Skip to main content

Die reis deur SD Fourie

Mariza, ’n bekende historiese romanskrywer, het haar woorde verloor nadat ’n brand haar huis byna in puin gelê het. Daarna sterf haar man en nou, ’n jaar later, haar Jack Russell wat 16 jaar haar metgesel was.

Sy ontmoet Joubert Hofmeyr, en hulle vertrek op ’n reis na die Kgalagadi: Sy om haar woorde terug te kry en hy om meer vir sy navorsing oor sy voorgeslag se skades en skandes by haar uit te vind.

Die twee besef dat hul verlede ’n komplekse verweefdheid met mekaar het.

Mariza en Joubert verskil soms, is ’n klankbord vir mekaar en ryg mekaar se stories aanmekaar, maar besef dat die verlede soms jou toekoms bepaal.

Die goue draad deur die storie van vyf geslagte vroue is dat hul probleme universeel is. Dat die kollektiewe geheue van die vroue mekaar van geslag tot geslag beïnvloed.

Die reis self is nie so eenvoudig nie. Dit is die medereisigers wat alles die moeite werd maak. Selfs die voorgeslagte oor eeue heen.

SD Fourie woon by die see, het ses kinders, van wie drie aangetroud is, en vyf kleinkinders. Hulle hou nie van die skrywer nie, want sy steel hul ma en ouma.

SD het reeds drie romans, verskeie suksesvolle dramas en kortverhale geskryf. Die lanternswaaier (2011; in 2014 in Nederland uitgegee) en Die dooies leef (2014) is albei oor RSG voorgelees en albei intussen deur Protea Boekhuis heruitgegee. Noorman is in 2019 deur Penguin uitgegee. Sy is medeskrywer en titelhouer van die bundel hoorbeeld Droomskip en ander radiodramas (2009, Nasou Via Afrika) gerig op die opvoedkundige mark. Die wisselende seisoene, omgewing en lewende karakters is haar passie en vind neerslag in haar skryfwerk.

Leave a Reply