rensburg is doodgeskiet ná ’n struweling met sy aanvallers op sy plaas op Vrydag, 7 Oktober. Sy vriendin, Veronica Grobler, en ’n 15-jarige seun is na bewering met kabelbinders vasgebind.

Die verdagtes het na bewering die dag van die voorval by die plaashuis opgedaag onder die voorwendsel dat hulle melk wil koop. Die seun was glo alleen tuis en is oorrompel en vasgebind. Janse van Rensburg en sy vriendin het kort daarna opgedaag.

Na bewering is Janse van Rensburg met ’n ysterpyp oor die kop geslaan en gedwing om die kluis se sleutels aan sy aanvallers te gee. Hy is toe geskiet voordat sy aanvallers met vuurwapens, selfone,’n skootrekenaar en ander waardevolle items op die vlug geslaan het.

Veronica, wat ook met kabelbinders vasgebind is, en die seun kon eers die volgende dag hulp kry toe plaaswerkers vir diens aangemeld het.

Die polisie het onmiddellik met ’n ondersoek begin en ’n verdagte is buite Polokwane vasgetrek in ’n wit Toyota Corolla waarin vuurwapens en ammunisie gevind is.

Floris Booysen, voorsitter van die DLU, het aan Die Waarheid gesê hy is tevrede met die opkoms en hy glo die boodskap is deeglik deurgegee dat die boere verby keelvol is.

Leave a Reply