Skip to main content

Dirk Lotriet

Oudpresident Jacob Zuma se privaatvervolging van Karyn Maughan, ‘n joernalis van News24, is duidelik ‘n poging om haar en News24 te boelie, meen Adriaan Basson, redakteur van News24.

Prof Lizette Rabe het selfs verder gegaan en die vervolging ‘n aanslag op mediavryheid genoem. Dis ‘n openbare spektakel as deel van sy tipiese Stalingrad-strategie om hofverrigtinge teen hom verder te laat sloer, het sy haar persoonlike opinie as feit aangebied.

Nes prof. Rabe, is ek ook ‘n voorstander van mediavryheid. Ek glo dit is die vierde pilaar van demokrasie en ‘n hoeksteen vir die gladde funksionering van ‘n land. Mediavryheid is nie ‘n bate vir die media nie – dit is ‘n bate vir elke burger van ‘n land.

Maar ek glo ook nie mediavryheid moet ‘n absolute vryheid wees nie. Absolute vryheid sonder kontrole bring misvormings mee. Kommer neem toe oor verkeerde inligting, datamanipulasie, fopnuus en populisme – alles probleme wat in ‘n ongereguleerde omgewing ‘n krisis kan word.

Regulering is absoluut noodsaaklik. Soos die meeste joernaliste in die land, is ek ‘n voorstander van selfregulering, maar daar moet steeds wette wees wat bepaalde elemente binne die konteks van mediavryheid beheer.

“Maughan het net haar werk gedoen. Om haar te dreig met vervolging, is ‘n aanslag op mediavryheid in die land. Maughan sal voortgaan om verslag te doen oor Zuma en ons ondersteun haar ten volle,” het Basson onlangs gesê.

Wat natuurlik baie edel is. Probleem is net, sy word nie daarvan aangekla dat sy oor Zuma verslag gedoen het nie. Sy word daarvan aangekla dat Billy Downer, die staatsadvokaat in die Zuma-korrupsiesaak, dokumente met vertroulike inligting onwettig aan haar gelek het en sy dit gebruik het.

Walter Niedinger, ‘n lid van die Zuma-regspan, sê: “Die wet is baie duidelik dat niemand sonder skriftelike toestemming van die nasionale direkteur van vervolging enige inligting aan enige persoon mag uitgee in ‘n strafsaak nie, tensy dit deel is van sy of haar werk is. Om daardie inligting aan ‘n joernalis te gee, is sekerlik nie deel van sy werk as aanklaer nie. Ons het bewyse dat die inligting by die joernalis uitgekom het en ons het bewyse van skakeling tussen Downer en die joernalis.”

Die vervolging van Downer en Maughan gaan dus oor die breek van die wet, en selfs ‘n groot voorstander van mediavryheid moet toegee dat mediavryheid nie die vryheid om die wet te breek insluit nie.

Juis dit is een van die groot probleme met selfregulering van die media – iets wat ek aktief voorstaan. Ons, as joernaliste, is soms geneig om onsself regte toe te eien wat ons nie toekom nie.

Nuusverbruikers dink feitlik nooit daaraan nie, maar nuus kom nie rou en ongelouter na ons toe nie.

In elke nuuskantoor in die land word die rou nuus verwerk in terme van watter onderwerpe gekies word; hoe inligting gefiltreer word; wat beklemtoon word en wat geïgnoreer word. Daardie geskuur en geskaaf gee nuus ‘n spesifieke karakter waaraan ons almal gewoond geraak het.

Onderwerpe word fyn gekies. Inhoudsbestuurders by koerante of internetnuusdienste sê nie soseer vir jou wat om te dink nie, maar eerder waaroor om te dink.

Daar is egter ‘n element wat ‘n invloed het op watter keuses in nuuskantore gemaak word – sirkulasie. Koerante verkoop eenvoudig nie so goed soos ‘n handvol jare gelede nie. Daar is verskeie redes, maar een van die grootstes is dat koerante soos Rapport nou moet meeding met dienste soos IOL of News24. Waar Rapport in die verlede al 500 000 per naweek verkoop het, het lesers in die tweede kwartaal van hierdie jaar volgens die ABC gemiddeld net 65 000 koerante elke Sondag gekoop.

Een manier waarop koerantredakteurs hierdie sirkulasie-ineenstorting teenwerk, is om die ou beproefde resep van sensasiejoernalistiek aan te wend. Die fokus word op die drie S’e geplaas – seks, skandaal en sport, en siedaar! Lesers stroom kafee toe om hulle geld uit te haal om die “nuus” te lees.

Die kriterium vir die keuse van nuusonderwerpe is nie om te kyk na wat nuttig vir die samelewing is om te weet nie, maar eerder nuus wat sensasie kan skep en die dalende sirkulasie kan teenwerk.

Slaan enige van die groot Afrikaanse koerante oop, en jy sal sien misdaad, seks, geldskandale, bizarre of ekstremistiese opinies of gedrag en enigiets wat met bekendes te doen het, beslaan ‘n groot ruimte binne ons massamedia.

Misdaadverslae neem byvoorbeeld die vorm aan van bondige gruwelverhale, wat eindelose skurke en slagoffers uit ons burgers skep eerder as om die maatskaplike probleme te bespreek wat tot sulke voorvalle lei. Dis asof werkloosheid, ongelykheid, swak onderwys en gebrek aan morele sensitiwiteit in die samelewing niks met sulke misdade te doen het nie.

Enige goeie storie het nie net ‘n held nodig nie. Daar moet ‘n teenwig vir die heldedade wees, en die Afrikaanse media is uitstekend daarmee om skurke te skep as konkurente vir die goeie ouens. Kyk na die formidabele skurke wat ons danksy Suid-Afrikaanse koerante as booswigte aanvaar het: Die All Blacks, die Aussie-skrumskakel Nic Whyte, Donald Trump, Jacob Zuma en Louis Liebenberg.

Suid-Afrikaanse koerante het besluit Amerikaners moet vir Hillary Clinton en Joe Biden stem, want hulle verstaan Amerikaanse politiek beter as Amerikaanse kiesers en basta.

Zuma is die booswig, want die Afrikaanse koerante steun vir Cyril. Daarom mag ons nie in diepte na Phala Phala en ander skandale kyk nie. Die feit dat korrupsie onverklaarbaar toegeneem het en beurtkrag nuwe hoogtes bereik het nadat Zuma die presidentskap afstand gedoen het, word gerieflikheidshalwe verswyg.

Toe ‘n groep redakteurs van Independent Media besluit het om hulle daarvoor te beywer dat pres. Cyril Ramaphosa uit sy amp verwyder moet word, het die Groot Afrikaanse Mediagroep histeries begin kwetter: die media mag nie ‘n voorkeurkandidaat hê nie. Behalwe as dit Ramaphosa is.

Kyk na Liebenberg. Sy liefdadigheidswerk is omvangryk. Hy is ‘n aktiewe taalstryder, veg om die minerale rykdom van die land in die gewone mense se hande te plaas, hy help kleuterskole en armes, voer daagliks duisende gesinne, betaal om strate aan die Oos-Rand skoon te maak en skep werksgeleenthede.

Hy het sowat 150 000 hektaar myngrond en meer as twintig mynlisensies in Namakwaland bekom, maar die koerante is tjoepstil. Netnou lyk dit of hy ‘n eerbare sakeman is, en dit verkoop nie koerante nie.

Tog het die koerante op ons winkelrakke die idee geskep dat hy ‘n swendelaar is wat ‘n piramideskema bedryf omdat Sars sy besigheid se bankrekening met R100 miljoen gevries is.

Toe die hof beslis dat sy besigheidsmodel bo verdenking is en die rekening ontvries word, was die koerante stil. Sulke nuus skep nie rampokkers in lesers se gemoed nie.

Kyk net wat basuin die koerante vandeesweek uit: ‘R89 miljoen uitgedobbel’, ondanks die feit dat Liebenberg se prokureur mooi verduidelik het dat dit glad nie die geval is nie. Maar ons laat tog nie toe dat die feite in die pad van ‘n goeie storie staan nie, want ons is joernaliste en ons is vry. Wette geld nie vir ons nie…

Zuma se privaatvervolging van Maughan en Downer gaan nie oor mediavryheid nie, ongeag hoe graag ons as joernaliste wil hê dit moet so wees.

Dit het ook niks te doen met ‘n sogenaamde Stalingrad-strategie nie. Net vandeesweek nog het regter Piet Koen in Pietermaritzburg die moontlikheid dat hy hom aan die korrupsiesaak teen Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales kan onttrek, oop gelaat. Ek meen trouens hy gaan hom moet onttrek as die privaatvervolging teen Downer suksesvol is.

As Downer skuldig bevind word – en die Zuma-regspan lyk vir my vol moed – sal dit myns insiens die hele aard van die wapenkorrupsiesaak verander.

Skielik sal daar ‘n ander aanklaer wees, ‘n ander regter…

Ek het al die empatie in die wêreld met Maughan. Soos sy, is ek ‘n joernalis. Soos sy, verjaar ek op die 16de Julie.

Persoonlik meen ek – en, soos my reg op mediavryheid waarborg die grondwet ook my reg op ‘n mening, al is dit soms ‘n ongegronde mening – dat sy skotvry daarvan gaan afkom. Ek het mooi geluister na wat dr. Llewelyn Curlewis oor die saak gesê het. Ek dink die redes vir haar ontslag sal in die proses gevind word, nie in die meriete van die saak nie. En veral nie omdat mediavryheid enige van ons die reg gee om wette te breek nie.

Mediavryheid is ‘n kosbare kleinood. Maar dit is nie ‘n absolute vryheid nie. Dit mag nooit wees nie.

3 Comments

Leave a Reply