Skip to main content

 

Gert Basson

Dit is niks nuuts nie. Ons almal ken iemand of het al van iemand gelees wat deur ’n glyjakkels ingedoen is. Daar is self Netflix-dokumentêre flieks oor hierdie drommels wat mense laat glo hulle het liefde gevind net om uit derduisende rand geswendel te word.

Volgens die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) het hulle die laaste tyd verskeie klagtes ontvang van veral vroue wat meen hulle is deur glyjakkelse ingedoen.

“Volgens die inligting wat ons ontvang, word vroue wat geskei is, weduwees of vroue wat onlangs geld geërf het, deur hierdie mense geteiken. Die mans gee voor dat hulle opsoek is na ’n goeie vrou wat hulle in ’n baie kort tydperk mee wil trou.

“Kort daarna kom hulle vorendag met besigheidsvoorstelle waarin die vrou glo baie geld kan maak,” sê kapt. Matimba Maluleke.

Volgens hom word die vroue geforseer om dan hulle bates te verkoop en al hulle geld in die misdadigers se bankrekeninge te deponeer om hierdie sogenaamde besigheid van die been af te kry.

“Nadat hulle die geld gedeponeer het, verdwyn die persoon. Hulle hoor nooit weer iets van hom nie en die slagoffers sit gewoonlik met geweldig baie skuld. Baie van hierdie misdadigers is buitelanders,” maan hy.

Daar is glo ook gevalle waar die glyjakkelse die vroue nader en voorgee dat hulle profete is wat direkte kontak met die slagoffers se voorvaders het.

“Hulle sal die vroue alles vertel van hulle grootwordjare en hulle huidige omstandighede. Die slagoffers word só oorreed om al hulle geld, insluitend hulle pensioengeld, oor te betaal aan die sogenaamde profeet.”

Maluleke raai vroue aan om weg te bly van hierdie glyjakkelse en het ’n paar gevaartekens waarvoor jy moet uitkyk om nie die volgende slagoffer te word nie:

– Hulle klink gewoonlik baie liefdevol en verantwoordelik.

– Hulle sal gewoonlik met een of ander besigheidsvoortel vorendag kom.

– Hulle wil nie ’n foto van hulself neem nie.

– Hulle het verskonings om jou in persoon te ontmoet.

– Hulle sal nie hul identiteitsdokumente vir jou wys nie.

Leave a Reply