Skip to main content

 

George April

Die oud-polisieman van Vredenburg wat na bewering verantwoordelik was vir die skietdood van ‘n polisieman en twee pasiënte, het vanoggend vlugtig in die hof in Hopefield verskyn.

Diė tragedie het op Saterdag, 7 Mei vanjaar in die New Somerset Hospitaal in Groenpunt  plaasgevind toe Jean-Paul Malgas (32) glo die drie mense geskiet het.

Dis steeds nie seker of Malgas ten tye van die voorval self ‘n pasiënt in die hospitaal was nie.

Sy eerste slagoffer was konstabel Donay Phillips (32). Hy het eers Phillips se dienspistool afgevat, en hom toe daarmee doodgeskiet. Phillips het ‘n gevangene hospitaal toe geneem, waar Malgas hom oorrompel het.

Malgas het toe sy treurtog voortgesit en twee pasiënte doodgeskiet. Eerste was Geret Carolus van Atlantis (48), en daarna ‘n onbekende 43-jarige man van Piketberg wat hy met verskeie skote in die kop gedood het.

Malgas was twee dae voor die skietvoorval self in ‘n onderonsie betrokke toe hy in Hopefield deur ‘n polisieman geskiet is. Dit nadat hy na bewering ‘n vroulike polisielid in die bors met ‘n mes gesteek het.

‘n Kollega van diė polisielid het Malgas toe in die been geskiet. Hy is per ambulans na die Vredenburg Hospitaal geneem, waarna hy per ambulans na die New Somerset Hospitaal oorgeplaas was.

Waarom hy nie onder polisiebewaking was nie, bly ‘n ope vraag.

Die polisie het wel bevestig dat Malgas aangekla is vir die moord op die drie mense, die besit van ‘n vuurwapen en ammunisie sonder lisensie en vir roof. Malgas word intussen in die Pollsmoor Gevangenis aangehou.

Die oud-polisieman se volgende verskyning is op 24 November in die hof in Hopefield.

  • Intussen verskyn nog twee gewese polisiemanne van Hopefield Maandag, 24 Oktober in Vredenburg se streekhof. 

Nigel Sifile en Theron Phatisiwe is in Maart uit die polisiediens ontslaan ná die seldood van Reginald Linnert van Hopefield. Die saak is al twee keer in die streekhof uitgestel, omdat Sifile nie opgedaag het nie. Met die laaste hofdatum, is ‘n lasbrief vir sy arrestasie uitgereik weens minagting van die hof.

Volgens Anna Linnert, tannie van die oorledene, skep die uitstel van die hofsaak onnodige stres vir die familie. “Ons wil hê die saak moet klaarmaak, sodat ons berusting kan vind.

“Daar is familielede wat elke keer verniet uit die Kaap moet ry vir die saak, maar dan word dit weer uitgestel.”

Leave a Reply