Skip to main content

Die voormalige uitvoerende hoof van die sukkelende kragvoorsiener Eskom moet nou hoes ná ‘n jarelange regstryd om die onreëlmatige miljoene wat aan hom betaal is, te behou.

Volgens die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria skuld Brian Molefe Eskom R9,9 miljoen wat hy as deel van sy pensioen in 2016 ontvang het. Molefe is in 2019 beveel om dié reuse bedrag, plus rente, aan die pensioenfonds terug te betaal.

Molefe was sedertdien in ‘n regstryd met Eskom gewikkel om die geld te behou, maar ‘n nuwe uitspraak in Julie het beveel dat hy wel die geld moet terugbetaal.

Die kragreus kan nou die bevel afdwing deur die geld van Molefe se pensioen te verhaal.

Molefe is ook in ‘n ander regstryd gewikkel. Dit hou verband met die aankope van 1 064 lokomotiewe teen ‘n koste van R54 miljard toe hy by Transnet gewerk het.

Hy het verlede week in die hof verskyn hiervoor en staan ​​tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery. Die saak is tot 30 November uitgestel.

Leave a Reply