Skip to main content

Sonnette Lombaard
Hy is die groot man waaroor die land nou gons – die joviale diamantreus met die klein hartjie wat maklik en openlik huil. En die ewige student wat bly leer uit sy foute, maar ook ‘n onverskrokke brugbouer is wat hom lewenslank beywer vir vrede onder alle Suid-Afrikaners en veral om die land se rykdom meer eweredig te verdeel.
Daarvan getuig die daaglikse dank van sy volksgenote aan wie hy miljarde rande uitbetaal. Sy sakeryk groei snel en daarmee saam kom die spreekwoordelike dorings …
Hy sal nooit gaan lê nie en aanhou veg vir sy volk en die armes, bevestig die kleurryke diamantmagnaat Louis Liebenberg (58). Hy het gereageer op durende mediaberigte oor hom en sy maatskappye. Die Namakwaland-boorling het ‘n mediakonferensie by die hoofkantoor van Forever Diamonds and Gold in Kemptonpark gehou nadat ‘n bohaai rondom hom ná die omstrede berigte ontstaan het.
Volgens Liebenberg, wat in die regte studeer het en aanstons politiek toe mik, teiken die liberale media en sy vyande hom deur vals bewerings oor hom en sy sakeryk tans kwistig te versprei. Hy beplan om sy vyande, insluitende Veronica van Dyk, DA-LP in die Noord-Kaap, se leuens oor hom en sy sakebedrywighede in howe bloot te lê.

Liebenberg is sedert 2004 in die diamantbedryf betrokke en sy maatskappye is nou weer sterk op koers na vroeëre terugslae. “Die feit dat 40 000 vennote landwyd daagliks met my maatskappye besigheid doen, bewys dat landgenote my sakevernuf vertrou. In ruil daarvoor kon ek die afgelope twee jaar meer as R3 miljard aan hulle uitbetaal.”
Dis Liebenberg, wat erken dat hy ‘n hoërisiko-sakeryk bedryf, se erns om die land se mineraalskatte meer eweredig te verdeel. “Die rykes en banke haat my hiervoor maar dis skandelik dat 1% van die bevolking ons land se rykdomme besit en daaruit verryk word terwyl die res swaar kry.” Liebenberg kon sedert laas jaar sy sakeryk aansienlik uitbrei met die aankoop van verskeie nuwe diamantmyne in Namakwaland.
Hy is nog oorstelp oor ‘n hofuitspraak ná ‘n 18 maande stryd dat hy niė ‘n ponsie- of piramide-skema bedryf nie. Die aansoek is met koste van die hand gewys. Die staat het appèl aangeteken teen dié bevinding.

Voorts het Liebenberg, ‘n lewendige en diep gelowige, sy steun aan oudpres. Jacob Zuma verdedig en herbevestig dat hy die oudstaatshoof by sy KZN-tuiste Nkandla besoek het nadat hy ‘n visioen van God gekry het om dit te doen. Hy help met Zuma se regkoste veral in sy privaatvervolgingsaak teen die staatsadvokaat Billy Downer en die joernalis Karyn Maughan. Dit het gelei tot ‘n totale aanslag nou teen hom vanuit sekere mediakringe. Liebenberg glo aan die oudstaatshoof se onskuld en dat hy onregverdig moet boet vir pres. Cyril Ramaphosa en sy kliek se wandade wat ons land en sy mense verarm het. Liebenberg meen Ramaphosa-hulle het ons aan die Weste uitverkoop en nooit Zuma nie.
Liebenberg beplan om in die volgende algemene verkiesing te staan vir ‘n plek in die parlement en het reeds in die laaste plaaslike bestuursverkiesing met sy party in Namakwaland sukses behaal. Hy beoog om hom in die nasionale verkiesing in 2024 beskikbaar te stel en beskryf homself binne die land se huidige politieke spektrum as die “wit Julius Malema”.
As opgeleide sanger was hy as ‘n Puk eens lid van die bekende Alabama Studentegeselskap in Potchefstroom waartydens sy solovertoning ook op ‘n LP vrygestel is.
Die welsprekende sakeman erken dat hy in die verlede soms dom en verkeerde besluite in sy loopbaan en persoonlike lewe gemaak het wat hom duur te staan kom. Nogtans getuig sy lewensverhaal dat opgee geen opsie vir hom is nie, en dat hy sy drome altyd sal bly najaag. Hy was eens ‘n boemelaar in Benoni nadat hy als verloor het en was ook in die tronk op verkragtings-aanklagte waar hy wreed verkrag is. Hy is na ‘n uitgerekte en bittere regstryd onskuldig bevind. Hy het daarna weer opgestaan en van vooraf begin en gee nou sy sakebrein opnuut vlerke.
Met ‘n blinknuwe ring aan sy trouvinger nadat hy Saterdag op ‘n spogmakietie in Pretoria vir sy Dezzi ja gesê het, het Liebenberg, wat voorheen twee keer voor die kansel was en twee dogters  het, ook verwys na die gegons rondom sy private lewe. Hy is van plan om regstappe hieroor te neem waartydens die volle waarheid sal uitkom.

2 Comments

Leave a Reply