Skip to main content

Gert Basson

’n Vrou van 50 is in ’n kritieke toestand in die hospitaal nadat sy Woensdagmiddag in St. Lucia in KwaZulu-Natal deur ’n seekoei aangeval is.

Volgens Shawn Herbst, Netcare-911 woordvoerder, het die vrou, haar dogter en diė se kêrel die aand in die swembad geswem toe beurtkrag ingeskop het en hulle besluit het om terug te loop na hulle woonplek.

Die drie is toe deur ’n volwasse koei en haar kalf gekonfronteer.

“Hulle het begin hardloop toe hulle die seekoei opgemerk het. Die seekoei het die vrou ingehaal en sy is gebyt en vertrap. Die dogter en haar kêrel het dit reggekry om te ontsnap,” sê Herbst.

Die NSRI-stasie in St. Lucia is ingeroep om die vrou by te staan.

Volgens Herbst moes Netcare-911 se lugambulans ook ingetrek word weens die aard van haar beserings en die afstand na die naaste mediese hulp.

Hy sê die vrou is steeds in ’n kritieke toestand.

Dit kom ná ’n afsonderlike voorval, ook in KZN se noorde, waarin ’n 16 maande oue kleuter dood is nadat sy en haar ma deur ’n kameelperd vertrap is.

Diė voorval het ook Woensdagmiddag by die Kuleni-plaas in Hluhluwe plaasgevind.

Die ma is per lugambulans na die naaste hospitaal geneem, waar sy steeds in ’n kritieke toestand is.

Leave a Reply