Skip to main content

 

Marie Meyer

‘n Reuse-protesaksie van boere in Limpopo word Maandagoggend op Roedtan gehou ná die brutale moord op ‘n jong boer in die omgewing sowat twee weke gelede.

Die boere van Roedtan en omliggende dorpe beplan om Maandagoggend met trekkers, bakkies, stropers en verskeie ander plaasimplemente in groot getalle op te ruk na Roedtan vir ‘n protesakie teen plaasmoode en -aanvalle. Die boere wil met dié protesoptog ’n duidelike en harde boodskap aan die regering stuur dat hulle verby breekpunt is oor die toenemende plaasmoorde en -aanvalle in die land.

Nicky Janse van Rensburg (35) is op Vrydagmiddag, 7 Oktober, omstreeks 17:00 op die plaas Derdekraal in die Roedtan-omgewing koelbloedig doodgeskiet. Sy vriendin, Veronica Grobler, en ’n tienerseun is kort voor die moord in die plaashuis aangehou. Die voorval het glo gebeur kort nadat hulle van die dorp teruggekeer het.

Na bewering was Janse van Rensburg in ’n struweling met sy aanvallers nadat hulle die kluis se sleutels geëis het. Hy is toe geskiet. Sy aanvallers het in ’n wit Toyota Corolla met vuurwapens en selfone wat hulle in die huis gevat het, op die vlug geslaan.

Die lede van die Potgietersrus se Distrik Landbou-unie (DLU) het kort ná die aanval saamgekom om die voorval te bepreek. Hulle het hul misnoë uitgespreek oor die onvermoë van die regering om doelbewuste geweld teen boere te stop.

Hendrik Botha, ondervoorsitter van die Potgietersrus DLU en voorsitter van die Roedtan-Suid Boerevereniging, sê die boere is keelvol.

Die reuse-optog op Maandag, 24 Oktober is na die landdoshof in Roedtan waar die drie verdagtes in verband met die moord op Janse van Rensburg sal verskyn.

Botha nooi in ’n stemboodskap wat vandeesweek wyd op sosiale media gedeel is, die boere en gemeenskap van Roedtan en die omgewing uit om in groot getalle vir die hofsaak op te ruk.

Die beplande opmars is deel van die DLU se Verwoerd-bewusmakingsveldtog rondom plaasmoorde.

“Om vra almal wat wil demonstreer en wys hoe ongelukkig hulle is oor die situasie om byeen te kom vanuit die vier rigtings wat Roedtan binnekom. Ons vra dat jy ’n swart kruis op jou voertuig sal aanbring, en bypassende vlae en baniere sal bring solank dit die organiseerders se standpunt respekteer.

“Kom in bakkies, trokke, trekkers, stropers of enige plaasimplemente. Ons wil die boodskap oordra dat die boere keelvol is oor wat gebeur. Ons wil ’n duidelike boodskap aan die land se president en regering stuur sodat gesien kan word dat boere nie meer so kan aangaan soos wat ons huidiglik beleef nie.”

Botha sê geen wangedrag, rassisme of polities georiënteerde plakkate en vlae sal toegelaat word nie en vra dat die padreëls ook gehoorsaam word.

Hy sê voorts: “Die gemeenskap moet saamstaan sodat die boodskap wat ons wil uitstuur sal weergalm tot in die verste hoeke van die Aarde. Dit het tyd geword dat iets gedoen word aan hierdie probleem.”

Botha verwys na die filosoof, Edmund Burke, se woorde: “The only thing necessary for the triumph of evil is for good men to do nothing.” Dit is tyd vir aksie, sluit hy sy boodskap af.

Leave a Reply