Skip to main content

Eie korrespondent

Die 11-dae lange werkstaking by Transnet deur lede van twee vakverbonde het die ekonomie meer as R70 biljoen uit die sak gejaag, lui ’n verrekeningsverslag wat uitgestuur is deur die Suid-Afrikaanse Vereeniging van Vragversenders (Saaff).

Die onkoste wat verskepers en hul agente die hoof moes bied tydens die staking, het alleen sowat R7 biljoen verloop.

Tydens dieselfde periode is uitvoergoedere ter waarde van R65.3 biljoen óf vertraag, óf glad nie uitgevoer deur die land se kommersiële hawens wat tot ’n stilstand gekom het nie.

In teenstelling hiermee beloop die algehele bedrag waartoe ooreengekom is vir salarisverhogings sowat R1.5 biljoen.

Met ander woorde – was die kool die sous werd?

Volgens Dr Juanita Maree, hoof uitvoerende beampte van Saaff, beslis nie.

Sy sê as mens in ag neem dat die algehele bedrag vir salarisverhogings ’n relatief geringe R1.5 biljoen is, is dit nodig dat alle partye die gevolge van aksies in heroënskou neem.

“Ons mag nie toelaat dat hierdie gebeurtenisse in die pad staan van ekonomiese groei nie.

“Suid-Afrikaners, veral dié wat die minste verdien, verdien om ’n beter lewe te ly. Daarom is dit belangrik dat almal saamwerk en die belange van Suid-Afrika op die hart dra, ten alle tye.”

Noudat die staking verby is, beroep Saaff hom onder meer op die regering om seker te maak dat gebeure soos die afgelope staking deur die United National Transport Union en die South African Transport and Allied Workers Union nie weer herhaal word nie.

Die vereeniging sê meer volwassenheid, uit alle geledere, word benodig om arbeidsake tydelik en effektief te besleg voor die laaste uitweg – om oor te gaan tot staking – geïmplimenteer word.

Die oorhoofse onkostes wat verreken is sluit ook nie korttermyn onkostes in soos verliese wat gely gaan word terwyl hawens stadig maar seker weer tot vol kapasiteit terugkeer, nie.

Volgens Saaff gaan dit die res van die jaar neem voor Suid-Afrika se hawens weer behoorlik op spoed kom iewers in 2023.

Intussen het die vereeniging ’n lys van vereistes saamgestel om toe te sien dat die impak op handel, veral deur die land se hawens, ten minste versag of ten beste geneutraliseer word as werkstakings en onvoorsiene gebeure die versending van vrag moontlik kan ontwrig.

Dit sluit in gebeurlikheidsplanne om op terug te val as opeenhoping by die hawens plaasvind.

Volgens Saaff behels dit ’n multi-dimensionele benadering wat alle tipes transport insluit, naamlik pad- en spoorvervoer om hawens te ontruim as uitvoere nie kan geskied nie.

Die vereeniging sê dis verder belangrik dat die land se hawens so suksesvol as moontlik bestuur word, en dat niemand toegelaat moet word om te kan munt slaan uit ontwrigting van die verskaffingsketting nie.

“Ons moet toesien dat ons groei en wasdom bereik as ’n nasie,” sê dr Maree.

“Ons kan nie toelaat dat ideologieë en self-belang die aksies bepaal van organisies tot die nadeel van Suid-Afrika nie.”

Intussen probeer ’n verskeidenheid van ander organisasies om vas te stel watse impak die staking op hul winsmarge en arbeidsmag gaan hê.

Bloubessieproduseerders, tans besig met hul jaareind-uitvoerseisoen wat in dieselfde week as die staking by Transnet begin het, het onlangs aangekondig dat 12 000 werknemers se poste in die gedrang is.

Leave a Reply