Skip to main content

“Ons president is korrup, maar die anti-korrupsie-kruisvaarders is tjoepstil,” het oudpresident Jacob Zuma vandag tydens ‘n striemende aanval op pres. Cyril Ramaphosa gesê.

Tydens ‘n media-inligtingsessie in Sandton het Zuma gesê ons durf nie stilbly as die hoogste politieke owerhede in die land misdade pleeg nie.

“Die sogenaamde burgerlike samelewingsorganisasies is nêrens te sien as dit daarby kom om aanspreeklikheid te eis van Ramaphosa nie. Hy sê daar was dawerende stilte selfs toe hy iemand wat hom ondersoek, geskors het. En die howe verdedig sy gebrek aan aanspreeklikheid.

Hy het ook verwys na die stilte in die media oor die Phala Phala-skandaal. “Dit was beslis nie die geval toe beskuldigings rondgeslinger is oor sekuriteits-opgraderings by my huis nie, ondanks die feit dat dit standaardpraktyk is soos voorgeskryf in die regeringshandboek vir alle voormalige presidente.

“Ek wonder wat die situasie sou wees as ek beskuldig sou word dat ek miljoene dollars in my matras hou,” het hy gespot.

Die oudpresident het gesê as Ramaphosa se verduideliking oor die geld wat in sy meubels gehou is waar is, is hy besig om privaatsake te bedryf terwyl hy die amp van president beklee. “Dit is ongrondwetlik. Diegene wat hom daaroor toejuig, begaan die mees afgryslike misvatting. Dis niks minder as korrupsie nie. Dit is teenstrydig met die aard van sy amp en die grondwet.”

Volgens hom is Suid-Afrika se probleme veels te groot vir ‘n president wat met die linkerhand besigheid doen.

Hy was ook uiters krities oor die huidige ineenstorting van Eskom onder die Ramaphosa-administrasie.

“Ons sleutelinstellings dien nou ‘n globale agenda. Daar is planne om strategiese staatsbates te privatiseer om sleutelfunksies van die staat aan globale belange oor te gee,” het hy gesê.

“Ons was vasbeslote om krag aan elke huis en nedersetting te bring deur Eskom. Eskom is nou in die hande van globale magte om munt uit ons mense se behoefte te slaan,” het hy bygevoeg.

Volgens hom word staatskaping gebruik as verskoning om die aandag af te trek van wat regtig gebeur, onder meer beurtkrag.

“In 2015 het my regering ‘n einde gemaak aan beurtkrag. Dit het tot 2018 geduur. Ons het beurtkrag vir drie jaar gestaak. Beurtkrag het dadelik weer begin na ooreenkomste met onafhanklike kragverskaffers en het nog nie weer opgehou nie.

“Waarom misluk die leierskap om die Eskom-kwessie op te los? Dit is openbare kennis dat van die onafhanklike kragvoorsieners miljoene in ‘n kandidaat by Nasrec in 2017 belê het.

“Gedurende my termyn as president het ons probeer om kernkrag te gebruik om aan die behoeftes te voldoen. Ons het ook na sonkrag gekyk. Ons leef nou in ‘n land waar dit normaal is dat krag twee of drie maal per dag afgesit word. Die SAA is weg. Eskom is in die moeilikheid en ons land aanvaar die onbekwaamheid gelate.

“Wat nou volg, is ons howe, spoorvervoer en water.”

Volgens Zuma word steenkoolkragstasies verwaarloos en opgestel vir ineenstorting. Terwyl ons steenkool na lande uitgevoer word wat ons lenings gee om ons kragstasies toe te maak, gebruik hulle ons steenkool om vir hulle krag op te wek.

Vanoggend se mediasessie was Zuma se eerste openbare verskyning buite sy hofstryd sedert sy vonnis van 15 maande gevangenisstraf vir minagting van die hof onlangs verstryk het, en hy was ook uitgesproke oor die vonnis en die Zondo-kommissie na staatskaping.

Hy sê sy tronkstraf het gekom as deel van ‘n lang veldtog om hom as president te verwyder en te straf omdat hy nie die liefling is van ‘n stelsel wat arm mense onderdruk nie.

“Die grondwethof het nie die mag om mense lukraak tronk toe te stuur nie. Dis ‘n misbruik van die regstelsel,” het Zuma gesê.

Hy het gesê hy sal voortgaan om hom uit te spreek teen ‘n stelsel wat die regte onderdruk van hom en baie ander wat geteiken word.

“As ek tronk toe gestuur moet word daarvoor, dan moet dit so wees. Ek was tronk toe toe ek apartheid beveg het. Ek het toe gesê ek vrees nie die tronk nie. Ek het dit ook gesê vir die grondwethof van ons demokrasie. Maar dit bly ‘n skok dat ‘n demokratiese staat sy eie burger sonder verhoor toesluit.”

Hy meen dit was van vroeg af duidelik dat Zondo nie belang gestel het in die waarheid nie, maar dat hy self betrokke was in die vestiging van die narratief van staatskaping. “Zondo was nie ‘n neutrale regter nie, maar het ‘n verslag geskryf wat die skuld moes bewys van almal wat van staatskaping beskuldig is oor hulle verband met my. Zondo het die toets van sy amp gedruip.”

Zuma sê die staatskapingskommissie was nooit oor die ontbloting van die waarheid nie. “Dit gaan oor ‘n paar ryk families wat die ekonomie van Suid-Afrika beheer. Die kommissie het hom op individue toegespits wat in die media skuldig bevind is.”

Hy het gesê dit is vir hom duidelik die Zondo-kommissie is gestig as platform om transformatiewe elemente in die land te elimineer. Hy het aan Zondo genoem dat die kommissie gebruik is deur leiers van die land om die ware leiers van bevryding te verwyder.”

Hy glo ook sy vonnis van 15 maande tronkstraf is onwettig. “Die wet sê enigiemand wat van minagting skuldig bevind word, sal ‘n boete van 60 pond of tronkstraf van nie meer as ses maande nie of albei kry. Die grondwethof het misluk om aan die wet gehoorsaam te wees. Ek is ‘n ver groter straf gegee as wat die wet voorskryf. Ek is tot ‘n jaar en drie maande gevonnis.”

“Die vonnis is onwettig. Ek verwag duidelikheid oor regters wat fouteer in hulle oordeel.”

Hy het dit ook duidelik gemaak dat sy weiering om voor regter Zondo te verskyn, was nie om aanspreeklikheid te ontduik nie, maar as gevolg van duidelike vooroordeel van die regter wat nie neutral oor die saak was nie.

“Regter Zondo het self deurgaans opmerkings gemaak wat wys hy het reeds besluit ek is skuldig. Ek glo ek was reg om aan te dring dat my getuienis aangehoor word deur iemand neutraal wat my nie vooraf skuldig bevind het nie.”

Hy sê in regter Zondo se ontkenning dat hulle enige vorige bande het, het hy ontken wat hy self in ‘n onderhoud met regterlike kommissie gesê het: dat hy dikwels private vergaderings – soms op sy versoek – met oudpresident Zuma gehad het.

Hy sê regter Zondo se doel was om gierige belange in ons land te steun.

Zuma het verder beklemtoon dat hy die leierskap in die ANC verantwoordelik hou vir korrupsie – nie gewone lede nie.

“Ek sal voortgaan om te waarsku teen valse revolusionêre wat duidelike misdade pleeg te midde van mediapropoganda. Ons is getuies, ons het die dertig silwersikkels self gesien.”

Oudpresident Zuma het genoem dat sy mediese posisie ‘n kommer bly en konstante monitoring verg. Maar hy sal sy laaste jare met vertroue en moed binnegaan. “My teenstanders was vies dat my mediese parool my lewe gered het.”

One Comment

Leave a Reply